|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 161
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die uitbreiding van die leer van die Heer in Babilon
161 By hierdie koning word die apostel Matthéüs met sy begeleier `n paar jaar later tydens sy reis na Indië baie goed opgeneem, en hy bly `n hele jaar by hom.
[2] Toe hy egter met sy begeleiers verder na Indië wou reis, gee die koning hom `n veilige geleide tot by die grense van sy ryk, en so was hierdie apostel een van die eerste getuies van My by hierdie koning; hy wou in die stad, wat destyds nog Babilon geheet het - hoewel die ou Babilon as `n groot puinhoop taamlik ver van hierdie stad lê - bekerings gemaak het onder die heidene, wat vir die merendeel dienare van Baäl was.
[3] Die koning raai hom dit egter af en sê: “Dit is voldoende dat ek en my hofhouding weet en insien wat ons moet glo en waaraan ons met die geloof toe is; vir die res sal my seun en ek goed sorg - want ek sou julle nie wil prysgee aan die grenslose woede van my priesters nie. As hulle geleidelik aan uitgesterf het en ek daarvoor sorg dat daar na hulle geen plaasvervangers meer kom nie, sal daar makliker met die volk te onderhandel wees.”
[4] Met hierdie uitlating van die koning was die twee apostels tevrede, en hulle het geen moeite meer gedoen om My leer onder die volkere van hierdie koning uit te brei nie.
[5] Maar tog kom Petrus met sy seun Markus sewe jaar later na hierdie koning toe; hy word eweneens buitengewoon goed ontvang en doen ook `n voorstel aan die koning om op sy minste die stad geleidelik aan met My leer bekend te maak.
[6] Die koning, wat Petrus en ook Markus erg liefgehad het, raai dit vir Petrus af, aangesien hy goed geweet het deur welke gees sy baälpriesters besiel was, en hy sê spesiaal aan Petrus: “Kyk net, ons leef hier in `n land waar, veral verder na die ooste tot aan die groot rivier, die Ganges, oral allerlei wilde en verskeurende diere is en dit ook vervuil is van allerlei giftige onkruid! Waar JaHWeH God egter sulke diere en giftige plante in sulke groot aantalle laat groei, daar is die aardbodem en veral ook die lug vas en seker vervul van bose geeste en duiwels, en hulle hardloop rond soos hongerige en brullende leeus, tiers, luiperds en hiënas en probeer iemand uit die klasse van die mense te vind om hom te verskeur.
[7] Die genoemde diere is woes en baie boosaardig, en mens kan alleen met groot gevaar jag op hulle maak; maar my baälpriesters is nog duisend maal boosaardiger, want elkeen van hulle het minstens `n duisend duiwels in hulle, en behalwe ek, met my uiterste gestrengheid en my soldate, wat merendeels Judeërs, Grieke en Romeine is, sal iemand anders nie sonder probleme teen hulle optree nie, terwyl ek as koning self net `n onderhorige van Rome is, wat julle beide goed sal weet, aangesien die Romeinse ryk tot aan die Ganges reik, waaragter eers die groot Indiese ryk begin, waarvan niemand van ons die grense ken nie.”
[8] Daardie advies van die koning geval Petrus goed, maar tog voel hy heimlik `n drang om met enkele burgers van hierdie stad oor My leer en My ryk te spreek; daarvan hoor die priesters natuurlik ook baie gou, en hulle maak aan Petrus, deur middel van hul boodskappers, die versoek om hulle ook met die saligmakende leer bekend te maak.
[9] Petrus laat hulle `n lang tyd nie daartoe verlei nie, veral omdat sy seun en helper Markus hom ernstig daarteen waarsku en steeds sê: “Laat die koning hier vir ons saak die werk doen; ons sal nie teen die wil van die Heer handel nie, wanneer ons hier die raad van die koning sou opvolg nie!”
[10] Maar na `n paar jaar gaan Petrus tog `n slag buite die stad, om somaar te wandel, en daar tref hy verskeie bedelaars en siekes aan. Die armes skenk hy `n bietjie geld en die siekes genees hy deur die krag van My Gees wat in hom woon.
[11] By die wonderwerk kom daar ook verskeie baälpriesters staan, hulle herken Petrus en vra hom baie dringend om met hulle `n stukkie verder die land in te gaan.
[12] En hy gee gevolg aan hul aandrang en troue versekerings, omdat hulle hom vertel dat daar in `n nabygeleë dorp `n groot aantal siekes is wat deur geen enkele arts genees kan word nie; as hy hulle ook sou genees, sou hulle en alle oorblywende priesters sy leer aanneem en hul tempels eiehandig vernietig.
[13] Na hierdie woorde gaan Petrus saam met die priesters en kom na `n uur inderdaad met hulle in `n dorp, waar `n groot aantal koorslydende siekes en besetenes was, wat hy almal genees en waarby hy selfs `n dooie tot lewe wek.
[14] Die geneesdes begin Petrus egter te loof en hulle sê: “Hierdie man moet deur die waaragtige God gestuur wees, anders sou dit vir hom nie moontlik gewees het om net deur sy woord diegene by ons te genees, waartoe al ons vele gode nog nooit in staat was nie.”
[15] Dit maak die priesters, wat Petrus vergesel het, buitengewoon kwaad. Hulle dwing hom oënskynlik vriendelik om saam met hulle nog `n klein dorpie te besoek, waar `n mens net deur `n bos van mirte en rose kan kom. In die bos gryp hulle Petrus, trek sy klere uit, slaan hom dood en hang hom toe met sy voete aan `n dooie mirteboom op, waaraan hulle aan die onderkant `n dwarsbalk bevestig en sy hande met toue daaraan vasbind; daar laat hulle hom so hang en trek hulle toe langs `n ander weg terug na die stad.
[16] Omdat die koning vind dat Petrus te lank wegbly, laat hy hom oral soek, sowel binne as buite die stad, en hy slaag eers die tweede dag om Petrus - dood en baie erg toegetakel - in die mirtebos te vind.
[17] Daarby word ook aan hom deur die geneesdes vertel dat die priesters van die stad hom met alle vriendelikheid na hulle toe gebring het, dat hy hulle op wonderbaarlike wyse beter gemaak en `n dooie weer tot lewe gewek het. Hulle voeg nog daaraan toe dat hy daarna met die priesters verder landinwaarts gegaan het.
[18] Dit maak die koning baie verdrietig, hy laat Petrus met koninklike eer in die koninklike tombe begrawe en laat ook die mirteboom in die tombe lê.
[19] Maar met die meer as tweeduisend priesters in die stad gaan dit daarna sleg. Die koning spaar nie een van hulle nie, laat hulle almal deur sy soldate doodmaak en daarna op meer as vierhonderd waens ver weg na `n woestyn bring, waar hy hulle uit die waens laat gooi om daar as voedsel vir die baie wilde diere te dien.
[20] Daarna begin die leerling Markus, met behulp van die koning en ons twee bekende saakwaarnemers, die mense van byna die hele stad tot My leer te bekeer, en dit het nog nie eers `n jaar geduur nie, of die hele stad, en daardeur spoedig daarna ook byna die hele land was seënryk tot My leer bekeer.
[21] (Hiermee stel Ek julle, My jongste leerlinge, by hierdie geleentheid op hoogte waar en hoe die eerste apostel vir hierdie wêreld aan sy einde gekom het; dus nie in Rome nie, nog minder in Jerusalem, maar in die nuwe stad Babilon, wat later die Saraseense naam Bagdad gekry het.)
[22] Dit het Ek egter by die herbergier in die stad wat aan julle bekend is, nie aan die leerlinge vertel nie, maar net aan julle in hierdie tyd, en nou kan ons weer ons vroeëre plek, terwyl ons nog aan die tafel van die herbergier gesit het, inneem.
|
|
|
|
|