|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 131
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Op die bergtop van die Môrekop
131 `n Paar treë later bevind ons onsself al op die hoogste punt, wat egter baie geskeurd, gekloofd en verbrokkeld daar uitsien en nouliks `n staanplek bied vir dertig mense sonder hoogtevrees.
[2] Dit geval ons hoofman egter nie en hy sê: "Die uitsig is wel onbeskryflik, fantasties mooi, maar die slegte na alle kante sterk afhellende en ook verder baie oneffe bergplato doen baie afbreuk aan die glansryke genot!"
[3] Ek sê: "Vriend, gaan sit as jy duiselig word en julle ander ook! Ek sal egter bly staan."
[4] Die hoofman sê: "Dit sal aangenaam wees om te gaan sit, maar waar? Werklik, die uitsig is pragtig; jy sien hier oor hele Galiléa en ook `n groot deel van Judéa - ook kyk jy in die land van die Samaritane, maar die onherbergsame hoogte en die vrees vir `n moontlike val na benede, bederf vir my die ware genot ontsettend! Ek weet dat niks met my kan gebeur nie, en tog is ek bang! Waarom dan?"
[5] Ek sê: "Omdat jy nie verstaan waarom jy nou nie onmoontlik na benede kan val nie; dit is die rede vir jou angs. Kyk eers na My liewe Jarah, sy spring nou so kommervry soos `n gemsbok in die rondte, terwyl haar susters en selfs Ebahl bleek van angs daarby staan. Tog het geen afgrond haar nog verslind nie, omdat sy `n vaste geloof het dat sy in My teenwoordigheid niks kan oorkom nie. As julle almal dieselfde vaste geloof sou gehad het, dan sou julle net so onbekommerd gewees het as sy!"
[6] Die hoofman, onder wie se regtervoet `n rots is, wat sy voet juis gesteun het, en waarop hy nou gaan sit, sê: "Die adelaar sou wel vas kon begin glo, want sy vleuels behoed hom vir die val, maar `n mens soos ek, onder wie se voete enige oomblik die ander stuk rots kan loskom, kan met die beste wil geen vaste geloof soos wat Jarah het, kry nie! Sou ek op hierdie nouliks twee manslengtes breë, en hoogstens so `n vyftig manslengtes lange bergklip, ook maar één van Jarah se gemsbokspronge probeer maak, dan sou ek ook weldra êrens benede in stukkies uiteen gespat lê! O, was ek maar eerder onder!"
[7] Toe spring Jarah na die hoofman toe en sê: "Maar liewe Julius, ek smeek jou, wees tog nie so bang nie! Daar kan onmoontlik iets met jou gebeur! Die Heer het ons oor die steilste hellings na bo gebring, ons sweef eintlik slegs maar naas die wande in die lug omhoog, want op so `n weg het `n mens nog nooit gegaan nie. En wie van ons het iets oorgekom tydens die ongehoorde bestyging van hierdie, na alle kante naakte en loodregte steil reus van `n rots? Maar as ons so goed na bo gekom het oor die gevaarlike plekke, waarom moet ons dan nou hier skielik bang word dat ons werklik na benede kan val? Kom, my liewe Julius, en wees terwille van my `n bietjie vroliker! Weet jy, ek kan nie teen so `n bang en treurige gesig vaskyk nie!"
[8] Dan wil die kleintjie die hoofman by die hand neem en met hom rondloop, maar die hoofman roep hardop: "Terug! Bly steeds drie treë van my af, klein heks! Dit skeel jou nie baie nie of jy het my, met jou opsetlike sprong, oor die rand na benede gedruk! O ek ken jou, meestal is jy `n seldsame goeie, liewe en selfs wyse meisie, maar soms kom daar `n natuurlike moedswilligheid oor jou en dan sê ek: Bly drie treë van my af! Ek hou anders baie van jou, maar hier op hierdie hoogte van minstens tweeduisend manshoogtes moet jy steeds drie treë van my af bly! Jy het alles korrek en wys gesê, maar ek kan niks aan my duiseligheid op sulke hoogtes doen nie. Ek weet en glo dat daar niks met ons almal sal gebeur nie, maar ondanks dit kan ek my tog nie verset teen die hinderlike duiseligheid nie, en daarom moet jy geen grappies met my maak nie!"
[9] Jarah sê: "Ag, wat dink u wel? Hoe kan u ook maar in die minste veronderstel dat ek grappies met u sou uithaal!? Kyk, ek is vas daarvan oortuig dat nóg ek, nóg u, iets hier kan oorkom, en ek spring maar slegs daarom so dapper na u toe, omdat u so angstig is, sodat ek u kan help! Hoe kan u vir my daaroor so kwaad word en my as `n heks uitskel? Kyk, liewe Julius, dit was ook nie regverdig van u nie!"
[10] Daarby kom daar trane in die oë van die kleintjie. - Toe hy dit merk, spyt dit hom dat hy Jarah so hard aangespreek het, en hy (die hoofman) sê: "Nou, nou, wees maar weer goed! Benede sal ons beide wel weer tesame oor die mooie grasvelde wandel, maar hier is die ruimte daarvoor `n bietjie te klein, en ek kan soos wat gesê is, nie teen my vervelende duiseligheid stry nie!"
[11] Jarah sê: "Duiseligheid is ook `n siekte! Die Verlosser van alle verlossers is hier; Hom vir Wie dit moontlik was om so talle honderde te genees van hul kwale, dit sal ook baie moontlik wees om u van u duiseligheid te bevry! Vra Hom daarvoor en Hy sal u genees!"
[12] Die hoofman sê: "Luister, liewe Jarah, dit is nou `n beter geluk as die eerste een! Dit was `n beter sprong as jou vroeëre een toe jy my byna oor die rand gedruk het! Kyk, hierdie raad van jou sal ek ook dadelik opvolg!"
[13] Toe wend die hoofman hom tot My en vra: "Heer, bevry my van my angs en my duiseligheid in die hoof!"
[14] Ek sê aan Ebahl: "Gee My eers `n beker wyn!"
[15] Ebahl gee My dadelik `n klein sak vol en `n beker.
[16] Ek vul die beker en gee haar aan die hoofman met die woorde: "Hier, neem en drink, en jou duiseligheid sal verdwyn!"
[17] Die hoofman neem dadelik die beker en drink daaruit. Toe hy die beker leeg gedrink het, verdwyn al sy vrees en alle duiseligheid dadelik, sodat hy nou heeltemal vrolik word en hom deur Jarah na alle kante van die berg laat rondlei en heel gesellig langs die steilste wande na benede kon kyk.
[18] Toe alle ander dit by die hoofman sien, vra hulle My ook om van hul lastige vrees bevry te word. En Ek laat almal wyn drink en opeens word die hoogte so lewendig asof dit `n volkstuin was.
[19] `n Deel bestudeer die uitgestrekte landerye, `n tweede deel sing selfs psalms, `n derde kyk langs die wande na benede en soek `n plek vir `n moontlike terugweg. Omdat die mense egter nie so `n plek kon ontdek nie, en die son al byna ondergegaan het, kom die leerlinge spesiaal en sê: "Heer, nog `n halfuur en dan is die son onder, wat moet ons dan op hierdie hoogte doen?"
[20] Ek sê: "Daaroor hoef julle julleself nie bedruk te maak nie! Wie glo, sal vannag op hierdie hoogte God se Glansrykheid sien straal. Ons bly hier!"
[21] Toe die leerlinge dit hoor, word hulle stil en soek veilige rusplekke op.
[22] Die hoofman kom ook en vra My of ons binnekort sou teruggaan aangesien die son byna ondergaan het.
[23] Maar Ek sê ook aan hom wat Ek aan die leerlinge gesê het, en dit was voldoende vir hom en hy gaan ook op `n vaste en taamlik vlakke rots sit.
[24] Slegs Jarah sê, toe die son net aan die horison raak: "Heer, my liefste, ons gaan tog nog nie nou na die huis toe terug van hierdie aangename hoogte nie? Ek sou tog o so graag die sonsopkoms wil sien!"
[25] Ek sê: "Gedurende die nag bly ons hier en ons sal eers op die oggend van die sabbat teruggaan, maar gedurende die nag sal jy net soos alle ander die Glansrykheid van God sien straal!"
[26] Dit bring die kleintjie so in verrukking dat sy aan My voete neersink en vir `n kort tyd in `n soort onmag verval.
|
|
|
|
|