Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 85

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die heidense priesters verdedig hulle gedrag in die stormnag

85 Terwyl hulle vol blydskap met mekaar oor hierdie leerrede van My spreek, kom daar twee van die vernaamste heidense priesters ons herberg binne om die kommandant te begroet, oor wie se aanwesigheid hulle van die armer mense verneem het, wat hulle in die oggend om ons heuwel versamel het; maar hulle kom vernaamlik na ons herberg om die man in Galilese kleding self nader te leer ken, want hulle het by monde van die armes gehoor dat die magtige elemente op die gryse oggend aan sy woord en wil gehoorsaam was.

[2] Toe hulle (die heidense priesters) die eetsaal binnekom, maak hulle dadelik `n diep buiging voor die kommandant en sê: “Vergeef ons, hoë gebieder in die naam van die groot en magtige keiser, deur die almag van die gode en hulle vernaamste dienare onder die mense, wat hulle deur hulle onsigbare werksame wil uitverkies en aangestel het! As U ook vir ons `n nuwe gebod vanuit die groot keiser - en godestad Rome het, wees so genadig om ons dit bekend te maak op die manier en die tydstip, waarop U dit die mees geskikste ag, sodat ons ons daarvolgens kan rig!”

[3] Die kommandant sê: “Hierdie keer het ek geen nuwe gebod nie, nóg vir julle nóg vir die volk; want ons wette is vasgestel en tot nou toe het daar geen nuwes bygekom nie. Maar daar het my iets oor julle ter ore gekom wat my gemoed nie bly stem nie.

[4] Waarom bedrieg en belieg julle die volk en wil julle daardeur offers afpers vir julle eie liggaamlike welsyn, omdat julle voorgee dat dit alleen aan julle te danke sou wees, dat die vertoornde gode vannag die stad en die hele omgewing nie tot `n woesteny gemaak het nie, en dat die newels en nog onheilspellende oggend plotseling in `n heldere dag verander is? Sulke dinge verkondig julle baie brutaal aan die volk, maar dat julle tydens die storm en die aardbewing tog as eerstes uit julle tempels en wonings gesien vlug het en in die oop lug beskerming gaan soek het! Word die geloof by die volk daardeur opgerig - of vernietig?

[5] As die volk by so `n geleentheid by die priesters, wat hulleself tog steeds as troue dienare en vriende van die gode laat eer en roem en hulle die dapperste en moedigste sou moet wees, niks anders as die grootste angs, vrees en `n volkome gebrek aan vertroue en geloof vind - hoe moet hulle, as die gevaar verby is, nog iets glo van die woorde van sulke priesters - soos wat julle hulle, volgens wat mense sê, al herhaalde kere dit laat ken het - terwyl die volk uit ervaring maar al te goed weet dat julle self nog geen vonkie geloof en vertroue in `n hoëre goddelike mag besit nie? - hoe kan sulke priesters daarna voor die volk gaan staan en hulle op `n growwe en brutale manier gaan voorlieg?”

[6] Daarop sê een van die twee heidense priesters: “Vergeef my, hoë gebieder, maar op die terrein van ons het U geen volkome ware oordeel gevel nie. Dit is inderdaad waar dat `n priester by baie gevaarlike geleenthede teenoor die weifelende volk steeds die grootste moed en `n buitengewone vaste vertroue op uiteindelike hulp van die hoë gode aan die dag moet lê om die moed in te boesem en in hulle gemoed geloof en `n vaste vertroue te wek; maar by buitengewone gevaarlike geleenthede moet ook die priester aan die volk wys dat hy die gode vrees, as hulle hulle toorn deur die geweldige raas van die elemente aan die mense openbaar.

[7] `n Priester is weliswaar `n middelaar tussen die gode en die mense, maar hy is geen meester soos wat die onsterflike gode is en dit sal hy nooit wees nie; want ook `n priester moet sterwe, net soos elke mens, en dus moet hy ook die gode vrees.

[8] Solank die gode die mense maar net deur bliksem, donder, harde winde, geweldige reënbuie, hael, sneeu en hewige koue op `n ongebruiklike tyd, waarin dit die vrugte van die aarde skaad, duidelik maak dat hulle bestaan en almagtig is, so kan `n priester nog wel met groter moed voor die angstige geworde volk gaan staan, hulle troos en versterk en die geloof en vertroue tot lewe wek en in stand hou; maar dalk gryp die gode met hulle mag na die grondves van die aarde, skud dit heen en weer en dreig om alles onderstebo te keer - en dan het ook die geloof van `n priester die reg om saam met die bodem van die aarde te wankel.

[9] Hy kan by homself natuurlik wel deur gebede en passende geloftes die gode makker trag te stem, maar daarby tewens laat blyk dat ook hy maar `n swak mens is en die gode altyd moet vrees.

[10] Kyk, hoë gebieder, omdat hierdie dinge so is, het ons hierdie nag van ware verskrikking egter nie verkeerd daaraan gedoen om inderdaad ons geregverdigde vrees vir die almag van die gode aan die volk laat blyk nie! Maar aangesien die vertoornde gode hulle deur ons priesters weer makker laat stem het, vanweë die aan hulle gedane beloftes, is dit nou tyd om die volk daarvan in kennis te stel wat dit saam met ons moet doen om die beloftes, wat ons priesters getrou aan die gode gedoen het, sonder terughoudendheid of strafbare versuim ook geheel en al na te kom; want anders sou daar by `n toekomstige geleentheid, waarby die gode hulle nog meer vertoornd sou kan betoon, nouliks meer op enige versagting daarvan gehoop kan word. Want die gode het slegs sewe keer geduld met die vernaamste swakhede van die mense; by die agste keer vind mense waarskynlik geen toegewendheid en geduld meer by hulle nie.

[11] En omdat ons dit nou op indringende wyse aan die volk bekend maak, handel ons vas en seker goed en waar ten aansien van die gode en van die mense wat nog enige geloof en `n goeie wil besit; en daar kan nie gesê word dat ons die volk in sy geloof en vertroue in die gode daarmee swakker maak nie.

[12] Ek glo dat ek met hierdie kort uiteensetting ons handelswyse voor U, hoë gebieder, meer as voldoende geregverdig het. Ek het gesê!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205