|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 233
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Nog meer oordele van die herbergier oor die Jode
233 Die herbergier gaan voor die huis staan om te sien of die karavaan daar aankom, en hy hoef werklik nie lank te wag nie of daar kom die karavaan aan, ryend op kamele en esels. Ook die knegte van die herbergier was byderhand om die kamele en esels te versorg, asook die bagasie waarmee hulle belaai was.
[2] Die mense gaan die huis binne, en die herbergier bring hulle dadelik na die tweede kamer en sê aan hulle: “Die bediendes staan al gereed; wat julle wens, sal julle ook gegee word!”
[3] Daarna begeef die herbergier hom weer dadelik na ons toe en sê aan My: “O my wonderbaarlike, beste vriend! Met hierdie gaste, wat nou aangekom het, sal ek my nie soveel bemoei nie; want ek het dadelik gesien dat dit kooplui uit Jerusalem is, waarin drie Leviete hulle in die geselskap bevind, wat ook handel dryf.
[4] Ek sê: “Dit kon Ek jou wel vooraf vertel het; maar dit sou jy nie aangenaam gevind het nie. Maar noudat jy weet met wie jy te make het, sal jy ook goed weet hoe jy met hierdie mense moet omgaan om dit so goed moontlik met hulle te kan vind.”
[5] Die herbergier sê: “Hulle kan ook wel die visse wat ek nog in voorraad het, opeet, dit is gladnie sleg nie, omdat hulle dadelik na die vangs gebraai en goed gesout is; verder het hulle brood en wyn, en daarmee sal hulle dan moet genoeë neem. Ek besit ook nog wel gerookte skaap- en bokvleis; as hulle dit wil hê, kan ook iets daarvan vir hulle voorberei word, hoewel die Jode geen gerookte vleis eet nie, in besonder wanneer hulle onder mekaar is - maar as hulle na ons heidene toe kom en regtig honger het, eet hulle maar alles wat ons hulle voorsit.”
[6] Ek sê: “Dit sal hulle ook nou doen, en jy het goed daaraan gedoen om hulle in `n ander kamer te sit!”
[7] Die herbergier gaan nou na die kombuis en sê aan sy vrou wat hulle die nuut aangekome gaste moes gee.
[8] Die vrou het haar visse egter al op `n rooster bo die kole gelê en was druk besig om hulle voor te berei.
[9] Een van die gaste kom nou na ons kamer, om met die herbergier te oorleg of hy geen beter wyn gehad het nie.
[10] Die herbergier sê: “Hier in die omgewing van die Dooie See groei geen beter nie, en dus moet julle met hierdie genoeë neem.”
[11] Die gas merk op dat Jerigo ook in die omgewing van die Dooie See lê, en dat hulle daar tog `n voortreflike wyn te drinke gekry het.
[12] Die herbergier sê: “Dié dorp is nie Jerigo nie, en ons het ook nie die geld daarvoor om ons kelders met die voortreflike Ciprus wyn te vul nie! Daarom moet ons wel genoeë neem met wat ons klein stukkie land ons as oes skenk!”
[13] Toe die gas insien dat hy niks met die herbergier sal bereik nie, gaan hy weer na sy metgeselle in sy gastekamer.
[14] Toe hy hom weer by sy metgeselle bevind, sê die herbergier aan My: “Ek het wel beter wyn, en dit spyt my nou dat ek U en U metgeselle om dieselfde redes weerhou het, as waarom ek nou hierdie pas aangekome gaste die wyn weerhou het. Maar dit spreek tog vanself - want ek het julle ook as Jode beskou; en dat ek absoluut geen vriend van die Jode kan wees nie, daarvan het ek julle die redes uiteengesit. Maar ek het, wat julle betref, al baie gou gesien dat julle wel na die uiterlike tot die geslag van die Jode behoort, maar julle innerlike skyn ver verhef te wees bo die huidige Judeërdom.
[15] Ag, die ou Judeërs ten tyde van hul Rigters was nog heel ander mense as hierdie nou! Ek is ook ietwat tuis in die oudheid van die Judeërs; maar die Jode van teenswoordig is slegter as sleg! Hulle is enkel belus op aardse skatte en aardse aansien, en laat daarby die God van Abraham, Isak en Jakob saam met alle profete - soos mens pleeg te sê - vir wat hulle is; maar ek is van mening dat nie een van die besonder hoë Jerusalemmers nog in `n God of in `n profeet glo nie. Ek behoort weliswaar ook nie tot die mense wat spesiaal in een of ander godheid glo nie, maar ek het altyd `n teregte hoogagting gehad vir die waarheid van die wyses van Egipte en Griekeland, omdat ek eers deur die waarheid mens geword het.
[16] Ek het my weliswaar af en toe ook in julle profete verdiep, maar hulle daarna weer tersyde gelê, omdat hulle vir my te onbegryplik was; want die Oud-Hebreeus, en veral die skrif daarvan, beheers ek minder goed as die Grieks, waarin ek gebore is. Hierdie Hebreeuse werke is nog nie in my moedertaal vertaal nie, maar alleen enkele brokstukke in die Romeinse taal, en dit is dus verstaanbaar dat ek gladnie so goed tuis is in die ou Judese wysheid nie.
[17] Net één ding het my opgeval - vir sover ek dit begryp het - en dit is, dat die Jode op `n nuwe koning hoop, wat met groot mag en krag sal kom en vir die Jode `n groot, magtige en onoorwinlike ryk sal vestig. Maar ek is van mening dat hierdie koning, waarop die Jode hoop, nog baie lank op hom sal laat wag, en dat hulle hul die Romeinse oorheersing nog aardig lank sal moet laat welgeval.
[18] Dit sou ook ewig jammer wees as daar êrens ver uit Asië `n wyse en magtige held sou opstaan om die Judese gepeupel van die Romeinse oorheersing te bevry. Ek weet weliswaar nie of ek gelyk het of nie - maar my hoër insig, wat ek aan die Griekse wyses te danke het, asook my taamlik helder verstand sê my dat ek `n korrekte oordeel oor dié volk gevel het!
[19] Beste vriend, U is onmiskenbaar wyser as ek en sal my hopelik nie heeltemal ongelyk gee nie; want soos ek al eerder gemerk het, is dié volk heeltemal daartoe geneig om elke leier wat daaroor heers, uiteindelik van die troon te stoot en te stenig! En daarom het ek U ook daarop gewys dat U egter nie na Jerusalem moet gaan en U met U wonderbaarlike wysheid kenbaar moet maak nie; want die volk in Jerusalem kan niemand gebruik wat duidelik wyser is as daardie hoogmoedige volk self nie.”
|
|
|
|
|