Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 195

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die alomteenwoordigheid van die Heer en Sy almag oor die wese van die siel en die proses van sien

195 Nou bedank almal My baie innig vir hierdie les.

[2] Die opperstadsregter sê: “Nou eers sien ek geheel en al in dat U werklik die Heer en Skepper van die hele materiële en geestelike wêreld is! Ek wou U nog wel vra hoe U ook op afstand deur die mag van U wil kan werk, terwyl U nou tog persoonlik net by ons aanwesig is.”

[3] Ek sê: “Die liggaam van My, wat netsoos die van julle uit vlees en bloed bestaan en eintlik dit aan My is wat mens die Seun van God noem, is nou inderdaad hier by julle en nie tegelykertyd êrens anders nie; maar die van My uitgaande Krag van die Gees van God vervul die hele oneindigheid en werk ooreenkomstig die fundamentele wil in My, en wel op die oomblik wanneer deur My die “Daar is” uitgespreek word - wat Ek ewenwel nie hardop hoef uit te spreek nie, maar alleen in My diepste innerlike. En so is alles wat julle sien in die grond van die saak niks anders as My vaste, onveranderlike wil nie.

[4] Hierdie eienskap, waarvoor die gees van jou vader jou al heel betroubare mededelings gedoen het, het ook alle suiwer geeste - en heel in die besonder My engele, wat steeds gereedstaan om My te dien - in `n meer volmaakte graad as die minder suiwer en nog onvolmaakte geeste.

[5] Dit kan jy nou natuurlik nog nie heeltemal begryp en insien nie, omdat die wêreld jou siel nog in sy greep hou; maar as jou siel sal vryword deur My Gees in haar, sal hierdie sigbare wêreld vir jou vergaan, dit wil sê: as jy dit wil, sal jy haar nog altyd kan sien, maar die materie, wat nou vir jou oral hard is, en die daarin wonende kragte sal jou op geen enkele manier meer enige weerstand kan bied nie. En jy sal vanuit jou eie innerlike self `n wêreld kan skep wat vir jou, so lank jou wil dit in stand wil hou, `n netso volmaakte ondergrond sal wees om in te woon as wat hierdie aarde nou vir jou liggaam `n ondergrond vorm om in te woon en besig te wees.

[6] Ek kan jou `n klein beeldjie toon, en as jy dit op die korrekte wyse beskou, word dit wat Ek so pas aan jou gesê het, begrypliker vir jou. Jy het byvoorbeeld in die nag `n heel lewendige droom gehad. In hierdie droom is jy volkome by jou bewussyn en is jy steeds volkome daarvan bewus dat net jy dié een is wat droom, en niemand anders in jou plek nie. Jy het egter nog nooit `n droom gehad waarin jy geen omgewing gesien het waar jy jou bevind het nie, asook mense met wie jy gereeld `n gesprek voer nie, en wel steeds ooreenkomstig jou insig en manier van dink.

[7] Waar is die omgewing, waar jy jou in jou droom bevind het, en waar en wie was die mense met wie jy gespreek of iets anders te doen gehad het? Kyk, nêrens anders as in jouself nie!

[8] As jou siel haar tydens die slaap van jou liggaam vir `n kort tyd grotendeels vry voel van die bande met die liggaam, kan sy nie anders as om dit wat daar diep in haar verborge lê, as te ware buite haarself waar te neem in die vorm waarin dit in haar lê; wat dit ookal is, die siel sien dit in volle werklikheid vir haar en is in haar omgewing dan net soseer tuis as in wakende toestand op hierdie aarde.

[9] Dat sy in `n droom ook mense kan ontmoet, en wel enersyds lewende mense en andersyds mense wat al gesterf het, kom deurdat die siel van elke mens in `n sekere sin `n uiters kleinskalige afbeelding in haar dra van alle mense wat ooit op aarde geleef het, nou lewe en nog sal lewe, netsoos van die hele geesteswêreld, presies soos `n spieël uiterlike beelde in hom opneem, sonder dat die beelde werklikhede is. Natuurlik is `n spieël maar `n baie swak vergelyking, omdat die op sigself dood is en daarom net dooie vorm van teenoor hom staande dinge kan weergee.

[10] Die siel is egter `n lewende spieël; daarom kan sy die beelde wat in haar aanwesig is, tot lewe bring en daarmee omgaan en handel asof hulle reële werklikhede is; daarby het sy die onskatbare voordeel dat sy hulle via die beelde wat in haarself tot lewe gekom het, sonder enige moeite met die werklike beelde in verbinding kan stel.

[11] So lank die siel ewenwel nog in hierdie wêreld lewe, bly daardie vermoë in haar nog onvolmaak en weet sy ten slotte self nie wat sy daarmee moet doen nie; maar wanneer sy eenmaal geheel en al van hierdie wêreld bevry is, sal sy steeds in `n hoër graad van haarself bewus word wat sy met daardie vermoë moet doen.

[12] In daardie opsig lyk sy soos `n jong erfgenaam, wat baie goedere van sy vader ontvang het en aanvanklik ook nie weet hoe die goedere daar uitsien en waarvoor hy dit moet gebruik nie. Maar mettertyd sal hy al sy goedere leer ken en ook die kennis verkry hoe hulle gebruik moet word en wat hy moet doen om hulle almal ten nut te maak.

[13] Op dieselfde manier sal dit met elke, ook maar enigsins meer volmaakte siel gaan, naamlik dat sy langsamerhand steeds meer bewus word van wat daar diep in haar verborge lê en hoe sy dit moet gebruik.

[14] Met jou liggaamlike oë sien jy die gebiede en mense van hierdie aarde, netsoos alle ander dooie en lewende objekte, asof hulle werklik buite jouself is; maar Ek sê vir jou dat jy al die dinge wat jy sien net in jouself sien. Jou siel het net te make met die afbeeldings van die uiterlike werklikhede wat buite haar is, en nie met die werklikhede self nie. Net jou tassin het met die werklikhede te make.

[15] Jy sien in die verte `n gebergte; maar jy sien nie die gebergte self nie, maar alleen `n afbeelding daarvan deur middel van jou liggaamlike oog, wat so ingerig is dat dit die groot beelde van die werklikheid - of dinge, as jy dit liewer wil - op `n sterk verkleinde skaal in haar kan opneem en dit deur `n buitengewoon kunstige inrigting van die liggaam onmiddellik die siel voor oë kan stel om daarna te kyk.

[16] Die liggaam self sien niks, en as die liggaam self iets sou kan sien, sou sy oog nie so `n kunstige inrigting nodig gehad het nie. Dit is dus net daar terwille van die siel en nie terwille van die liggaam self nie. Want as jy die werklikhede sou kan aanskou in hul werklike grootte, soos hulle uit Myself buite My geplaas is, sou jy met `n klip, nouliks so groot soos `n vuis, in duisend jaar nog nie klaarkry nie; want net op die oppervlak daarvan sou jy al sulke wonderbaarlike, besondere dinge aanskou, dat jy vir vele jare nie daarvan sou kan skei nie.

[17] In die toekoms sal die mense `n soort instrument vir die oog ontdek, waardeur hulle selfs die kleinste dinge sterk vergroot sal sien en hul daardeur nie genoeg kan verbaas oor My mag en wysheid nie; maar tog sal hulle dit nooit sover bring dat hulle `n nog so klein voorwerp in die werklike grootte sien waarin dit deur My tot bestaan gebring is nie.

[18] Die kleinste diertjies, wat nouliks met die oog te sien is, sal hulle met dergelike instrumente - weliswaar in so `n reusagtige grootte kan aanskou soos jy nou met jou oog `n op sigself werklik groot dier kan sien; maar al sou hulle selfs die kleinste diertjie in die reusagtige grootte van `n olifant waarneem, sou so `n vergroting tog nagenoeg niks wees vergeleke by die werklike, ware grootte van so `n diertjie nie, soos dit deur My in die wêreld geplaas is.

[19] Ek het jou dit vertel sodat jy makliker kan insien dat die siel niks buite haarself, maar alles alleen maar in haarself te siene kry, en wel in die afmeting wat sy die maklikste kan besigtig.

[20] As die siel eenmaal met haar gees verenig sal wees, sal sy, as dit haar vreugde gee, alles op ware grootte kan bekyk; maar Ek sê vir jou ook dat selfs die mees volmaakte engele in die hemel `n behoorlike skroom daarvoor het om die dinge wat deur My geskape is in hulle ware grootte te bekyk en daarby My ewige en oneindige grootsheid te sien in alles wat hulle kan sien, voel, dink en begryp. - My beste vriend, het jy iets begryp van wat Ek jou gesê het?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205