Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 212

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die belydenis van Petrus en sy versoek om die gelykenis van die saaier uit te lê

212 Toe Ek klaar was met die onderrig, staan Simon Juda, wat Petrus genoem word, op en sê: “Heer, ook ons almal dank U vir hierdie geweldige les; want nou eers voel ek tot diep in my gemoed dat U, wat U liggaam betref, die Seun van God is en daarom ook werklik die Messias, oor wie die profete vanaf Moses herhaaldelik voorspellings gemaak het, maar ook al vóór Moses, te begin met Abraham, die groot verligte oeraartsvaders van die mense. Ek sou nou werklik nie meer weet met watter vraag ek U nog verder sou kan lastig val nie; want alles lyk my nou duidelik, in `n geweldige beeld voor my oë te swewe.”

[2] Daarop sê Ek: “Simon Juda, dit het jy goed gesê, omdat dit so is; maar tog sal jy saam met die ander skape op die vlug slaan wanneer die herder geslaan word; want `n mens moet eers menige proewe van sy geloof aan die dag lê, voordat hy soos voleindig na sy Heer begin lyk. Herinner jou daarom aan My woorde, dat dit ook nog met jou sal gebeur dat jy My teenoor die wêreld geheel en al sal verloën! Jy sal dan wel weer omkeer en jou swak geloof versterk - maar nie uit jouself nie, maar uit My Gees in jou, wat jou daar flink by jou hare daarnatoe sal trek!”

[3] Daarop sê Simon Juda: “Majesteit en Heer, dit is tog merkwaardig van U dat U vir ons, terwyl ons tog al vanaf die begin by U was, en terwille van U alles verlaat het - soos ons akkers, huise, vrouens en kinders - nou nooit eers waarlik iets goeds kan voorspel nie!”

[4] Ek sê: “As Ek julle net vir hierdie wêreld sou geskape en geroep het, sou Ek julle ook maar net goeie wêreldse dinge kon voorspel; maar omdat Ek julle net vir My en vir My ryk aan die anderkant geroep het - wat maak jy jou dan bedruk daaroor wanneer Ek jou, wat hierdie wêreld aangaan, niks goeds en aangenaam kan voorspel nie? Want jy weet tog dat die eintlike slegte en duistere wêreld net diegene liefhet en gelukkig maak, wie is soos wat hulle self is; wie egter nie so is nie, vervolg en verdoem hulle.

[5] Julle is egter netsoos Ek, nie van hierdie wêreld nie, maar van bo - derhalwe vervolg en haat die wêreld ons ook; en omdat dit so is en nie anders nie, kan Ek jou, My beste Simon Juda, wat hierdie wêreld aanbetref, ook niks anders voorspel as net dieselfde wat Ek jou al steeds voorspel het nie! Begryp jy dit?”

[6] Daarop sê Simon Juda: “O Majesteit en Heer, ek begryp dit goed, maar dit gaan daarby nie veel anders met my as ons vriend die opperstadsregter nie - mens word deur U oneindige volmaaktheid en persoonlike aanwesigheid volkome vernietig!

[7] Maar noudat ek tog aan die praat is, sou ek U om `n nadere opheldering wil vra oor `n gelykenis van die ryk van God, wat U ons eens in die omgewing van Betsaida gegee het. U het ons destyds weliswaar `n verklaring gegee wat baie goed te begryp was, maar uit die beeld self kon ek selfs met die beste wil nooit heeltemal wys word nie.

[8] Die beeld of die gelykenis was, dat die ryk van God, wat dieselfde is as die hemelryk, lyk soos `n saaier, wat uitgaan om koring op sy akker te saai. Tydens die saai val daar `n gedeelte op paaie en weë; dit word gedeeltelik baie gou vertrap en gedeeltelik deur voëls opgeëet, ontkiem dus nie en lewer geen vrug op nie. `n Ander gedeelte val op rotse en klippe, ontkiem wel so lank dit nog vog gehad het, maar dit was spoedig nie meer die geval nie, sodat die saad geen voeding meer gehad het nie, verdor en ook geen vrug opgelewer het nie. `n Gedeelte van die koringsaad val tussen dorings en struike, ontkiem weliswaar, maar word baie gou deur die dorings en die struike oorwoeker, verstik en lewer derhalwe ook geen vrug op nie. Slegs `n gedeelte val in goeie grond en lewer honderdvoudig vrug op.

[9] Dit was die beeld, o Majesteit en Heer, wat U ons vertel het; en toe ons U vra: “Waar en hoe dan so?”, sê U aan ons: Aan julle is dit gegee om die geheime van die ryk van God te begryp - egter nie aan die ander nie, soos daar ook in die Skrif geskryf staan: “Hulle sal kyk en tog niks sien, luister en tog niks hoor en begryp nie!”

[10] Daarna het U die beeld aan ons verklaar, en ons was almal baie tevrede met die uitleg, maar tot nou toe nog nie heeltemal met die beeld self nie.

[11] As U, o Majesteit en Heer, óns daarmee bedoel het, wat deur U voorbestem is om U leer, wat die eintlike ryk van God op aarde is, onder die mense uit te brei, en ons as die saaier voorgestel het, dan sou U beeld heeltemal klop; maar as U Uself as die saaier voorgestel het, kom die beeld my steeds weer enigsins eienaardig voor, omdat ek my geen egte verstandige saaier kan voorstel wat driekwart van sy edel koring daar saai, waar die ervaring van `n baie lang tyd hom tog moes geleer het dat paaie en weë, rotse en klippe, dorings en struike absoluut nie geskik is om edel koring daarin te saai nie, omdat dit op sulke plekke nooit kan vrug oplewer nie - en so verstandig sal die saaier tog wel wees, dat hy vir die saai van sy suiwer koring eers `n akker geskik sal maak, voordat hy sy koring daarin sal saai, omdat dit hom dan honderdvoudige vrug sal oplewer.

[12] Maar U, o Majesteit en Heer, is as Saaier oneindig veel wyser as wat ons almal ooit sal word, en ek het dus die idee dat ek `n groot sonde begaan as ek U as so `n onverstandige saaier sou beskou; maar as U ons, U leerlinge, as die onverstandige saaier voorgestel het, dan is soos gesê, U beeld volkome korrek - want in ons sit nog veel onverstand en onwetendheid.

[13] Bowendien het U ons al verskeie kere gewaarsku dat ons U pêrels - wat dieselfde is as die suiwer koring en derhalwe ook dieselfde is as die ryk van God - nie vir die varke moet gooi nie, en ek dink dat U met U beeld ook wou gesê het dat ons U koring nie op paaie en weë, op rotse en klippe en tussen dorings en struike moet saai nie, omdat dit daar geen vrug sal dra nie. Majesteit en Heer, het ek U gelykenis so op die korrekte manier belig?”