Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 107

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Oor die naasteliefde

107 Toe die priesters hierdie aanwysing van My ontvang, word hulle baie bly, bedank My daarvoor, staan op van hulle tafel - behalwe een van hulle, wat `n soort opperpriester was; hulle gaan na hulle kamer wat, soos wat reeds meegedeel is, op die oomblik ook in die huis van die herbergier was, wat groot en stewig gebou was, en hulle pleeg oorleg onder mekaar hoe hulle hierdie saak sou aanpak, om dit so rustig en goed as moontlik te laat verloop.

[2] Die een priester wat by ons gebly het, spreek egter met die kommandant oor die verkoop van die goud en silwer afgodsbeelde, omdat hulle hier geen geleentheid het om dit eers te smelt en daarna as metaal te verkoop nie; ook was daar in die hele wye omtrek geen goudsmid wat sulke metale sou kon koop en na behore gebruik nie.

[3] Die kommandant sê: “Ek sal alles vir julle doen wat die Heer en Majesteit oor alles sal goedvind - maar Hy moet Hom eers barmhartiglik daaroor uitspreek wat heeltemal waar is om te doen; want óns wil moet van nou af aan Sy wil in ons wees!”

[4] Hierop sê Ek: “Doen soos wat julle self goeddunk; die hoofsaak is dat die opbrengs op `n doelmatige manier aan die armes ten goede kom, wat julle deur My Gees in julle kan beoordeel.

[5] Maak waar moontlik alles goed wat julle - soos wat Ek dit al eens opgemerk het - aan kwaad aangerig het, en julle sal daardeur My barmhartigheid in julle siel deelagtig word! As julle `n onreg, wat julle iemand aangedoen het, nie weer kan goedmaak nie, neem tog `n goeie wil daartoe en wend jou vol geloof tot My, dan sal Ek julle opregte gebede nie onverhoord laat nie!

[6] Maar aan julle almal is ook gesê dat iemand wat nie die allerkleinste skade wat hy iemand toegebring het, weer goed gemaak het nie, My ryk nie sal binnegaan nie! Want wat julle nie wil dat mense julle aandoen nie, doen dit ook nie aan julle naaste nie!

[7] Wanneer iemand julle egter skade toebring en aldus teen julle sondig, vermaan hom met alle sagmoedigheid en vergeef hom dit! As hy sy lewe verbeter, sal dit hom ten goede kom; as hy sy lewe egter nie verbeter nie, verdoem hom dan nie daarvoor nie, maar wend jou weer in jou hart tot My, en ook dan sal Ek julle geregverdige bede werklik nie onverhoord laat nie!

[8] Doen alles wat julle doen, met alle liefde in My Naam, dan sal julle daardeur kinders van God en erfgename van die hemelryk word, en aan julle saligheid sal nooit `n einde kom nie, maar dit sal ewig voortduur!

[9] As julle dit alles goed begryp het, handel dan veral self daarvolgens en leer ook julle medemens om daarvolgens te handel; want daardeur sal julle My ryk, wat nie van hierdie wêreld is nie, die beste verbrei onder die mense, waarvoor julle later `n groot loon in My ryk ten deel sal val - want wat Ek julle beloof, is en bly ewige waarheid!”

[10] Hierop sê die kommandant: “Heer en Majesteit! Ek sien die ewige groot waarheid van al U woorde en lesse sekerlik in, en voel ook ten diepste in myself dat dit onder die mense so sou moet wees soos wat U dit vir ons getoon het; maar daar is onder die mense nietemin baie booswigte, soos diewe, rowers, moordenaars, egbrekers, seuns- en maagdeskenders, sowel onder die Judeërs as onder die heidene, en ons het baie streng wette om dergelike misdadigers onverbiddelik met alle strengheid te straf as afskrikwekkende voorbeeld vir die res van die mensdom.

[11] Wel nou, so `n misdadiger is tog ook ons medemens en hy sou sy lewe mettertyd miskien ook nog kan verbeter, as mens hom in die lewe laat en hom onderrig in dit wat as enigsins goed, waar en eg is, en as mens ook die kleiner misdadigers na `n goeie skool sou stuur en hulle die waarheid leer, in plaas van om hulle langdurig in kerkers gevange te hou.

[12] Maar solank ons ons onverbiddelike wette het, kan hierdie wens van my slegs `n vrome wens bly; want as ekself aan `n misdaad skuldig gemaak sou kan word, sou dit vir my tog ook beter wees as die mense met my, ooreenkomstig my vrome wens te werk sou gaan, as dat die mense my sonder enige liefde en toegewendheid sou verdoem.

[13] By die regters is dit nooit: “Wat julle nie wil dat mense julle aandoen nie, doen dit ook julle naaste - ons medemense dus - nie aan nie!”, maar daar is dit: “Ek veroordeel jou volgens die wet!”, en daarby is daar van enige liefde en erbarming ook nie die geringste spoor nie.

[14] Nou is ek self `n hoë regter op die gebied, wat U, o Heer, goed ken, en ek het baie misdadigers in die kerkers moes laat plaas! Moet ek nou ook aan hulle, in plaas van die gestrengheid van die wet, liefde betoon?”

[15] Ek sê: “Daardeur sal jy sekerlik baie goed doen, wanneer dit moontlik is! Wie die gevangenes liggaamlik en geestelik van die boeie van die duiwel bevry, sal ook bevry word van die boeie van die ewige dood!

[16] Wie regter is en in sy amp oor verblinde mense sagmoedig en regverdigheid uitoefen, sal later ook deur My so geoordeel word. Met die maat waarmee julle meet, sal julle ook weer gemeet word!

[17] Wie barmhartig is, sal ook by My barmhartigheid vind; wie egter `n streng regter is, sal in My ook `n streng regter vind - want die strengheid, waarmee hy sy medemens wil oordeel, sal later sy eie regter wees!

[18] Elke mens dra dus al sy eie toekomstige regter in homself. Dit is vir jou tot `n riglyn, My vriend Pellagius!”

[19] Daarmee was hy volkome tevrede, en ons begewe ons toe weer na buite, maar na `n ander kant van die stad Afek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205