|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 223
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Judas Iskariot
223 In die oggend was iedereen al vroeg op die been, ook Ek met My leerlinge, en die herbergier het sy vrou en sy kombuispersoneel ook al vroeg aan die werk gesit om `n oggendmaal vir ons klaar te maak.
[2] Ek begeef My egter dadelik met Johannes, Petrus en Jakobus na buite, en wel weer na die reeds bekende berg Nebo. Die oorblywende leerlinge was nog besig om aan te trek en te was; ook hulle hare was deurmekaar, en dit moes hulle in orde kry.
[3] Die herbergier en sy seun kom My baie gou agterna - netsoos die opperstadsregter, hierdie keer met sy vrou en kinders, wat nog nie so groot en oud was nie. `n Kort tydjie daarna kom ook die oorblywende leerlinge, met uitsondering van Judas Iskariot. Hy het liewer bietjie in die stad gaan rondloop, waar hy die burgers die weldaad van My wonders flink aangeprys het, wat hom dan ook meer of minder geld gee; daardie geld stop hy in sy beursie, waarna hy na die herberg gaan en hom onmiddellik, nog ruim `n uur voor die oggendmaal, brood en wyn laat voorsit.
[4] Die herbergier vra My op die berg wel hoe dit met die een leerling is, omdat hy hierdie keer nie aanwesig was nie.
[5] Ek sê aan die herbergier: “Laat hom maar afwesig wees; want sy afwesigheid is vir My beter as sy aanwesigheid, en meer hoef Ek jou nie te sê nie!”
[6] Nou vra die opperstadsregter My: “O Majesteit en Heer, hoe is dit moontlik dat die man onder U leerlinge opgeneem is? Want kyk, ek vra dit nie somaar aan U nie; die man het my met my skerp blik van `n regter dadelik opgeval, omdat hy niemand reguit in die gesig kan kyk nie en ook by U buitengewoon goddelike woorde en voordrag heeltemal afsydig geluister het en voor hom uitkyk en met geen enkele gelaatsuitdrukking blyke gee van enige verbasing of byval nie! Ook sê hy geen woord waaruit mens kan uitmaak watter redenaarstalent hy besit nie, terwyl alle ander leerlinge tog redeneer en weer praat, deels met Uself, deels ook onder mekaar. Kortom, ek moet U sê dat die leerling van U my absoluut nie geval nie. As ek so een onder my vele dienare gehad het, sou ek hom al lankal ontslaan het. Uit welke stad is hy eintlik afkomstig?”
[7] Ek sê: Hy is `n Galileër en van beroep `n pottebakker. Hy is van al My leerlinge die mees bedrewe in die Skrif en as leraar `n begaafde redenaar; maar hy is daarby baie geldsugtig, en dit is die eintlike duiwel in hom wat hy nie sal kwytraak nie - want alle ander soorte duiwels en bose geeste is, as hulle die hart van `n mens eenmaal in hulle greep gekry het, makliker uit die mens te verwyder as die gierigheidsduiwel.
[8] In elke ander slegte gees is nog vonkies van ietwat naasteliefde te vinde, maar by die gierigheidsduiwel nie; daarom is hy ook die hardnekkigste en deurdring hy die hele mens net solank tot die heeltemal aan hom gelyk word, en dan kan hy die mens die beste vir die mees skandelike dade gebruik. Laat iedereen hom dus veral behoed vir gierigheid; want elke sondaar sal makliker en eerder die ryk van God binnegaan, as `n gierigaard!”
[9] Die opperstadsregter sê: “As U leerling van daardie soort is en U tog almagtig is, stuur hom dan van U af weg! Want wat maak so iemand in U geselskap?
[10] Ek sê: "Juis omdat Ek die Heer is en almagtig, moet Ek - veral op hierdie aarde, wat `n kweekskool vir My kinders is - ook die duiwels netso goed duld as die engele; want niemand kan sonder `n volkome vrye wil My kind word nie, en vir die duiwel self is die weg tot ommekeer nie volkome versper nie. Jy sal derhalwe ook insien dat Ek `n leerling, aan wie Ek origens geen welgevalle het nie, solank in My nabyheid duld as wat hy self daar wil bly; wil hy egter vandag van My af weggaan, dan sal hy deur niemand uit My geselskap teëgehou word nie.
[11] Origens, as hy nie verander nie, sal hy wel sy loon binnekort kry. Maar laat ons nou ophou oor die afwesige leerling, want daar is immers nog ander dinge wat ons moet bespreek!
[12] Na die oggendmaal sal Ek naamlik dadelik verder reis en My na die streek begeef waar die vanouds bekende spruit, die Arnon, ontspring. Want die weg na die dal van die Jordaan is van hier af erg sleg en moeilik; maar deur die dal van die Arnon loop nog `n taamlik goeie weg, wat verderaan egter ook baie moeilik word.
[13] Ek het in die Jordaandal nog veel te doen, en dit sal nog maar kort duur voor Ek na Jerusalem gaan!”
|
|
|
|
|