Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 97

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Judas prys die wonders van die Esseners

97 Judas sê: "As ek dit nou maar so voetstoots sou aanneem, moes ek tog net so onervare gewees het soos jy en `n aantal van julle! Ons is nog maar nouliks `n halfjaar by Hom en het baie gehoor en gesien wat onteenseglik buitengewoon en wonderbaarlik is, en nou sien julle Hom natuurlik aan as `n God, omdat julle baie eenvoudige mense is wat nog nooit iets anders gesien en gehoor het as hierdie Jesus nie, wat sekerlik hemelhoog bo ons uitsteek. Vir julle is Sy dade en wat Hy sê voldoende, maar vir my is dit baie anders, omdat ek baie gereis het en daarby baie ander wonderbaarlike dinge gesien en gehoor het! Gaan maar eers na die Esseners en kyk watter werke hulle verrig, dan wed ek jou dat julle hulle almal as suiwer God sal beskou, net soos die Romeine en die Grieke, wat baie aan hulle offer omdat hulle dink dat hulle gode is.

[2] Kyk, alles wat ons Jesus doen, kan jy net so goed by die Esseners sien, en so hier en daar nog ander buitengewone dinge. As daar dus op aarde nog meer mense is wat hierdie dinge kan doen, wat ons Heer Jesus doen, dan sien ek nie heeltemal in waarom ons Hom dan eintlik onvoorwaardelik die uitsluitlike voorreg van die volle goddelikheid moet gee nie.

[3] Ja, as Hy op aarde die enigste sou wees waaraan die elemente gehoorsaam is, dan sou mens maklik aan Sy goddelikheid kon glo. Maar omdat daar, soos wat ek maar al te goed ondervind het, meer mense op hierdie goeie aarde is wat `n naatlose bo-kleed aanhet, moet ons Jesus nog baie meer presteer voordat ons hom die uitsluitlike goddelike voorreg kan gee, voordat ons dan kan sê en ongetwyfeld kan glo: ‘Dit is JaHWeH, soos wat Hy die eeue deur was’!

[4] Julle beskou die opwekking uit die dode, die plotselinge vermeerdering van spys en drank, die restourasie van geboue en die tekens aan die maan en die son as wondere van God! Dit is egter nog lank nie voldoende om daarmee die goddelikheid van `n mens, wat dit kan, te bewys nie, want dit en soortgelyke dinge het ek meermale by die Esseners gesien. Genesing van siekes doen hulle daar as `n bysaak, maar ek was self getuie daarvan dat die owerste van die Esseners in drie tale op die maan geskryf het! Ook was ek daar toe hy die son in die dag heeltemal verduister het! Nadat hy sy simbole geteken het en `n berekening gemaak het, sê hy aan ons: 'Binne `n uur sal ek `n plaag oor die mense laat kom, ek sal die son `n tyd lank heeltemal verduister, en op die hele aarde sal dit donker wees!'

[5] Ons rek ons oë groot oop vir hierdie nie so baie aangename voorspelling nie en wag in angstige spanning op die voorspelde plaag, wat met die oomblik waarskynliker word omdat dit na hierdie voorspelling langsaam maar verseker steeds donkerder en donkerder begin word het! Toe die uurglas byna leeg was, strek die owerste sy hande uit en praat langsaam en verhewe: 'Ek wil dit! Son, word duister!' Toe word die son duister en op die hele aarde was dit so donker soos in die nag. Na `n paar oomblikke en merendeels vermurwe deur ons vurige smeekbede, strek hy sy hande weer uit, waarvan die vingers gelyk het of dit gloei, en praat met die son: 'So is die plaag vir die mense voldoende, ontbrand daarom geleidelik weer en verlig en verwarm die hele wêreld!' En kyk, na hierdie bevel van hom begin die son dadelik weer lig te gee en na `n halfuur gee hy weer sy volle warmte!

[6] So bevind ons onsself ook nie ver van die groot woonkasteel van die Esseners af nie en in hulle groot hoë ommuurde tuin op `n taamlike hoogte, wat ongeveer tweemaal so hoog was as die kasteel. Ek kom vier maal per jaar met allerlei potte en panne by die Esseners . Eendag sê van die Esseners vir my: 'As jy weer `n groot manifestasie van die wilskrag van ons owerste wil sien, naamlik hoe berge hulle ook moet buig vir sy bevel, bly dan vandag hier! Kyk, die berg daar, dit staan in ons pad, vandag sien jy hom nog as berg en môre sal jy op dieselfde plek `n skitterende paleis sien!'

[7] Sekuur bekyk ek die berg, wat hom nouliks vierhonderd treë van die woonkasteel af bevind, en my oë bedrieg my nie, dit was `n kaal rotsblok wat hier en daar met spaarsamige mos en struikies begroei was. Toe sê ek glimlaggend vir die Esseen: 'As dit regtig `n rots is, en daaraan twyfel ek nie, dan moet daar in julle owerste `n suiwer goddelike krag inwoon, as hy in één nag in staat sou wees om uit hierdie marmerrots `n paleis te kan maak!'

[8] Toe sê die Esseen: 'Twyfel jy dalk daaraan dat die berg `n reusagtige rotsblok is? As jy twyfel, kom dan met my saam en oortuig jouself!' Maar ek sê: 'Vriend, wat my skerp oë kan sien, dit hoef ek nooit met die hande te betas nie, want ek onderskei op vierhonderd treë nog die kleinste voorwerpie!' Toe sê die Esseen: 'Goed, bly dan maar hier, dan sal ek jou nog wonderbare verskynsels laat sien!' - Ek verbaas my nou nog oor wat ek toe alles gesien het!

[9] Die Esseen bring my in `n groot donker kamer, waarin op die oog af minstens honderd lyke afsonderlik op doodsbeddens opgestapel gelê het, en `n baie duidelike lykreuk het my so deurdring dat daar in `n lang ry naas elke lêende lyk geen lewende mense meer was nie. Terwyl ons beide tussen die talle lyke deurgeloop het en hulle ook hier en daar bevoel het, bring vier draers nog twee daar aan, lê die sielloses op ander leë beddens en verlaat toe die kamer.

[10] Ek vra aan my begeleier of hy nie bang was vir soveel dooies nie! En hy antwoord: 'Waarom sou ek? Solank hulle dood is, kan hulle ons niks doen nie, en as ek hulle weer tot lewe terugbring, sal hulle my slegs dank omdat ek hulle van `n sekere en gewisse dood weer tot lewe gewek het! Kyk, hierdie is manne, vroue en maagde! Dit is net jammer dat daar hierdie keer geen kinders by is nie. Maar laat dit jou nie van stryk bring en skrik nie as hulle op my woord almal van hul beddens af sal opstaan nie!'

[11] Ek gaan dus maar by voorbaat by die uitgang staan om in geval van nood gou buite te wees.

[12] Die Esseen hef sy hande op en roep met verheffing van sy stem: 'Dode ontwaak, leef verder en verdien met jou lewende hande eerlik jou brood! Maar gee ook bo alles die eer aan die goddelike gees omdat hy ons mense hierdie wysheid en krag gegee het!'

[13] Na hierdie woorde van die Esseen staan alle dooies op en dank die Esseen inniglik vir die opwekking en hulle was heeltemal gesond en baie vriendelik. Hy begroet hulle eweneens baie vriendelik en stuur hulle toe weg.

[14] Die in die lewe roep van honderd-en-twee lyke is tog ook wel `n opwekking uit die dode, of nie!? - Toe vra ek aan die wonderdoener of so iets meer as één keer per jaar gebeur. En hy sê: 'Dit gebeur eenmaal per week. Die owerste kan egter ook geraamtes sonder vlees weer sodanig tot lewe bring dat hulle net so lewend is as diegene wat ek hier tot lewe gebring het! Maar daardie krag besit ek nog lank nie!'

[15] Hy bring my daarna in `n ander kamer, wat nog donkerder was, en toon my `n groot aantal geraamtes, wat ook in`n ry op opgestelde banke gelê het. `n Flou liggie verlig hierdie verskriklike kamer in `n geringe mate, maar mens kon die geraamtes behoorlik en vrylik waarneem.

[16] Ons kyk `n oomblik na hierdie baie lewelose beendere. Toe kom die owerste met `n ernstige gesig na binne en vra aan my begeleier of die weer tot lewe gebringde lyke hom slegs geluk het. En hy antwoord daarop baie eerbiedig met 'Ja, hoë, wyse meester!' Toe praat die owerste: 'Nou let dan goed op; ek sal jou nou in die teenwoordigheid van hierdie vreemdeling inwy, sodat jy in die vervolg ook die vleeslose doodsbeendere tot lewe sal kan bring! Gaan en bevoel met duim en middelvinger net die bors en die skedel van die geraamtes, tel daarop langsaam tot sewe en roep dan hard: 'Beklee julle met vlees en huid, en lewensvuur, kom uit die wande en vorm julle tot egte mense!'

[17] My begeleier doen dit dadelik en na sy laaste woorde skiet daar hoë en suiwer vlamme op en die voormalige geraamtes, waarvan nou geen spoor meer te vinde is nie, staan as voltooide mense lewend en bewegend, ook so `n honderd stuks, voor ons, begroet ons en dank die owerste vir die bewys van barmhartigheid. Hierdeur stuur hy hulle na buite in die fris lug, wat hulle nou die nodigste gehad het. –

[18] Wat sê julle nou daarvan? Hoe ver agter is ons Heer daarby vergeleke! -

[19] Toe word ek vir die ete uitgenooi, en ons gaan aan `n lang tafel sonder kos sit. Die owerste sê in `n vreemde taal `n gebed op, kyk na die hemel en ons volg almal sy voorbeeld. Toe klink daar opeens `n gedreun asof die plafon van die kamer ineenstort en ek kyk op, en toe merk ek ook hoe dit gebeur het - ons sit nog wel aan dieselfde tafel, maar dit was nou nie meer leeg nie, maar vol uitgelegde voedsel en drank, goed vir `n koninklike aandmaaltyd! Na die aandete kyk ek nog `n keer na die berg, wat gedurende die nag in `n paleis omgetower sou word, en gaan toe volgens die reël van die Esseners in `n afsonderlike vertrek slaap.

[20] Die volgende oggend kom my begeleier na my toe en sê: 'Kom kyk!' En ek gaan rasend nuuskierig met hom saam - en van die rots was daar niks meer te sien nie! Op die plek staan `n groot koninklike paleis waarin mense my deur die ruim vertrekke rondlei en waarby ek my goed daarvan oortuig het dat die hele wonder geen bedrog was nie.

[21] Nou vra ek julle egter of ons Heer Jesus iets hoër en wonderbaarliker kan doen! En tog sien julle Hom al aan as JaHWeH Self!

[22] Gestel dat ons die geluk sou hê om Hom weer te sien, dan moet julle julleself in die vervolg nie vererg as ek so nou en dan vrae stel wat vir julle en vir Hom nie aanstaan nie. Ek het helaas vóór Jesus al baie wonderbaarlike dinge gesien en gehoor, en as jy daarmee rekening hou, dan hoef julle julleself, met `n bietjie wilskrag, nooit te vererg, of verbaas te wees as ek my af en toe ietwat eienaardig gedra nie"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205