Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 242

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die wonder met die klip

242 Jarah sê: "Ja, geagte vriende, oor die Verlosser uit Násaret sou ek u `n duisend jaar lank aanéén die mees buitengewone dinge kon vertel, ten minste as die oomblik sal kom om al die gesiene en beleefde te mag vertel. Maar Hy het dit vir my om heel wyse redes verbied, en daarom mag ek nie alles oor Hom vertel wat ek weet nie, maar slegs `n paar dinge waarvoor Hy Self aan my Sy welwillende toestemming gegee het.

[2] Maar vroeër het ek ook onder andere aan u gesê dat vir Hom, die goeie Verlosser uit Násaret, ook son, maan en al die sterre sou moes gehoorsaam, omdat vir Hom selfs die engele uit die hemel gehoorsaam. Ek merk dat daar toe onder u `n paar glimlaggend die hoof skud en daarmee in ‘n sekere opsig wil sê: 'Liewe kind, nou gaan jy in jou kinderlike verbeeldingskrag ietwat te ver, want die suiwere engele van die hemel gehoorsaam slegs maar God en niemand anders in die hele oneindigheid nie!' Maar ek sê vir u dat dit tog is soos wat ek dit baie eenvoudig vir u vertel het.

[3] Ek sou al eerder `n onomstootlike bewys daarvoor gelewer het as u nie geglimlag en die hoof baie twyfelagtig geskud het nie. Maar nou sal ek u twyfel volledig wegneem, en u sal my dan regtig nie meer so maklik as `n verliefde jong dweepster beskou wat met betrekking tot die voorwerp van haar liefde gewoonweg, soos wat dit in die wêreld gebruiklik is, van `n muggie maar al te graag `n olifant maak nie. O, dit kan ongetwyfeld by baie meisies van die grote wêreld die geval wees, maar by my is daar nie die minste spoor daarvan te vinde nie - waarvan ek u dadelik die lewendste en beslis sigbaarste bewys sal lewer.

[4] Kyk maar gou na die jongman wat op die tweede plek regs van my sit en vroeër met die hier reg naas my sittende seun van die verhewe Cyrenius gesit en praat het – vir wat beskou u hierdie jongman?"

[5] Die ondervraagdes sê: "Nou, vir `n mens van vlees en bloed - net soos ons almal!"

[6] Jarah sê, terwyl sy nou effens glimlag en die kop skud: "Mis, heeltemal mis, liewe vriende! Kyk, dit is `n suiwer aartsengel van God, wat die beroemde Verlosser uit Násaret vir my, uit die byna deur almal gesiene enorme aantal engele, na my algeheel eie keuse gegee het om my gedurende verdere tye te lei, te leer en te begelei! Maar as u dit nie op my woord kan glo nie, kom dan hier en oortuig u daarvan met al u sintuie, want hy sal u vir enkele oomblikke ten dienste staan!"

[7] Die vroeëre spreker sê: "Ja, daarvan moet ek my tog dadelik met hande en voete oortuig, want anders staan hierdie buitengewoon wyse meisie, wat my aanbetref, sprokies en vertel!"

[8] Na hierdie woorde staan die jong fariseër op en gaan vol respek na Jarah toe en sê: "Wel, hoe oortuig jy my nou van die waarheid van wat jy gesê het?"

[9] Jarah sê: "Gaan maar na die jongman, wat Rafael heet, hy sal u self oortuig!"

[10] Die jong Fariseër stap daarop dadelik op Rafael af, en Rafael staan op, kyk die jong Fariseër strak aan en sê: "Waarom twyfel jy aan dit wat my leerling jou oor my vertel het? Hier, vat my hand en sê my wat jy daar voel!"

[11] Die fariseër doen dit dadelik en sê baie verwonderd: "Hmm, merkwaardig, ek voel eintlik heeltemal niks behalwe my eie algeheel geslote hand nie, waarin nog geen muggie, laat staan jou hele hand, dit sou kon bevind nie! Kortom, ek gryp jou deur en deur vas en ontdek daardeur dat jy nie soos ons uit vlees en bloed bestaan nie."

[12] Rafael sê: "Tel die klip op wat by jou voete lê en gee dit dan aan my!"

[13] Die jongman tel `n klip op wat goed dertig pond weeg, maar maak daarby die opmerking: "Geestelike wese, as my hand heeltemal deur dié van jou deurgaan, dan sal hierdie swaar klip straks ook wel deur jou hande deurval asof dit van lug is, want die klip weeg op sy minste dertig pond, en as dit dan deur jou hande op my voete val, verbrysel dit hulle!"

[14] Rafael sê: "As dit gebeur, genees ek hulle binne die volgende oomblik. Gee die klip dus maar gerus in my hande!"

[15] Toe gee die jong fariseër die klip oor in die hande van Rafael.

[16] Wanneer Rafael die swaar klip tot die verbasing van die fariseër so speels en liggies in sy hande hou asof dit so lig soos `n veertjie is, en dit ook met so `n verbasingwekkende gemak van die een hand na die ander gooi asof dit `n donsballetje was, sê die jong fariseër: "Luister eers lieflike gees of iets dergeliks, dit sou nie goed wees om met jou `n geveg aan te gaan nie, dan sou `n mens seker ontsettend aan die kortste end trek! - Maar waar kry jy die ontsaglike krag vandaan?"

[17] Rafael sê: "Kyk, dit is nog nie alles nie. Ek sal nou, terwyl jy toekyk, hierdie baie harde kieselsteen* ook heeltemal verpoeier!" - Toe knyp Rafael in `n oogwink die steen tot sigbare stof, sodat daar op die tafel voor Rafael nou `n hele hoop baie fyn wit stof lê.

[*Chemiese verbinding van kiesel met suurstof: H A T]

[18] Toe die jong fariseër hierdie tweede behendigheid sien, val sy mond oop van verbasing en sy kollegas kom ook vinnig aangehardloop om hierdie wonder van naby te kan sien.

[19] Toe sê die engel: "Vir iemand wat alle krag besit, is dit minder moeilik om so `n klip tot stof te verpoeier as om die stof weer tesame te druk in sy vroeëre vorm en sy vroeëre hardheid. Want enige mens kan so `n klip verpoeier, hoewel miskien nie met sy hande soos ek nie, maar tog wel deur middel van baie harde metaal hamers. Maar die weer saampers van die klipstof sal nouliks vir `n mens moontlik wees - veral na die oorspronklike vorm toe. Maar om jou te laat sien dat ek dit ook kan doen, moet jy kyk en sien of jy my dit kan nadoen!"

[20] Toe vee Rafael die klipstof op die tafel bymekaar, en in `n oomblik ontstaan die klip, weer in sy vroeëre vorm en met sy oorspronklike gewig, op die tafel voor die engel.

[21] Tydens hierdie gebeure val die jong fariseër en al sy kollegas se oë van pure verbasing byna uit hulle kaste, sodat hulle nou nie in staat was om `n redelike woord oor hulle lippe te kry nie.

[22] Maar die engel sê aan hom: "Wel, dit is alles nog niks nie! Let nou op, ek sal hierdie klip alleen maar deur my wil in `n oomblik heeltemal in die niet oplos!" - Toe sê die engel aan die klip: "Los jouself op in ooreenkomstige eter en vervlugtig as baie fyn eter!" - Na hierdie beveelde woorde, word die klip oombliklik onsigbaar, en geen `n mens sien meer iets van die klip nie. - Toe vra die engel aan die jong fariseër: "Wel, hoe geval dit jou, vriend? Sou jy my dit miskien kon nadoen?"

[23] Die jong fariseër sê: "Luister, liewe engelgees of wat jy ookal is, dit is iets ongehoords! Wat my betref glo ek nou heeltemal dat jy `n engel van God is. Ek verstaan net dit nog nie, naamlik hoe jy met jou, sê maar, almagtige krag diensbaar kan wees aan `n mens van hierdie aarde! Want dit sê hierdie meisie oor die bewuste Verlosser uit Násaret, en ek moet dit nou van haar aanneem, of ek dit nou wil of nie.

[24] Is daar dan regtig `n manier op hierdie aarde waardeur `n mens engele aan hulle diensbaar kan maak? Hoe kry `n mens dit dan bymekaar? Ons ken uit die skrif ook wel voorbeelde waarby engele op God se bevel die mens gedien het, maar soos wat jy jou nou onder die sterflike mense bevind, so `n voorbeeld vind jy nêrens in die skrif nie! Nee, nee, vriende, alles is hier nie so baie pluis nie! Jy kan natuurlik wel `n engel van God wees, maar ook selfs net so goed iemand heel anders, waarvan `n mens sê: 'JaHWeH, staan ons by!' - Dit is nou nag, selfs middernag, en dan voeg die 'JaHWeH staan ons by' hom graag by die mense. Jy lyk my weliswaar vir so `n 'JaHWeH staan ons by' veels te mooi, sag, goed en wys, maar moet jy daaraan wel soveel waarde heg!? Maar sou jy egter tog die eer hê om by die 'JaHWeH staan ons by' te behoort, dan verwag ons van die kennismaking met die merkwaardige 'Verlosser' uit Násaret nie so besonder baie nie, want daardie proefie met die klip het my nou op heel vreemde gedagtes gebring, - JaHWeH staan ons by! Mense sê nie verniet dat die satan ook die ligtende gestalte van die hemele kan aanneem wanneer hy maar wil nie! En as jy so `n 'JaHWeH staan ons by' sou wees, dan sou ons liewer hiervandaan vlieg as loop, want dit sou hier vir ons verder nie so baie pluis kon wees nie!"

[25] Na hierdie woorde van die jong fariseër wil almal nou op die vlug slaan, maar Cyrenius verhinder dit en sê dat hulle weer op hul ou plekke moet gaan sit. Hulle gaan wel op hulle plekke sit, maar hulle sit nou op hul banke asof hulle met naalde gesteek word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205