Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 108

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die belofte en vermaning van die Heer

108 Die heuwel, waar ons onsself die oggend bevind het, lê aan die oostekant van die stad; die gedeelte waar ons nou na die oggendmaal heen gaan, lê aan die westekant buite die stad, en was nog `n hoër heuwel. Hierdie heuwel was voorheen ook heeltemal kaal; maar vanoggend was hierdie heuwel ook met vrugbare aarde bedek en ryklik voorsien van allerlei gras en welriekende kruie.

[2] Toe ons by hierdie heuwel kom, verwonder almal hulle, en die herbergier en die Romeinse priester sê: “Kyk nou tog eens hoe ver die goddelike krag en mag in al sy volheid strek! Dat die ooste van die stad deur U magswoord, o Heer, groen geword het, het ons vanoggend gesien; maar dat U, o Heer, ook nog ons ruwer en kaler weste met U mag bedink het, daarvoor aan U nou nogmaals ons dank!

[3] Die gedeelte buite ons stad, van waaruit mens `n mooi en wye uitsig na die weste en suide het, word deur ons burgers van hierdie stad, vanweë die baie onverkwiklike kaalheid daarvan, maar baie selde besoek, en in die somer, wat hier baie warm is, heeltemal nooit nie; want die swart gesteentes word deur die strale van die son steeds so erg verhit, dat mens absoluut nie daarop kan loop nie.

[4] Nou is deur U oorgrote goedheid en barmhartigheid, o Heer, ook die dorre en woeste gedeelte buite ons stad, wat origens baie aansienlik is, in vrugbare grond verander, en ons kuddes, wat nou baie klein is, wat ons alleen in die laer geleë dale in stand kon hou, sal hier in hierdie hoër geleë streke ruim voldoende voer kan vind en hulle ook weldra aansienlik kan vermeerder, waardeur ons in staat sal wees om die armes en ook die vreemdelinge meer weldade te bewys as wat tot nou toe moontlik was.

[5] O Heer en Majesteit van ewigheid sonder begin of einde! Nou is die hele wye omgewing van hierdie stad deur U barmhartigheid in `n ware Elysium* verander, en die aanskouing daarvan skenk ons groot vreugde; maar één ding wil ons U nog vir hierdie streek vra. *(geseënde oord van ewige geluksaligheid – Paradys.)

[6] Kyk, hierdie hele streek is baie arm aan water en het baie weinig goeie waterbronne! Maar vir U is alles moontlik! Sou U hierdie streek nie ook van verskillende goeie, suiwer waterbronne wil voorsien nie?”

[7] Ek sê: “Ook dit sal julle op die regte tyd ontvang; Ek sal netnou op hierdie heuwel vir jou, ons herbergier, omdat dit aan jou behoort, `n baie ryk waterbron laat ontstaan, wat hierdie hele stad voldoende van water sal kan voorsien. Wat hierdie hele wye omgewing egter betref, daar sal in die winter, wat nie lank op hom sal laat wag nie, vanself bronne ontstaan wat hierdie streek van water sal voorsien.

[8] Sorg egter daarvoor dat julle nie opdroog in die geloof in My en in liefde vir My en julle naaste, en droog word in julle harte nie; want as dit by julle of by julle nakomelinge sou gebeur, dan sou ook hierdie bronne opdroog en sou hierdie hele wye omgewing nog droër word as wat dit tot nou toe was.

[9] Toe hierdie streek in die tyd van Joshua en die Rigters aan die Israeliete gegee was, was dit net so vrugbaar soos wat dit nou is, en dit het ook so onder die eerste konings van Israel gebly; toe nyd, afguns, vervolging en oorlog egter later onder die stamme van Israel uitbreek en die Judeërs hulle van My afkeer en My steeds meer begin te vergeet, laat Ek hierdie streek deur hewige onweer en groot storms in die wye omtrek verwoes, en alle vlyt van die mense wat hulle hier gevestig het, was nie meer in staat om hierdie velde vrugbaar te maak nie.

[10] Nou het Ek hierdie streek weer vrugbaar gemaak, en daar heel bo op hierdie heuwel sien julle ook al `n ryk bron ontspring, en julle vlyt sal weet om die water daarvan te vergaar en na die regte plekke te lei; maar bly in die liefde wat julle My beloof het en word nie afvallig in die geloof in My nie, dan sal Ek ook met My seëninge by julle bly!

[11] Wat julle die Vader in My Naam sal vra, sal julle ook gegee word, en waar ook maar twee of drie van julle in My Naam vol geloof bymekaar sal kom, sal Ek in die gees van My Liefde, Mag en Krag in julle midde wees. Wat julle dan vol vertroue vra, sal Ek julle ook gee, as dit wat julle vra, bevorderlik is vir die heil van julle siel.

[12] As julle egter om ydele dinge van hierdie wêreld sou vra, dan sal dit julle nie gegee word nie, soos wat julle ook `n kind geen skerp mes in die hande sou gee om daarmee te speel nie, ook al sou hy julle hoe smeek, aangesien julle goed weet dat julle kinders hulleself maar al te gou en seker met die skerp mes `n letsel sou toebring.

[13] Julle is in geestelike dinge ook nog min of meer onervare, en Ek alleen weet die allerbeste wat julle nodig het om die ewige lewe te bereik. Soek dus veral My ryk en sy geregtigheid, dan sal al die res julle daarby gegee word; want Ek weet altyd en ewig waaraan julle behoefte het.

[14] Maar as julle My in die toekoms die een of ander wil vra, vra My dan iets wat geregverdig, goed en waar is!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205