|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 163
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die Heer in die stad by die Nebo
Die Heer en die fariseërs voor die stadspoort
163 Terwyl Ek so onderwys, kom ons weer in die omgewing van `n ou, merendeels deur Romeine, maar ook deur Grieke en Judeërs bewoonde stad, en daar wil - soos wat die mense sê - die geluk, of die ongeluk dit hê, hoe mens dit ookal wil noem, dat ons eers enkele Judeërs en onder hulle enkele fariseërs teëkom.
[2] Die fariseërs herken My en sê aan die Judeërs: “Kyk, daar kom die man uit Nasaret met sy leerlinge, wat op die laaste fees verskillende sogenaamde wonders gedoen het, wat hy waarskynlik in die skool van die Essene geleer het, waarna Hy die volk onderwys het en beweer het dat Hy ouer as Abraham is en nog meer van die dinge!
[3] Hy het toe nog die geluk gehad dat Hy nie heeltemal gestenig was nie; want ons het heel geërger geraak toe ons merk dat Hy Hom voorgeneem het om ons in die oë van die volk as dwase neer te sit.
[4] Tegelykertyd beweer hy oral God se Seun te wees, en Sy leerlinge en die volk glo dit van Hom. En hy gee niks om vir die Sabbat nie, is `n vreter en `n suiper en gaan om met tollenaars en sondaars; maar oor ons, wat aan die insettinge van Moses vashou, spreek Hy oral met veragting en by elke geleentheid stel Hy ons die ewige verdoemenis in die vooruitsig.
[5] Dat ons met so iemand nie bevriend kan wees nie, is verstaanbaar, veral omdat ons maar al te goed weet waar Hy vandaan kom, wie Sy ouers en Sy broers en susters is.
[6] Maar eintlik is Hy nie dom nie; want Hy verstaan die kuns baie goed om deur Sy toesprake en wonders die heidene - sowel Romeine as Grieke - vir Hom te win, om ons later met hulle hulp tot `n val te bring. Maar dit sal Hom nie geluk nie! Maar Hy moet maar nie al te gereeld na Jerusalem kom nie, anders sal ons `n einde maak aan die goddelike Seunskap van Hom, op `n manier wat Hy nie baie aangenaam sal vind nie.
[7] Hy bedryf Sy bose praktyke nou hier in hierdie heidense stede, sekerlik ook net met die bedoeling om die inwoners soveel moontlik teen ons op te stook. Maar dit sal sleg vir Hom uitpak, want Jerusalem sal Jerusalem bly, ook al sou daar duisend sulke seuns van God soos Hy daarteen wees.”
[8] Die laaste woorde kon My leerlinge ook heeltemal verstaan, omdat ons in die tyd al naby die geselskap gekom het, en hulle vra hul af, hoe Ek dit tog kan duld en verdra.
[9] Maar Ek sê aan die leerlinge: “As dit julle dan so vreeslik erger dat hulle My so `n slegte getuienis gee, gaan dan daarheen en bind elkeen van hulle sy mond dig, sodat hy nie verder kan praat nie! Ek dink dat dit `n buitengewoon moeilike besigheid vir julle sou word; in ieder geval is dit vir ons makliker om hulle stilswyend verby te gaan.
[10] Laat die honde maar blaf; want so lank hulle blaf, byt hulle nie! As hulle ons egter in die verbygaan wil aanval en byt, dan sal ons hulle wel laat sien dat ons mond nie sonder tande is en ons hande nie sonder naels nie!”
[11] Die woorde van My kalmeer My leerlinge vir die grootste deel, maar inwendig kook hulle tog, sodat enkele byna sin kry om aan die Judeërs en fariseërs ook iets te sê wat hulle nie so aangenaam sou vind nie; maar hulle weerhou hulle tog en volg My voorbeeld.
[12] Ons kom baie vinnig by hulle, kyk gladnie na die plek waar hulle staan nie en loop hulle swygend verby.
[13] Hierdie Judeërs en fariseërs word egter deur nuuskierigheid gedryf om te sien en gade te slaan wat ons in hierdie stad sou doen. Maar voor ons die stadspoort bereik, kom twee fariseërs ons met haastige treë tegemoet, om ons juis by die poort te verhinder om die stad binne te gaan.
[14] Een van hulle, wat Dismas heet, vra My heel bars wat Ek hier in die stad te doen het, of Ek daar sou bly of net daardeur sou reis.
[15] Ek sê aan hom: “Is jy hier dalk `n stadsregter, wat enige reg het om reisigers uit te vra wat hulle na die stad gebring het en insae in hul reispapiere mag verlang?”
[16] Toe sê die fariseër: “Ek is geen stadsregter nie, maar ek is `n owerste van die Judese gemeente hier en het as sodanig ook die reg om aan reisigers te vra met welke doel hulle na hierdie stad gekom het - en Jy en Jou geselskap wel in die besonder, omdat ek Jou uit Jerusalem ken en maar al te goed weet dat Jy geen vriend van ons is nie en Jou in die geheel nie aan ons ou voorskrifte hou nie, omdat ons nie kan en wil aanneem wat Jy teenoor ons en die volk maar al te duidelik beweer het om te wees nie.
[17] Ons weet wel dat Jy baie kan doen, wys kan spreek en in staat is om tekens te doen wat alle mense tot opperste verbasing bring; maar Jy is tewens ons vyand en probeer ons, wat aan die ou wette vashou, in die verderf te stort. Maar kyk maar net of jy jou doel sal bereik; want jou wonders, wat Jy van die Essene geleer het, sal weldra deursien word, en dan sal dit wel blyk wat Jy nog meer kan doen!
[18] Die heidene kan Jy wel daarmee mislei, maar nie ons ou nakomelinge van Abraham nie. Maar as jy werklik iets goddelik kan, doen dan nou vir ons `n teken, dan sal ons glo dat Jy meer kan doen as alle Essene en ander towenaars op aarde, en dat Jy werklik met die Gees van God vervul is!”
[19] Ek sê: “Ek het in julle teenwoordigheid al `n groot aantal geweldige tekens gedoen wat nog nooit deur `n mens op hierdie aarde gedoen is nie, en julle sê dat Beëlsebub, die owerste van die duiwels, My daarby behulpsaam was. As julle dit glo en ook julle voorvaders in daardie geloof byna alle ou profete gestenig en gedood het, omdat hulle ook van hulle beweer het dat hulle van die duiwel is en met sy hulp voorspellings en tekens gedoen het - hoe sou daar dan in julle enige lig kan wees om die waarheid van My leer en My dade te herken?
[20] Julle het Beëlsebub as vader en leer en handel volgens sy ingewing, wat Ek maar al te goed sien. Ek het egter herhaalde male na julle toe gekom om julle uit sy boeie te bevry; maar dit geval julle beter om dienare van die duiwel te bly as om dienare van die een en enig ware God te word, wat julle nie ken en nog nooit geken het nie. Bly dus dienare van wie julle wil; Ek sal dit ook doen, en binnekort sal Ek vir die oë van die hele wêreld openbaar maak wie julle is en wie Ek is. En laat ons nou gaan, en dit gaan jou goed in naam van die een wat julle dien!”
[21] Hierdie woorde van My beledig hierdie fariseërs in so `n buitengewoon hoë mate, dat hulle My en My leerlinge onmiddellik na die kantoor van die stadsregter wil bring.
[22] Maar Ek sê aan hulle: “Ek is die Heer, en Ek sal doen wat Ek wil; sorg liewer nie dat julle, eerder as Ek, met die stadsregter te make kry nie!
[23] Ek het met My leerlinge heel rustig na julle toe gekom en wou niemand van julle met ook maar één enkele woord of deur `n gelaatsuitdrukking lastig val nie, hoewel Ek al van `n afstand gehoor het watter laaghartige praatjies julle met mekaar oor My gehad het; derhalwe sou Ek die reg gehad het om julle ter verantwoording te roep oor wie julle hier in den vreemde die reg gegee het om opmerkings oor My te maak, wat My, nóg een van My leerlinge kan geval. En dus sê Ek julle nou nog één keer dat Ek die Heer is en die mag het om hierdie stad binne te gaan en My nie deur julle daarin te laat hinder nie; as dit egter nie genoeg is vir julle nie en julle by julle voornemens wil bly, sal Ek wel weet om met goeie gevolg daarop te trap!”
[24] Na hierdie woorde van My sê Dismas, wat die hele kwessie tog ietwat pynlik vind, aan sy baie hardnekkige metgesel: “Laat hulle in Godsnaam maar verder gaan! Laat ons eenvoudig na ons geselskap terugkeer; want met dergelike mense, wat in die besit is van geheime kragte, wil ek verder niks te make hê nie! As hulle in stryd met God se wil handel, sal God wel weet om hulle ter enige tyd te tugtig en vernietig; as hulle egter tog, hoe dan ook, ooreenkomstig die wil van die Almagtige handel, sal ons nie in staat wees om iets teen hulle uit te rig nie.”
[25] Die metgesel van Dismas wil egter nie daarna luister nie, maar roep die ander, wat stadig agter hulle aanloop, om hom te hulp te kom om My en My leerlinge saam met hom na die stadsregter te bring.
[26] Ek sê: “Tot hier toe en nie verder nie met julle Beëlsebubwoede teen My en My leerlinge! Ek sal wagters tot môre toe voor julle neersit, wat julle in geen enkele poort in hierdie stad sal binnelaat nie; en die wagters sal ook die teken wees wat julle van My verlang. Hopelik sal julle daaraan sien dat Ek volkome volgens waarheid Heer oor alle skepsele op hierdie aarde is en ook nog Heer oneindig ver daarbo, veel verder as wat julle jul ooit sal kan voorstel. Ek wil dit, en so geskied dit!”
[27] Op daardie selfde oomblik staan daar al veertien groot, grimmige leeus voor die Judeërs wat ons agtervolg, en een van hulle pak die hardnekkige metgesel van Dismas beet en dra hom terug na sy metgeselle.
[28] Dismas val egter voor My op sy knieë en vra My om hom te spaar, aangesien hy persoonlik `n heel ander mening oor My toegedaan was, en dat hy vir sover moontlik al herhaalde male woorde in My guns in die Hoë Raad laat val het; maar dit was olie op die vuur giet en beteken uiteindelik noodgedwonge om saam met die honde te moet blaf. Nou moes die halsstarrige metgeselle van hom maar teen die leeus blaf; die sou waarskynlik nie bang wees vir hul geblaf nie.
[29] Ek sê aan hom: “Gaan voor ons uit die stad in en bring ons na `n opregte herberg; daarna kan jy na stadsregter Titus gaan en aan hom sê dat Ek in die herberg op hom wag.”
[30] Dismas bedank My, staan op en bring ons onmiddellik na `n nabygeleë herberg in hierdie stad.
|
|
|
|
|