Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 178

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Op die berg Nebo

178 Omdat hy My al wakker aantref, vra hy My dadelik met alle liefde en agting wat Ek vir die oggend alles nodig sou hê, en of Ek welriekende water vir die was nodig het.

[2] Ek sê: “Bespaar jou die moeite, want as Ek My wil was, kan Ek oral voldoende vars water kry! Maar vlak by hierdie stad is `n berg, wat beroemd is uit die tyd van die profeet Moses, wat Ek nog voor sonsopkoms wil klim. In die Oud-Hebreeuse taal heet hy “Nebo”, maar julle noem hom “mons Mosis”*. Maak die oggendmaal dus nie te vroeg klaar nie, want Ek wil ongeveer drie uur daar bly!” *(Latyn vir: “berg van Moses”)

[3] Die herbergier sê: “O Majesteit en Heer, alles sal noukeurig volgens U wil gebeur; maar staan ook my en my oudste seun toe om saam met U hierdie, veral vir die Judeërs gedenkwaardige berg te besoek, want hy lê nie heeltemal ver hiervandaan nie; binne `n kort halfuur klim ons met gemak heeltemal tot bo-op die top.”

[4] Dit staan Ek die herbergier toe, en hy gaan weg om instruksies te gee hoe sy vrou en die oorblywende kinders vir die ete moes sorg.

[5] Toe hy terugkom, was die leerlinge ook wakker, en ook die opperstadsregter en die twee fariseërs, Dismas en Barnabas staan al voor die deur van die herberg en wil na binne gaan; maar Ek staan ook al by die deur om met My, die herbergier en sy seun die berg van Moses te klim.

[6] Die opperstadsregter en die twee genoemde fariseërs vra My allervriendelik of hulle My daarby mag vergesel, en ons neem onmiddellik `n aanvang met ons reis en bevind ons binne `n klein halfuur later al bo-op die berg, waar die opperstadsregter vir sy genoeë banke laat neersit het om te sit. Die banke bestaan vir die grootste deel weliswaar uit basaltblokke; maar hulle was heel geskik vir die doel waarvoor hulle gebruik word. Bowendien het hy die plato van hierdie berg, wat taamlik ruim was, beplant met roosstruike en ander geurige boompies, en dit was dus heel aangenaam om jou voor sonsopkoms op hierdie heuwel te bevind, wat vanaf ons kant van die stad maklik te klim was, en om die opgang van die son daar af te wag.

[7] Vanaf hierdie kant van die stad gesien, verhef die berg hom nouliks meer as `n honderd el,* maar na die Jordaandal toe het hy `n baie steil helling van iets meer as tweeduisend el, en sodoende lyk hy vanaf die Jordaandal soos `n egte berg; slegs vanuit die ooste was dit net `n heuwel, soos daar langs die Haurangebied wel meer van sulke heuwels is. *(Een el = 50 tot 80 cm.),

[8] Ons bevind ons nou op die heuwel of wel berg van Moses en kyk uit oor die onafsienbare vlakte van die Eufraat en die woestyn wat, sover die oog reik, volkome onbewolk was.

[9] Ook na die suide was dit helder en mens kon die, uit die Bybel bekende berge sien, soos die Hor, waar Moses, ondersteun deur Aäron en sy seun Eleazar, vir die oorwinning van die Israeliete op die vyandelike Amalekiete moes bid. Wanneer hy sy hande laat sak het, was die Amalekiete aan die wennende hand; wanneer hy sy hande weer omhoog gehef het, het die Israeliete gewen. Verder kan mens die berg Hur sien, waar Aäron gesterf het, en heeltemal in die verte op die agtergrond was ook die toppe van die hoë Sinai en sy naaste buurman die Horeb te sien.

[10] Na die weste was dit egter baie newelig; slegs hier en daar het die hoë toppe van die Libanon bo die newel uitgesteek, en ook van die berge in die noorde sien mens net die top van die Hermon, waar die Jordaan ontspring.

[11] In die vlakte van die Jordaandal was deur die louter newel niks te ontdek nie; dit vind die opperstadsregter baie jammer, waarna Ek teen hom opmerk dat hy slegs `n paar uur geduld moes hê. Die son sou wel die newels verdryf en hierdie streek van die Jordaan ook vrymaak van die bose dampe. “Maar ons sal nou nie na hierdie omgewing nie, maar na die van die ooste kyk.”

[12] Nou sê die fariseër Dismas aan My: “O Majesteit en Heer, is hierdie berg, waarop ons nou staan, dieselfde as die waar die groot profeet Moses, voor die oë van diegene wat hom vergesel het, met agterlating van sy liggaam soos `n vlam van lig na die hemel opgevaar en verdwyn het, waarna, soos die Skrif sê, aan die een kant die aartsengel MigaEl en aan die ander kant Satan as owerste van die duiwels verskyn het, wat drie dae lank met die aartsengel oor die liggaam van Moses gestry en tot oormaat van ramp ook nog teen die aartsengel gewen het en met die dooie liggaam van Moses verdwyn het?

[13] Waarvoor dit eintlik goed was, swyg ons hele Judese wysheid tot nou toe daaroor, en selfs die baie groot profete kon ons geen opheldering daaroor gee nie. Ons kabbaliste het die hele kwessie derhalwe as apokrief verklaar en beskou dit as `n fabel; maar menige ou Arabiese stamme verklaar dit as waar. - Wat het U, o Heer, daaroor te sê?”

[14] Nou sê die opperstadsregter in My plek: “Dit is tog gladnie belangrik nie, as die gees van Moses tog nog onder julle lewe en gered is? Die liggaam is tog maar `n omhulsel van die menslike gees, en dit is nie so belangrik of Satan of `n ander gees dit na hom toe getrek het nie. As ek in die plek van die aartsengel was, sou ek Satan dit al eerder met genoeë gelaat het, as hy dan so `n honger had na die lyk van Moses!”

[15] Daarop sê Ek aan die fariseërs: “Die opperstadsregter het julle `n baie goeie antwoord gegee; want Ek, die Heer van al die lewe, het Moses in plaas van sy sondige vlees al lankal `n ander liggaam verskaf, en Satan sou geen mag oor die liggaam van Moses gehad het as Moses nooit vroeër in sy vlees `n sonde sou begaan het nie. Maar omdat hy ook gesondig het wat sy vlees betref, hoewel sy siel en sy gees suiwer uit die hemele afgestam het, wou Satan besit neem van wat by Moses van hom was. Daarby wen hy egter nie net niks nie, maar verloor hy, wat sy mag betref, bykans alles, en vanaf daardie tydstip mog hy aan geen enkele sterflike mens op die hele aarde meer verskyn nie, wat sy invloed buitengewoon veel skade berokken het; want vanaf die tyd het baie heidene na die leer van Moses oorgegaan, en die groot orakel in Dodona, `n baie belangrike werk van Satan vir die verleiding van die mense van hierdie aarde, was vernietig en mog daarna nooit weer opnuut opgerig word nie. Ook die veel jonger orakel in Delphi het spoedig na die val van die stad Troje verval en was later nooit meer heeltemal opgerig nie. - Maar laat ons onsself nou nie verder met die dinge besig hou nie; want hulle het geen waarde vir die innerlike van die mens nie!

[16] Dit is die beste om God, die een en enig ware, te ken, Hom bo alles lief te hê en sy naaste soos homself.

[17] Nou sal die son dadelik opkom, en dan sal julle veel dinge sien wat julle sal verstom!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205