|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 69
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Weer in die grafkelder van Jaïrus
69 Weldra kom ons daar aan, betree die sinagoge en gaan na die grafkelder waarin Sarah meer as vier dae gelê het, waar die lykbande en doeke nog steeds lê waarmee Sarah as dooie in toegedraai was, waar daar egter ook `n dooie uit die vriendekring van Jaïrus lê. Hy was `n seun van twaalf jaar oud, wat al anderhalf jaar gelede aan `n kwaadaardige siekte oorlede is. Hy lê in `n kis van sederhout en was al geheel en al tot op die gebeente vergaan.
[2] By die aanskoue van hierdie kis kry Jaïrus trane in sy oë en hy sê half huilend: "Is die wêreld tog nie vreeslik nie! Die teerste blomme ontluik op haar bodem en wat is hulle lot? Om te sterwe en te vergaan! Die welriekende geur van die roos word maar al te gou die geur van walging en die tere, onskuldige lelie versprei tydens haar ontbinding `n weersinwekkende aroma; die hemelsblou van die hiasint word dofgeel soos die dood en die angelier sterf – net soos duisende van haar welriekende susters.
[3] Hierdie seun was, as `n mens dit kon sê, `n engel! Die vrees van God het hom reeds vanaf die wieg besiel, en op sy tiende jaar het hy die Skrif al geken en het hy die gebooie soos `n vrome, volwasse Judeër onderhou, kortom, sy waarlik kinderlike vrome lewenswandel en sy verbasende lewendige geestelike vaardighede was regverdiging vir ons mooiste verwagtinge. Maar hy kry toe `n kwaadaardige siekte en geen dokter het daarmee raad geweet nie, en so sterf hierdie seun met alles wat `n mens met reg binne `n afsienbare tyd van hom sou kon verwag het.
[4] Dan vra jy jou tog af waarom JaHWeH God, wat vol liefde en barmhartigheid is, dit doen aan mense wat op Hom hoop en vertrou! Duisende arm kinders dwaal sonder onderdak en beskaafdheid rond, en God roep hulle nie van hierdie aarde af weg nie, maar kinders van ouers wat alle moontlikhede besit om hul kinders `n opvoeding te gee wat aan God welgevallig is, moet gewoonlik die onderspit delf! Waarom dan op hierdie manier?
[5] As dit vir God welgevallig is om maar slegs verwilderde kinders op hierdie aarde te stel, wat nouliks vyf woorde kan praat, dan doen God goed daarmee deur elke kind wat wys dat hy meer verstand besit, dadelik van die aarde af weg te neem en slegs die sukkelaars naas die ape in die lewe te laat oorbly! Maar as God die bedoeling het om geestelik aktiewe, vrome, God kennende en liefhebbende mense op hierdie aarde te hê, dan voel ek dat God meer op die lewe van sulke kinders moet let, as wat tot nou toe treurig genoeg die geval was!"
[6] Ek sê: "Beste vriend Jaïrus, jy praat soos wat jou menslike verstand dit vir jou ingee, maar God doen dit wat Hy op Sy goddelike manier al die eeue insien en verstaan, en wat Hy moet insien en verstaan, omdat jy en alles wat bestaan andersins nie sou bestaan het nie! Maar daarnaas doen jy met jou verwyte tog vir God `n onreg aan.
[7] Want as God alle kinders, wat reeds in hul jeug gees en talent vertoon het, van die wêreld af sou wegneem, dan sou julle almal, die wat nou hier by My is, al in die aarde vergaan het! Maar omdat julle nog behoorlik op julle leeftyd hier is, is jou verwyte aan God nie geregverdig nie! Want julle was in julle jeug ook geestelik veelbelowend, julle was ook kinders van, in elke opsig, baie vermoënde ouers, en tog het God julle laat lewe, terwyl Hy elders by die heidene talle duisende kinders deur maagkoors en baie ander kwaadaardige siektes van die aarde af weggeneem het. En daarvoor het die arme ouers net soveel leed gedra as die ouers van hierdie seun, wat tans nog lewe en in sy plek drie arm kinders aangeneem het. Hierdie drie kinders is nou heel waardige opvolgers van hierdie een kind, wat in die loop van tyd vanweë sy aansienlike talente te veel vertroetel en verwen sou word deur sy ouers, wat hom meer liefgehad het as vir God. Hy sou ten slotte geheel en al nie voldoen het aan die hoë verwagtinge van sy ouers nie, want hy sou slegs `n ingebeelde, trotse en eiesinnige sukkelaar geword het, waarmee geen hoëpriester iets te doen sou wou hê nie!
[8] God sien dit egter al aankom, neem hom op die regte oomblik weg van hierdie wêreld af en gee hom in die hiernamaals aan die engele vir `n beter opvoeding, sodat hy vinniger die bestemming kan bereik wat God heilig vir elke mens vasgestel het.
[9] Bowendien het God ook voorsien dat die tyd nou sou aanbreek waarin God se Naam voor julle verheerlik sal word. En kyk, daarom laat God hierdie seun al anderhalf jaar gelede tot sterwe kom, sodat hy ver genoeg ontbind sou wees wanneer God die Heer hom weer sal opwek. Daarom, tel die kis nou uit en maak hom oop!"
|
|
|
|
|