|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 132
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die geseënde landskap
132 In die oggend, nog meer as `n uur voor sonsopkoms, kom enkele van hulle al aan die deur van ons herbergier, wat ook nie kon slaap nie, klop, hoewel hy met die oog daarop nog enkele slukke wyn geneem het. Toe die herbergier sy bure aan hulle stemme herken, staan hy stilletjies van die tafel op en gaan na buite om te wete te kom wat sy bure al so vroeg in die oggend voor die deur van sy huis doen.
[2] Buite gekom, ken sy verbasing geen grense nie en hy sê (die herbergier): “Maar hoor eers, waar is ons nou eintlik? My huis is nog wel dieselfde; maar die omgewing is heeltemal vreemd! Daar is geen kaal klippe meer nie, alles is groen en staan in bloei! En daar bo, op die klipperige heuwel, waar nog nooit, selfs nie die mees armsalige distel te voorskyn gekom het nie, staan `n hele boord weelderige vrugtebome, wat bowendien vol ryp vrugte sit, hoewel dit al laat in die herfs is! Nou sou ek egter graag na bo wil gaan om my heeltemal daarvan te oortuig; maar dit is alles `n heilige wonder van die Heer, en ons sal eers gebruik daarvan maak as Hy Sy toestemming aan ons sal gee om dit alles te gebruik.”
[3] Daarmee was ook al sy bure, wat diep geroer was, dit eens.
[4] Hulle loop rondom die huis om alle plekke van hulle stukkie grond in oënskou te neem, en toe hulle aan alle kante van hulle stukkie grond `n ware Eden sien, kom daar geen einde meer aan die lofprysing van My Naam nie.
[5] Ten slotte kom Ekself, nog voordat die son heeltemal op was, na buite, en hulle val almal op hulle knieë en bedank My vir so `n seëning.
[6] Ek kalmeer hulle egter baie gou en raai hulle aan om saam met My die voormalige klipperige heuwel op te gaan om daar na die opkoms van die son te kyk en hulle ook in die groot natuur daarvan te oortuig dat My uitleg van die nag die volle waarheid was.
[7] Ons klim die heuwel wat, gereken vanaf die huis, ongeveer driehonderd span* hoër was as die punt waar die huis staan. *(Een span is ongeveer 20 sentimeter. Oorspronklik die afstand tussen die maksimaal gespreide duim en die wysvinger)
[8] Vanaf hierdie geheel vryliggende heuwel het mens veral na die ooste `n wye uitsig en kan mens ook die mure van Betsaida nog baie goed onderskei. Ook kon mens in die rigting van Afek kyk, maar vanweë die taamlike groot afstand van enkele ure se reis was nie veel te onderskei nie.
[9] Die herbergier bekyk egter eers die vele, louter edel vrugtebome van sy heuwel, waar ons onsself nou op bevind.
[10] Toe hy klaar was met die, vir hom salige bekyk, en die son al byna sou opkom, rig ook hy sy blik vol aandag na die sonsopkoms en sê, toe die son bo die lae horison begin te styg (die herbergier): “Nou sien ek duidelik dat die groot son werklik stilstaan en alleen die aarde, wat van die weste na die ooste draai, haar lande en plekke onder die stilstaande son deurskuif!”
[11] En wat die herbergier sien, dit sien ook sy bure, en almal was baie verheug dat hulle dit nou ook self in die groot natuur waargeneem het.
[12] Terwyl ons so ongeveer `n uur lank na die oggendskouspel kyk, kom daar al enkele reisigers uit die ooste oor die heerweg, wat na Damaskus en nog verder na Persië lei. Hierdie reisigers, klein koopliede, wat allerlei hout en klei kombuisgerei op hulle rug meedra om te verkoop, kom uit die omgewing van Damaskus.
[13] Toe hulle by ons klein dorpie kom - wat hulle wel geken het, omdat hulle twee tot drie keer per jaar oor hierdie weg gegaan het en in die tien, eintlik ongeveer sestig stede vaste afset gevind het vir hulle ware, wat hulle heel goedkoop aanbied - bly hulle staan, en die een vra aan die ander of dit wel die dorp was waar hulle af en toe bietjie sake gedoen het.
[14] Aangesien hulle nouliks `n halfjaar gelede ook in hierdie streek was, toe dit nog heeltemal kaal was, begryp hulle nie hoe hierdie arm bewoners die vir die grootste deel kaal landjie in so `n kort tyd dermate kon bewerk het - iets wat selfs die rykste mense met die grootste vlyt nouliks in tien jaar kon gedoen het.
[15] Een van hulle, wat `n Judeër van die ou stempel was, sê aan sy metgeselle: “As hierdie streek dieselfde is as die wat ons ken, dan moet daar onteenseglik `n wonderwerk gebeur het! By een van die profete staan geskryf dat die land nogeens groen sal word, en wel ten tyde van die koms van die beloofde Messias. Mense sê dat daar in Galilea `n man uit die stam van Dawid opgestaan het wat wonderbaarlike dinge doen.
[16] Daar moet net in hierdie tyd nie veel waarde geheg word aan dergelike wonderlike dinge nie, omdat ons werklik van alle kante beleër word deur groot aantalle wonderdoeners. Want so lank net Judeërs hierdie landstreke tot ver verby Damaskus besit, het vreemde magiërs by hulle geen toegang nie; maar sedert dit alles aan die Romeine toebehoort, mag hulle van alle kante binnedring en hulle towery bedryf, en so nou en dan doen hulle egte verbasingwekkende dinge - waarvan ons onsself al verskeie kere oortuig het.
[17] Waarskynlik het hier kort gelede ook sulke magiërs deurgereis en het aan hierdie arm mense `n buitengewone weldaad bewys. In Damaskus het enkele magiërs `n paar jaar gelede vir `n ryke immers ook `n stuk kaal veld binne `n paar dae in `n groen weide verander.”
[18] Die ander sê: “Nou ja, hier kan inderdaad wel iets dergeliks gebeur het! Wanneer ons terugkom, sal ons wel meer te wete kom!”
[19] Daarna trek hulle verder in die rigting van Afek.
[20] Ek sê aan die herbergier wat hierdie mense vir mekaar gesê het, en sê verder: “As hulle in die omgewing van Afek sal kom, sal hulle nog minder herken waar hulle is as hier; want rondom Afek het in `n wye omtrek van ure se reis gebeur wat hier in julle klein landstreek gebeur het. Wanneer hierdie mense terugkom, sal julle maklik met hulle kan praat; want in die genoemde stad sal hulle wel dusdanige dinge te hore kry oor hulle Man uit Galilea, dat hulle hom nie meer met heidense towenaars sal verwar nie.”
[21] Daarna proe ons verskillende vrugte op die heuwel, wat vir almal voortreflik smaak, en begeef ons daarna weer na die herberg, waar `n goed voorbereide oggendmaal reeds op ons wag.
|
|
|
|
|