|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 110
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Die geseënde weide. Die wandeling op die see
110 Die volgende dag al, vroeg in die môre, staan daar alweer siekes voor die huis saamgedrom.
[2] Ebahl kom na My toe en vra My om hom te help, want die mense versper die ruimte voor sy huis sodanig dat daar geen mens meer kan in of uit nie. Buite het hy ook al die hoofman gesien, wat in die huis wou kom, maar deur die dik rye siekes daar nie kon deurkom nie!
[3] Daarop gaan Ek na die voorportaal, hef My hande op oor die siekes - en hulle word almal dadelik gesond, uiter vreugdekrete en loof en roem God in die hoogte, wat vir die mens sulke mag gegee het!
[4] Maar Ek beveel hulle om te swyg en na hulle huise te gaan en voortaan die sonde te vermy! En gehoorsaam gaan almal huistoe.
[5] Daarna sê Ek aan Ebahl: “As daar gedurende die dag nog meer hier kom hulp soek, dan moet hulle nie op die openbare pad nie, maar oorkant die openbare pad op die omliggende weide plek inneem, daar sal hulle gehelp word; maar wie op die openbare pad bly, sal nie gehelp word nie!” - Vervolgens seën Ek die weide, sodat elkeen, wat as sieke die weide daarna betree het, dadelik gesond geword het.
[6] Daar het op hierdie dag verskeie honderde siekes uit alle stede, markte en dorpe gekom en daaronder was daar nie een wat nie genees was nie.
[7] Beide die Esseners sit van uur tot uur groot oë op en etlike fariseërs en skrifgeleerdes vererg hulle nou van uur tot uur ook steeds meer, omdat hul aansien wel van uur tot uur tot niks gesink het nie. Want mense het heeltemal nie meer na hulle gekyk nie en het hulle niks meer gevra nie, en Ebahl se mense laat hulle so nou en dan selfs verstaan dat hulle nou volkome oorbodig in die huis was, en dat dit `n geskikte oomblik was om na Jerusalem toe te gaan. - Maar hulle neem die raad nie aan nie, en bly hier.
[8] Na `n tyd kom een van die fariseërs na my toe en vra My of hierdie weide voortaan so sou bly.
[9] Ek sê: "Slegs gedurende hierdie dag, tot sonsondergang!"
[10] Die fariseër sê: "Waarom dan nie vir altyd nie?"
[11] Ek sê: "Omdat daar sekere mense is wat maar al te gou so `n weide hoog sou omhein en dan van diegene wat gesond sou wou word, baie goud en silwer sou eis. Omdat Ek dit nie wil nie, bly hierdie weide slegs tot vanaand toe genesend, omdat die toeloop van mense te groot is. - Môre, wanneer daar maar weinig hierheen sal kom om genees te word, sal hulle deur hul geloof en hul vertroue genees word!"
[12] Na hierdie uitleg keer die vraers My vererg die rug toe en vra My verder die dag niks meer nie; maar die Esseners bemoei hulle daarenteen veels te ywerig met My.
[13] Die hoofman vererg homself en hy sou hulle graag wou sê dat hulle nou genoeg met My gepraat het, maar ter wille van My hou hy hom tog met alle geweld in.
[14] Die middag stuur Ek beide na Matthéüs en My ander leerlinge, waaronder hulle gou vir Bartholoméüs vind, waarmee hulle goed kon gesels omdat hy, soos wat bekend is, ook `n Esseen was. Tot middernag praat die twee met die leerlinge oor My leer, My dade en oor My goddelike wese.
[15] Intussen onderneem Ek in die middag met die hoofman, Ebahl en sy familie `n wandeling na die see, waar die agt knegte wat die skip versorg het, omdat dit hier en daar al ietwat beskadig was, goed en sorgvuldig opgeknap het. Toe ons by hulle kom, verskaf dit hulle baie genoeë om die hoofman te vertel dat Ek op die see geloop het. Want hierdie gebeurtenis kon die agt maar nie uit die kop en uit die hart kry nie.
[16] Toe die hoofman dit gehoor het, vra hy My hoe dit dan nou moontlik was.
[17] Ek sê aan hom: "Ek het jou tog gister al vertel watter magte My gehoorsaam en My moet dien! Waarom vra jy dan daarna? Origens, as jy jou voete op die water durf stel, en Ek dit wil, sal jy óók daarop kan loop solank as wat Ek dit wil! As jy sin daarvoor het, dan probeer ons dit dadelik! Jy moet egter nie twyfel nie, maar dapper en moedig volg!"
[18] Die hoofman sê: "Alles goed en wel, as die see hier by die oewer maar nie dadelik so diep sou word nie! Van hier af gaan dit aan weerskante orals loodreg na benede! Veronderstel dat die eerste stap tog nog sou misluk - dan sou `n mens onmiddellik daar onder wees waar die groot monsters en salamanders woon!"
[19] "Kleingelowige" sê Ek, "dink jy dan dat Ek My lewe sou waag? Ek weet tog wie Ek is en wat daar alles aan My wil moet gehoorsaam? - Wie van julle die moed en geloof het, volg My!"
[20] Daarna stap Ek op die oppervlakte van die see - en hy dra My soos vaste grond. So loop Ek tien treë van die oewer af, draai My om en nooi die geselskap uit om na My toe te kom, maar hulle durf nie.
[21] Toe roep Ek die twaalfjarige jongste dogtertjie van Ebahl, en die meisie skep moed en sit aanvanklik die eerste voet heel behoedsaam op die water. Maar toe sy haar daarvan oortuig het dat die water nie opsy gaan nie, maar haar voet net soveel teenstand bied as `n rotsbodem, begin sy dadelik baie opgewek na My toe te huppel en het baie plesier daarin dat die water haar dra!
[22] Na die meisie probeer die ander dit ook, behalwe die hoofman, en almal het goed na hulle sin op die nou baie rustige water gespeel.
[23] Die hoofman, stom van verbasing, vra My tog al half moedig: "Wat sou daar dan gebeur as daar `n storm sou kom?"
[24] Ek sê: "Kom en oortuig jouself!"
[25] Eindelik probeer die hoofman ook `n voet op die water te sit, en toe dit vir hom blyk dat die water nie wyk nie, sit hy uiteindelik heel behoedsaam ook die tweede voet langsaan, maak hom so lig moontlik, en met ingehoue asem loop hy die tien treë na My toe, en was baie bly toe hy by My op `n oppervlak staan wat nog nooit op hierdie wyse betree was nie.
[26] Ek sê: "Wel, omdat julle oortuig is dat vir diegene wat vas glo, ook die water vaste grond is, sal ons nou ons wandeling voortsit!"
[27] Die hoofman sou liewer na die vaste grond van die oewer wou teruggegaan het, maar die ses vrolike dogters van Ebahl bemoedig hom deur sorgeloos heen en weer te loop, sodat hy dan ook met ons, ongeveer vyfduisend treë ver, op die reeds taamlik woelige see geloop het.
[28] Daar steek egter `n baie sterk wind op en begin groot golwe voor hom uit te dryf. Almal word bang en die hoofman vra My of Ek wou omdraai.
[29] Maar Ek sê: "Wees nie bevrees nie! Die golwe kom slegs maar om jou daarvan te oortuig dat ook hulle, saam met die wind wat hulle opjaag, My moet gehoorsaam."
[30] Na `n oomblik egter, toe die golwe steeds geweldiger aangerol kom, draai die hoofman om en loop so vinnig as wat hy kan, bereik weldra die oewer en was na `n tyd van koorsagtige gebibber, buitengewoon bly om weer `n ondeursigtige vaste bodem onder sy voete te hê. - Nie lank daarna keer ook ons terug na die verbaasde hoofman.
|
|
|
|
|