|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 190
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die priester van Apollo doen navraag na die Heer
190 Toe Ek dit gesê het, laat die priester van Apollo via `n bode aan die herbergier meedeel, dat hy met nog twee ander heidense priesters sou kom kyk hoe die God van die Judeërs, wat volgens gerugte onder sy dak verblyf, daar uitsien.
[2] Ons sê aan die bode dat dit `n openbare herberg was en dat dit iedereen vrystaan om hier in te kom.
[3] Hierdie Apollopriester en sy twee ondergeskikte priesters het via die personeel van die herbergier gehoor dat daar `n God van die Judeërs by die herbergier is, wat vele ongehoorde wonders doen, wat nog nooit verrig is nie.
[4] Die bode gaan onmiddellik na buite en deel die drie heidense priesters mee, dat hulle vry na binne kan gaan as hulle wil.
[5] Daarop aarsel die priesters nie lank nie en kom dadelik na ons toe in die gastekamer.
[6] Die Apollopriester wend hom dadelik tot die opperstadsregter en sê: Deur my god Apollo verligte opperstadsregter, sê my wie van hierdie vele Judeërs wat aan die tafel sit, die wonderdoende God van die Judeërs is, omdat ook ek voor Hom sal buig en Hom eer sal betoon; want ons priesters van die gode van Egipte, Griekeland en Rome weet ook hoe om die gode van ander volkere te eer, na die mate wat hulle dit verdien!”
[7] Die opperstadsregter kyk My ietwat vraend aan, of hy hierdie ingebeelde opperpriester van Apollo antwoord moes gee of nie.
[8] Ek gee hom egter `n wenk dat hy hom eers `n volle beker wyn moes aanbied en sê dat dit water uit die waterkelder van die herbergier was.
[9] Die opperstadsregter begryp My wenk en sê aan die Apollopriester, wat merkwaardig onnosel daar uitsien: “Hier langs ons staan nog `n klein, leë tafel; gaan sit daar! En hier is ook drie bekers, gevul met water uit die waterkelder van die herbergier, sodat julle eers julle dors kan les met die beste water van ons hele stad!”
[10] Onmiddellik word daar drie volle bekers voor die drie neergesit, en die Apollopriester, wat weliswaar geen spesiale vriend van water was nie, proe dit tog en ontdek dat dit geen water nie, maar die beste Ciprus wyn was, wat alleen aan die tafels van die keiser gedrink word. Hy drink sy beker dan ook meteens tot die laaste druppel leeg, en sy twee onderpriesters volg sy voorbeeld.
[11] Toe die Apollopriester sy beker leeggedrink het, sê hy vol verbasing: “Wat, moet dit water uit die kelder van die herbergier wees? Dit is een van die beste wyne van die eiland Ciprus! Waar het `n waterkelder ooit sulke water gehad? Dit is nie moontlik nie, julle hou my vir die gek!”
[12] Die opperstadsregter sê: “Laat jou dan maar deur die herbergier self na sy waterput bring en skep self water daaruit en drink dit; kom dan weer terug en sê of `n mens jou vir die gek gehou het! Maar jy sal die herbergier tog nie as so onsinnig en onnosel beskou dat hy vir ontsettend baie geld enkele honderde sakke van die beste wyn uit Ciprus laat kom het en dit toe uit die sakke in sy waterkelder gegooi het!”
[13] Hierop staan die Apollopriester onmiddellik op, en die herbergier vergesel hom saam met sy twee onderpriesters na die waterkelder; hy gee die opperpriester die putemmer in die hand en sê: “Put nou self die water en proe dit dan!”
[14] Dit doen die Apollopriester dadelik, en hy ontdek dat dit geen water nie, maar voortreflike wyn was. Sy twee onderpriesters doen en ontdek dieselfde; hulle raai die herbergier aan om sulke kosbare water nie so in die waterkelder te laat nie, maar baie wynsakke daarmee te vul en dit te bewaar vir vername gaste, wat hom graag aansienlik daarvoor sou betaal.
[15] Die herbergier sê: “Daarvoor het ek van die Een wat die water in my waterput in die kosbaarste wyn verander het, geen bevel of bevoegdheid ontvang nie, en daarom moet dit bly soos dit is!”
[16] Daarteen kon die priesters niks inbring nie, en hulle begeef hulle weer saam met die herbergier na ons toe in die gastekamer.
[17] Toe hulle weer hul vroeëre plekke ingeneem het, sê die Apollopriester met `n sekere patos aan die opperstadsregter: “Heer, so-iets het ons van al ons gode, van Jupiter tot die kleinste bronnimf, nog nooit gehoor nie; ons het al met vele honderde vooraanstaande magiërs te make gehad en die kan veel wonderbaarlike dinge tot stand bring - maar om water in wyn te verander het nog by geeneen van hulle opgekom nie! Ek vra u dus om my in die taamlik talryke geselskap die Ene aan te wys, aan wie ek my grootste hoogagting en eerbied kan betuig!”
[18] Hierop sê die opperstadsregter met My toestemming: "Die Een wat regs van my sit is die Heer van alle heerlikheid, die Heer van alle meesters en die God van alle gode!”
[19] Toe die Apollopriester dit hoor, sê hy: “Dan sou hy selfs die vir alle gode ondeurgrondelike fatum wees, waarvan hulle afhanklik is, netsoos die son, die maan en alle sterre en die hele aarde met alles wat hul daarop en daarin bevind. En daar staan, meen ek, ook in `n ou Egiptiese boek geskryf dat hierdie ondeurgrondelike Godheid - die noodlot naamlik - Hom eenmaal aan die gode en ook aan die mense van hierdie aarde van naderby sal openbaar.
[20] Vandag het ek soos gewoonlik, by die opkoms van die son, vir alle mense my oggendgroet aan die god Apollo gebring, maar daarby was ek buitengewoon verras toe ek twee sonne namekaar sien opkom. Maar ek was nog meer verras, toe ek bo en onder die tweede son heel duidelik geskrewe woorde waarneem, wat ek egter nie kon lees nie, omdat dit met Hebreeuse letters geskryf was, en derhalwe die betekenis daarvan nog minder kon begryp.
[21] Maar ek het wel by myself gedink dat so-iets `n baie buitengewone betekenis moes hê. En toe ek later oral verneem of, behalwe ek, nog iemand anders hierdie besondere sonsopkoms gade geslaan het, kom ek daarby ook by die mense van hierdie herberg, en hierdie weet my te vertel dat die God van die Judeërs, begelei deur verskeie dienare hier gister teen die aand werklik Sy intrek geneem het en nog hier verblyf het. As U, o Heer, Majesteit en God, die Ene is, vergeef my dan dat ook ek - hoewel ek `n heidense priester is - U hier my volle hoogagting en eerbied betuig, en U goddelike toestemming vra om vir U in ons stad op die hoogste punt `n tempel te mag bou om U daarin te alle tye baie hoog te vereer!”
|
|
|
|
|