|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 181
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Markus en die Farisese tienderjagters
181 Ons ontdek egter daarby ook dat `n aantal fariseërs uit die stad Césarea-Philippi baie naarstigtelik op pad was na die armoedige hut van Markus. Matthéüs, die jong tollenaar uit Sibara, wat al voorheen by Kapernaum die fariseërs behoorlik van repliek bedien het toe daar `n sieke genees was wat mense vanweë die talle menigtes deur die oopgemaakte dak van die huis en deur die plafon van die kamer voor My neergelaat het, sê: "Die gebroedsel moes berig gehad het oor U aanwesigheid hier! Maar van wie? As die seuns van Markus, wat tweemaal met vis na die stad gery het, ons maar net nie verraai het nie!"
[2] Die ou Markus sê: "Dis bes moontlik, want so braaf soos wat my seuns origens is, het hulle tog die kwaal om graag te praat, waardeur hulle al menige onheil veroorsaak het. Ek sal dadelik na benede gaan en hulle daaroor vra."
[3] Ek sê: "Bly maar rustig hier! Want nóg jou seuns, nóg iemand anders uit die omtrek het My verraai. Hulle kom slegs vanweë die visse na jou toe; hulle wil `n gawe hê van ongeveer honderd visse van die soort wat hulle wel in die stad gesien het, maar nie gekoop het nie. Jy weet wel dat hulle orals die reg het om die tiende te neem waar daar geoes word. So `n ryke visvangs is ook `n egte ryke oes en daarom meen hulle die reg te hê om daarvan die tiende te eis. Gaan daarom na benede en gee `n honderd visse, dan sal hulle jou prys en die visse neem en dadelik baie rustig daarmee weer huis toe gaan!"
[4] Markus sê: "Maar hoe sal hulle honderd visse vervoer?"
[5] Ek sê: "Bekommer jou maar nie daaroor nie, dit soek hulle wel uit! Kyk maar gou, hulle is al redelik naby en nou kan jy tussen hulle in `n lasdier sien loop wie se rug al van alles voorsien is om die visse te vervoer."
[6] Markus kyk heelwat skerper na die klein karavaan wat sy woonplek nader en ontdek dan sonder baie moeite dit waarop Ek hom opmerksaam gemaak het, en sê: "Heer, dit is soos wat U gesê het! Ek gaan nou gou na benede, daar staan die honderd visse in die groot bak alreeds vir hulle klaar, waaroor hulle hulleself sekerlik goed sal verbaas!"
[7] Ek sê: "Gaan en doen dit! Maar as hulle jou vra hoe jy dit kon weet, gee dan `n slim antwoord; met `n leuen mag jy hulle nie afskeep nie!"
[8] Markus gaan en laat dadelik honderd visse uit die vishouers haal en in die groot bak sit. Toe hy net met die werk klaar was, arriveer die groep jong fariseërs al en vra na die visser Markus. Markus meld hom dadelik aan en sê, omdat hy hom nog by die visbak bevind: "Hier is ek, en hier in die bak lê dit waarvoor julle waarskynlik gekom het! Dit is die nougesette afgemete tiende van die visse, bestaande uit honderd stuks van die mees uitgelese visse wat nog ooit in ons see gevang is!"
[9] Die fariseërs is totaal verbluf deur hierdie toespraak en een van hulle sê: "Maar is jy dan `n profeet, dat jy vooraf al geweet het waarvoor ons uit die stad hiernatoe gekom het?"
[10] Markus sê: "Daarvoor hoef jy helaas geen profeet te wees nie, daarvoor het jy maar slegs vyf goeie sintuie nodig en `n bietjie verstand, dan kan jy maklik beredeneer waarom julle uit die stad gekom het! Hier, neem die vis en gaan in vrede weer verder! Ek het vandag nog baie te doen en dit is al byna middag. Ons het vandag baie werk verrig en moet ons middagete gaan klaarmaak!"
[11] Een van die fariseërs antwoord: "Vir straf sal jy aan ons by die honderd en dertig ekstra moet gee. Want dit was nie mooi dat jy ons as dienaars van God, wat steeds vir jou heil tot God die Almagtige smeek, nie dadelik ná die vangs, deur middel van jou kinders, die eerste visse gestuur het nie!"
[12] Markus sê: "Daar, daar het jy nie dertig nie, maar veertig stuks daarby! En nou hoop ek dat julle tevrede is, en – dat julle gou weer vertrek!"
[13] Die fariseërs sê: "Ons het van God die reg om te kom en ook om te gaan wanneer ons wil! Maar as jy die visse in ons saamgebringde sakke sit, dan sal ons verder gaan!"
[14] Markus gee sy kinders opdrag om te doen wat die fariseërs sê. Hulle doen dit dadelik en vul die sakke van die fariseërs met die nou honderd en veertig visse aan.
[15] Toe die werk klaar is, sê Markus: "Nou is alles gedoen wat julle gevra het. Is julle tevrede?"
[16] Toe sê `n baie brutaallykende jong fariseër: "Nee, en nog `n honderd maal nee! Want jy praat met ons soos met wêreldse mense wat jou lastig val en vergeet daarby dat ons dienaars van die almagtige God is, wat met in `n sug vir ewig ten gronde kan rig! Jou uitdagende houding teenoor ons moet daarom nie slegs met honderd en veertig visse nie, maar met die onteiening van alles wat jy besit, bestraf word!"
[17] Nou word Markus baie boos. Hy loop die hut in en kom dadelik weer na buite met `n perkamentrol waarop met groot letters geskryf staan, dat hy geheel en al `n Romein was en as sodanig, as hy dit wou, volkome gebruik kan maak van alle regte van `n vrye burger van Rome.
[18] Toe vra die brutale fariseër, ietwat uit die veld geslaan: "Wel, hoe lank is jy dan al heidens? Na ons beste wete was jy tog nog kort gelede `n Judeër!"
[19] Markus sê: "Markus was nooit `n Judeër nie, maar `n gebore Romein, wat Mars so `n dertig jaar met swaard, helm en skild gedien het. Maar hierdie Markus word gedurende `n proeftyd van drie jaar `n onbesnede Judeër. Hy het egter weer volledig Romein geword, en sal ook so sterwe! Hy sien naamlik, behalwe die verhewe goddelike leer van die Judeërs, maar al te gou hoe eerloses heimlik hul God en hulle leer met die voete vertrap, en die arme mensdom by elke geleentheid bedrieg, en dat bose en gewetenlose huigelaars die priesters van hierdie verhewe godsdiens is. Hy sien ook dat hulle hul God wel uiterlik dien voor die blinde volk, maar dat hulle hul harte begrawe het in die diepste diepte van die hel en daardeur ook in staat is om gewetenloos skandelike handel te dryf met die bloed van onskuldige Samaritaanse kinders! Neem nou julle buit maar saam en gaan daarmee huis toe! Ek gee dit slegs vir julle omdat ek kort gelede nog vir drie jaar lank `n onbesnede Judeër was!"
[20] Die fariseërs sê: "Maar Markus, hoe kom dit dat jy nou opeens so `n verstandige mens geword het? Ons ken jou tog al so lank as `n baie dom mens! In ons teenwoordigheid het jy dikwels skaars geweet of jy `n man of `n vrou is, hoe het jy dan nou opeens aan soveel verstand gekom?"
[21] Markus antwoord: "Dit was `n baie slinkse Romeinse masker om vermom as `n oerdomme kêrel sonder moeite agter al julle kwade liste, streke en skanddade te kom! Maar ek staan tog daarvoor in dat ek Moses en al die profete beter kan verstaan as julle - hoewel ek daadwerklik `n Romein is, maar in my hart reeds lank `n egte Judeër is!"
[22] Die fariseërs sê: "Sonder die besnydenis kan niemand `n Judeër wees en God nader nie!"
[23] Markus sê: "Ek het ook nooit probeer om op julle manier tot God te nader nie, maar slegs in die hart volgens die leer van die profeet JeshaJaH en dit is vir my voldoende. As ek deur God verdoem sou word omdat ek my nie laat besny het nie, dan sal dit julle weinig traak. Maar ek dink: God is wyser as alle mense en oneindig wyser en beter en regverdiger as julle, en Hy kyk slegs na `n suiwer besnede hart, en nie na die besnydenis van die voorhuid nie, wat maar slegs `n aardse doel kan hê, maar in die geestelike aard van die saak dom is. Omdat ek in my hart `n Judeër is, gee ek julle tog die tiende, maar ek gee hom vrywillig en julle het geen greintjie reg om `n tiende van my, as Romeinse burger, te eis nie. Gaan nou maar, anders neem ek die visse terug en laat julle met niks huis toe gaan! - Verstaan julle my mooi?"
[24] Na hierdie kragtige toespraak van onse Markus sê die fariseërs geen woord meer nie, en gaan met die visse huis toe.
|
|
|
|
|