Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 210

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die belangrikste voedingsmiddele vir die mens

210 (Die Heer:) “As `n mens dus na liggaam en siel volkome gesond wil bly, moet hy van kindsbeen af aan matig gevoed word met suiwer voedsel.

[2] Kyk na My! Ek is, wat My liggaam betref, ook `n mens, maar Ek eet en drink steeds een en dieselfde voedsel en stil My dors eweneens met suiwer, goeie en gesonde wyn - maar altyd in die korrekte mate; en wat Ek nou voor julle oë eet en drink, dit het Ek ook al in My kinderjare geëet en gedrink, netsoos trouens die meeste van My leerlinge, wat byna almal vissers was en van vis gelewe het.

[3] Wat hulle oorgehou het aan vis, het hulle geld gekry en daarvan die nodige klere, brood, sout en ook wyn gekoop, wat hulle met mate met water gedrink het; en vra hulle of een van hulle ooit deur `n siekte gekwel was, behalwe die ene wat Ek jou nie van naderby wil aandui nie.

[4] Ek sê vir jou: As die mense sou gebly het by die kos wat hulle deur die profeet Moses aangegee was, sou die artse met hul geneesmiddels nooit iets by hulle te doen gekry het nie; maar hulle het begin om, netsoos die heidene, op die wyse van die epikuriste hul liggaam met honderde verskillende sogenaamde lekkernye vol te prop en het daardeur binne `n kort tyd tot allerlei siektes verval.

[5] Visse van `n goeie soort, wat hulle in skoon water ophou, en wat voorberei is op die manier soos wat ons hulle geëet het, is die allergesondste voedsel vir die menslike liggaam.

[6] Waar dergelike visse egter nie te kry is nie, is koring- en garsbrood op sigself die mees gesonde voeding vir die mens, netsoos die melk van gesonde koeie, bokke en skape. Onder die peulvrugte neem lensies die eerste plek in, en ook soos by die berei van pap, die groot Persiese mieliepitte. Slegs die vleis van enkele hoenders en duiwe, dan van `n gesonde en rein bees asook van bokke en skape, in volkome bloedlose toestand, kan gebraai of gekook geëet word; gebraai verdien egter die voorkeur bo gekook.

[7] Die bloed van diere moet egter deur niemand geëet word nie.

[8] Wat Ek nou opgenoem het, is en bly vir die mense die eenvoudigste, suiwerste en gesondste voedsel; al die oorblywende - veral wanneer dit oormatig geëet word - is skadelik vir die mens, veral wanneer dit nie so voorberei word dat die bose van die natuurgeeste volledig daaruit gehaal word nie.”

[9] Nou vra die opperstadsregter aan My: “O Majesteit en Heer, hoe is dit dan met die vele soorte buitengewoon goed smakende vrugte en wortels?”

[10] Ek sê: “Die eetbare vrugte moet in die eerste plek volkome ryp wees. In dié toestand kan mens dit met mate eet; maar tog is dit in gekookte, gebraaide of gedroogde vorm gesonder as rou, omdat deur die kook, braai en droog die slegte en nog ongegiste natuurlewensgeeste daaruit verwyder word. Dieselfde is met wortels die geval.

[11] Jy ken die vrugte en die wortels wat geskik is vir mense om te eet; die begerige en vraatsugtige mense neem egter geen genoeë daarmee nie, maar ontdek voortdurend nog `n groot aantal voedingsmiddele, sowel uit die plant- asook uit die diereryk, en die gevolge daarvan is die steeds meer toenemende, mees uiteenlopende liggaamlike siektes.

[12] Op grond van wat Ek jou nou gesê het, kan jy met weinig moeite self oordeel, dat dit vir My in die grond van die saak een en dieselfde is om deur My wil `n akker van die een of ander soort graan te voorsien, jou graanskure met graan wat al ryp is, te vul, of `n voorbereide brood vir jou en elke ander neer te sit en dit ook te vermeerder, as dit nodig sou wees. En so is dit ook met allerlei vleis; want as Ek lewende diere kan skep, sal dit ook nie vir My onmoontlik wees om hulle vleis te skep nie, dit tewens voor te berei en dit in voorbereide toestand na behoefte te vermeerder nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205