|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 95
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Betabara. Spysiging van vyfduisend mense in die woesteny
95 Toe Ek - soos wat reeds vermeld is - van die aangekome leerlinge van Johannes gehoor het wat vir My al vroeër bekend was - want anders sou Ek nie al vroegoggend die hele groot geselskap op die korrekte oomblik van My weggestuur het nie - verlaat Ek Násaret terstond en gaan met die twaalf leerlinge na die see by Sibara en stap daar aanboord en vaar na die streek bokant Betabara. Op die skip vertel die leerlinge My hoe hulle die dag verder nog onderrig het en wat hulle gedoen het, en Ek prys hulle daarvoor.
[2] Maar toe ons by ons bestemming aankom, sê Ek vir die leerlinge dat hulle op die skip moes bly. Ek gaan aan land, begelei deur slegs `n paar leerlinge, en gaan die woeste land in om `n plek te soek en om vas te stel waar Ek My etlike dae sou kon ophou en tewens veilig sou wees vir die agtervolging van Herodes.
[3] Maar `n aantal ander kleiner vaartuie het My op `n hele afstand agter ons skip gevolg en het daardeur maklik ontdek waar Ek My opgehou het, wat vir hulle nog makliker gemaak word omdat Ek verseker nie van plan was om My heeltemal vir die hulpbehoewende mensdom te verberg nie.
[4] Ek was dan ook nog geen dag in hierdie woesteny nie, toe daar uit alle stede, markte en dorpe baie mense toestroom, uitgesluit die meer as agthonderd leerlinge wat hulle al vroeër in die stede en markte by My aangesluit het en op die oggend van die voorafgaande dag deur My na hul huise toe teruggestuur was. (Matthéüs. 14:13)
[5] Baie was uit Kana in Galiléa en Kana in Samaria, baie uit Jesaïra, baie uit Kis en Sibara, uit Kapernaum, Gerasim, Césarea, Genésaret en Betabara. Hulle het nog in talle ander plekke oor My gepraat, sodat uit al die markte en stadjies `n groot massa volk ten dele oor see en vir `n deel te voet in die woesteny by My aangekom het, natuurlik met allerlei siekes en gebreklikes. Soos wat gesê is, het die dag nog maar nouliks aangebreek, toe hulle die duisend van My volgeling-pelgrims en My verblyfplek gevind het en ons omring het.
[6] Die verblyfplek wat Ek in die woesteny uitgekies het, was `n ruim grot sonder geheime uitgange. Hierdie grot het taamlik hoog gelê en die struikgewasse het dig daaromheen gestaan. Voor die grot was daar ook `n baie groot oop plato, waarop daar vir etlike duisende mense meer as genoeg plek was, en op die plato het hulle dan ook vir die mense met hul siekes `n plek gesoek.
[7] Omdat die leerlinge, wat wel geweet het waar Ek My opgehou het, sien dat daar van alle kante af massas mense na bo klim en My verblyfplek steeds meer beleër, word hulle besorg oor My. Hulle laat die skip aan agt skippersknegte oor en klim op na My toe om My te sê hoe groot die massa mense was wat daar saamgedrom staan, en dat hulle regtig nie daarvoor kon instaan dat daar geen Herodiaan onder hulle te vinde sou wees nie!
[8] Toe die goedhartige en besorgde leerlinge My so op hoogte gebring het van alles wat My tog ook wel bekend moes wees, kom Ek uit die grot en sien die waarlik groot mensemassa en Ek kry met hulle te doen toe hulle My met trane in hulle oë smeek om hul saamgebringde siekes te genees.
[9] Daarom genees Ek dan ook oombliklik alle aanwesige siekes (Matthéüs. 14:14), en ook almal wat nog moeisaam na My onderweg was. Daarop kom daar natuurlik geen end aan die dankbetuigings nie. Hoewel hul siekes onderweg reeds genees was, bly die mense tot aan die aand toestroom om hul dank en eer te kan bewys. Die ruimte voor die grot was al so goed as propvol, sodat die leerlinge regtig `n bietjie bang geword het; jeugdiges klim selfs in bome in om My beter te kan sien.
[10] Toe dit egter aand begin word, kom die leerlinge na My toe en sê: "Heer, dit is hier `n woesteny, die nag begin al aanbreek, en vir sover ons kan sien het niemand iets eetbaar saamgebring nie! Stuur die volk daarom weg om vir hulleself in die nabygeleë markte brood en iets te ete te gaan koop!" (Matthéüs. 14:15)
[11] Ek sê vir die leerlinge: "Daarvoor hoef die mense nie na die markte te gaan nie; gee julle hulle maar iets te ete! (Matthéüs. 14:16) Om te drink het hulle slegs water nodig, en daarvoor is hier genoeg ryk bronne."
[12] Die leerlinge antwoord, `n bietjie verbaas oor My wens: "Heer, ons het slegs vyf brode van garsmeel en twee gebraaide visse by ons. (Matthéüs. 14:17) Wat is dit nou vir soveel mense?"
[13] Ek sê vir die leerlinge: "Bring hulle na My toe!" (Matthéüs. 14:18)
[14] Toe die leerlinge dit doen, sê Ek vir die volk dat almal op die gras moes gaan sit, neem vervolgens die vyf brode en die twee visse, slaan My oë op na die hemele en dank die Vader, breek toe die brode in stukke en gee dit aan die leerlinge, en dit gee hulle aan die volk. (Matthéüs. 14:19) Baie vis en brood het vir die leerlinge oorgebly.
[15] En almal wat daar was, het voldoende geëet en het versadig geword. Omdat die mense egter nie alles kon opeet nie, versamel hulle die oorgeblewe stukke in mandjies soos wat die volk dit meestal saamgeneem het op reis. Hierdie mandjies was gewoonlik redelik groot, omdat hulle met skouerbande op die rug gedra is. En die mense vul twaalf van die groot korwe met die oorgeblewe brokke. (Matthéüs. 14:20) En daar het ongeveer vyfduisend mense geëet, vroue en kinders nie ingereken nie. (Matthéüs. 14:21)
[16] Dit is verstaanbaar dat hierdie spysiging, wat `n volle uur geduur het, by hierdie mense groot verbasing verwek het en ook dat hulle daarna dadelik besluit het om My as hul koning uit te roep.
[17] Maar omdat die plan van die volk vir My nie verborge was nie, gee Ek die leerlinge opdrag om dadelik na die skip en voor My uit te gaan, en oor te steek na die ander oewer, voordat Ek die volk sou wegstuur. (Matthéüs. 14:22) Dit doen Ek egter om die volk te verhinder om hulle plan uit te voer. Want sommige manne begin juis met die leerlinge oorleg te pleeg of hulle My sou kon huldig as blyk van hul baie groot dankbaarheid. Want niemand durf My regstreeks benader nie!
[18] Met die onmiddellike wegstuur van die leerlinge neem Ek die volk dus die hef uit hulle hand, en toe die leerlinge hulle na My opdrag gou inskeep in die maanlig nag, het die volk weldra hulle plan laat vaar. Na die vertrek van die leerlinge, toe hulle reeds tientalle meters uit op see was, beveel Ek die volk om na hulle huise te gaan, waarop hulle ook dadelik gewillig weggaan.
[19] Toe gaan Ek heeltemal alleen na `n nabye kaal berg en bid daar om My vleeslike mens nog sterker te verenig met die Vader. Ek het heeltemal alleen daar op die bergtop gebly (Matthéüs. 14:23) en kon selfs met die liggaamlike oë in die heldere maanskyn baie goed waarneem hoe die skip van die leerlinge, wat al in die middel van die see was, want die see was hier nie so breed nie, baie gesukkel het teen die golwe, wat deur `n taamlike sterk teenwind teen die skip geslaan het. (Matthéüs. 14:24)
|
|
|
|
|