Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 123

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die geloof en die vertroue van die herbergier

123 (Die herbergier:) “Toe die oue hierdie onthullings aan ons gemaak het, vra ek `n keer vir hom: “Vriend, ons Grieke, wat by julle Judeërs as goddelose heidene aangeskryf staan, het nie veel erg aan ons gode nie, en het ons reeds in Tirus in die godsdiens van die Judeërs laat inwy, en hou ook soveel moontlik die wette van Moses, met as enigste uitsondering die ietwat lastige besnydenis, waarin ons werklik nie veel egte heil vir die mense sien nie!”

[2] Die oue sê daarop, dat die besnydenis vir die gebore Judeërs alleen van waarde was, wanneer hulle hulleself presies aan God se gebooie hou. Vir die heidene was dit volgens hom voldoende voor God, as hulle afstand gedoen het van hulle afgode, sonder twyfel in die enig ware God sou glo, Sy tien gebooie hou, Hom bo alles liefhê en hulle medemens soos hulleself; God sou van die heidene geen ander offers verlang nie, maar net die ware liefde in hulle hart.

[3] Toe ek en nog enkele van my bure die werklik baie wyse leer van die oue gehoor het, besluit ons om na geloof en daad geheel en al Judeërs te word, maar vir die wêreld Grieke te bly, om geen onderdane te word van die uiters selfsugtige, heerssugtige en onbarmhartige opperpriesters nie, wat hul oneindig veel verbeel, deur te dink dat hulle diegene is wat hulle teenoor die Judeërs beweer om te wees - maar as jy hulle in die regte lig sien, blyk maar al te duidelik dat juis hulle diegene is wat God se gebooie deur hulle handelinge reëlreg met die voete vertrap.

[4] En so sal jy, wat self `n wyse Judeër is, ons Grieke seker geen ongelyk gee dat ons is soos wat ek jou vir nou uiteengesit het nie; julle hoef werklik nie bang te wees vir ons Grieke nie, wat nou weliswaar arm is - want ons is ook Judeërs!”

[5] Ek sê: “Dat julle wat jul geloof en julle dade betref, Judeërs is, dit wis Ek, en Ek het ook na julle toe gekom om julle egte troos te bring en julle geloof nog meer te versterk.

[6] Maar omdat julle al geruime tyd in die een, enig ware God van die Judeërs glo, Hom loof, eer en prys en ook volgens Sy gebooie leef en handel, sal God julle huishouding sekerlik al verskillende kere duidelik sigbaar geseën het en julle geloof daardeur sekerlik beloon het?”

[7] Die herbergier sê: “Luister, beste, wyse Vriend, ondanks ons vaste geloof is daar van enige reeds van ver sigbare seëninge by ons weliswaar nog nie in die besonder sprake gewees nie; maar dit maak ook nie saak nie, en ons geloof in Hom het nie daardeur swakker geword nie. Maar ons het ook nie sonder seëninge gebly nie; want ons het, al was dit hoe knap, tog altyd die nodige gehad en het nooit besonder merkbaar honger en dors hoef te gely het nie, nie naak hoef rond te loop of sonder woning gewees nie.

[8] Ons klein kudde bly gesond en voorsien ons voldoende van melk en kaas, en ons klein tuine, wat ons natuurlik wel heel ywerig versorg, bring vir ons geringe behoefte meer as voldoende seëninge van God voort, en ons het nog geen enkele jaar `n mislukte oes gehad nie.

[9] Dat die af en toe verbytrekkende storms ook ons nie heeltemal ontsien nie, laat ons natuurlik dink; maar ons het tog nie daaroor gebrom nie, want ons het gedink: “God het ons geloof, ons liefde en trou en ons geduld opnuut aan `n klein beproewing onderwerp en sal ons deur die storm veroorsaakte skade deur `n ander seëning vergoed”; dit was dan ook altyd die geval, en ook ons tuine bloei, weliswaar deur ons vlyt, weer opnuut op en lewer ons wat ons nodig het.

[10] Ek moet ook nog daaraan toevoeg dat hierdie streek slegs hoogs selde deur buitengewoon hewige onweer besoek word; en as dit af en toe losbars, veral op die hoogvlakte, dan merk ons daar in ons dorp minder van as heeltemal bo-op die hoogvlakte, omdat die dorp in `n laer gedeelte van ons hoogland lê, soos julle kan sien.

[11] En so is ons steeds tevrede met die seëninge van ons liewe Heer en God, en die tevredenheid is tog ook `n ware seën van God. Want wat sou dit vir ons voor nuttig wees om soos `n koning alles te besit, terwyl God ons sou straf met `n knaende ontevredenheid, wat maar al te gou `n brug kan word na allerlei groot sondes? Sou dit ons geluk vergroot?

[12] En so sien jy, beste Vriend, al sien dit daar by ons aan die buitekant nog so armsalig en verlate uit en sou jy kon dink dat God Sy seëninge ver van ons hou, dat dit tog nie so is nie; want ons heg veel meer waarde aan die innerlike en uiterlik selde sigbare seëninge, as wanneer ons streek `n ware Eden sou gewees het en die gebraaide duiwe vanself in ons monde sou vlieg.

[13] Vriend, diegene aan wie God die goue tevredenheid en egte geduld skenk, het van God meer ontvang as wanneer Hy hom vanweë sy geloof, trou en deugde `n hele koninkryk met onmeetlike skatte sou geskenk het!

[14] As jy dit eg vanuit jou hart bekyk, beste, baie wyse Vriend, dan sal Jy ook insien dat ons nie sonder seëninge van God is nie! - Het ek gelyk of nie?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205