Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 103

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Genésaret. Die herberg van Ebahl

103 Toe ons in die stad inkom, neem ons ons intrek in die herberg van `n regskape man wat Ebahl heet.

[2] Ebahl neem ons baie gasvry op en sê: "Na uiterlike en kleding is julle Galileërs uit die omgewing van Násaret!?" Ons beaam dit en hy laat dadelik brood, wyn en vis vir ons bring en sê: "Drie dae en drie nagte hoef julle niks te betaal nie! Maar as julle, Násareners, my kan inlig oor die beroemde Verlosser wat Jesus heet, wat op die wonderbaarlikste wyse alle moontlike siektes kan genees, dan kwyt ek julle lewenslank vry en dan kan julle eet en drink wat julle maar wil!

[3] As dit egter waar is van die beroemde Jesus, dan sal ek alles doen om Hom te vind, en bring Hom dan, op my knieë, naas hom kruipend, hierheen! Want ons tog so goeie en vrye landjie het die nadeel dat dit steeds maar deur allerlei kwaai siektes besoek word. Die siektes is weliswaar nie dadelik dodelik nie, maar wel baie hardnekkig en mens raak hulle nie ontslae daarvan nie!

[4] As dit nou moontlik sou wees om hierdie Verlosser hierheen te bring - by JaHWeH, ek sou nie weet wat ek daarvoor sou oorhê nie! Self het ek `n herberg vol met siekes, wat van die pyn geen tree verder kan reis nie, en baie van hulle is uit verafgeleë streke. Selfs Egiptenare, Perse en Indiërs is verby en kan nie weg nie. Ook lê daar by my baie siek fariseërs en skrifgeleerdes uit Jerusalem, en twee broers van die Esseners, en geen arts en geen Verlosser, hoeveel daar ook uit alle plekke hier was, kan hul siekte genees nie!

[5] As julle my dus by hierdie Jesus uit Násaret kan besorg, of my slegs maar sê waar ek Hom met groot sekerheid kan aantref, dan is julle almal, soos gesê, lewenslank my gaste!"

[6] Ek sê: "Waarom het jy dan nie lankal `n bode na Hom toe gestuur nie, as jy geweet het dat Hy Hom in Násaret bevind?"

[7] Ebahl sê: "Dit het ek nie één keer nie, maar al dikwels gedoen, maar ek het nog nooit die geluk gehad nie dat die teruggekeerde bode sê: 'Ons het Hom gevind!' Hulle vertel my egter duisend wonders oor Hom wat hulle van ander gehoor het, maar self het hulle nog nooit die geluk gehad om Hom persoonlik te ontmoet nie."

[8] Ek sê: "Nou dan, omdat Ek sien dat jy met betrekking tot die Verlosser Jesus nie gedryf word deur eiebelang nie, maar dat jy egter enkel en alleen die wens het om die lydendes, van watter nasionaliteit hulle ook mag wees, hulp te bring - wat dan ook die rede is dat Ek hierheen gekom het - weet dan tot jou vreugde en troos dat Ek die Jesus is wat jy so dikwels tevergeefs gesoek het, en die siekes in jou herberg is op hierdie oomblik genees! Stuur jou kneg maar na die herberg en vra hulle of daar nog `n sieke te vinde is!"

[9] Ebahl raak byna buite homself van vreugde en sê: "Heer, as U dié een is, dan glo ek wat U sê, en wil ek geen verdere navraag doen nie. U is dit beslis, en ek kan God nou al nie genoeg loof en prys nie, omdat Hy my huis so `n onverwagse groot verlossing gebring het! Heer, groot goddelike Heer, sê maar wat U vir Uself en U eie wil hê, want U is nou geheel en al Heer in my huis! My hele besit staan tot u diens!"

[10) Terwyl hy nog verder so praat, kom die berig al van sy groot herberg af oor die totale genesing van die ongeveer tweeduisend siekes. Daar moes `n wonder gebeur het, omdat so iets anders volkome onmoontlik sou wees. Die mense wat genees is, wou al self dadelik kom om die meester van die herberg met woord en daad hul vurige dank te betuig!

[11] Ebahl sê: "Gaan en sê vir hulle dat ek nou dadelik glad geen behoefte daaraan het nie, en dat mens ook nie die minste dank verskuldig is aan my nie, maar aan God alleen, wat die Wonderheiland in Sy barmhartigheid na ons plek gebring het! Vra van die ryk buitelanders `n matige bedrag vir die verblyf, maar val niemand daaroor te hard lastig nie! Die landgenote hoef niks te betaal nie!"

[12] Na hierdie woorde verwyder die boodskappers hulle en doen wat hul meester gesê het.

[13] Dan wend Ebahl hom weer tot My, val voor My op sy knieë en dank My onder trane van groot vreugde vir die wonderbare weldaad wat aan sy huis bewys is.

[14] Ek beveel hom egter om op te staan en sy vroue en kinders aan My voor te stel.

[15] En hy gaan en doen wat Ek hom gevra het.

[16] Toe hy sy twee vroue en sestien kinders by My bring, waaronder daar tien seuns en ses meisies was, sê hy (Ebahl): "Ek is nog `n egte Israeliet! Soos wat eenmaal Jakob, ons stamvader, Lea en Ragel tot vrou geneem het, en by beide kinders verwek het, so het ek vir my ook twee vroue geneem, wat ewenwel geen susters is nie, en ek het by die oudste vrou tien seuns, en by die jongere ses meisies verwek. Maar u sien wel dat die tien seuns nou al flinke manne en jongelinge geword het, en die ses meisies ook al jong vroue is, omdat hulle ouer as tien jaar is; en ek is self sewentig jaar.

[17] Al hierdie kinders is volgens die Skrif opgevoed, en my oudste seun is `n skrifgeleerde, maar staan nie in diens van die tempel nie, want hy is dit slegs vir homself en te eniger tyd vir sy nakomelinge! Maar ook my ander kinders is goed onderrig in die Skrif, ken die ware wil van God, en is altyd streng voorgehou om daarvolgens te handel. Hulle het God lief, maar hulle vrees Hom ook, want die Vrees vir God is die begin van die Wysheid. In my huis word die egte wyse uitsprake van Josua ben Sirah streng uitgeleef - Is u tevrede oor my huisreëls, groot Heer?"

[18] Ek sê: "Volgens die gebruik wat tot op hede in swang is, is daar niks oor jou huisreëls te sê nie, en Ek verbied ook niemand om twee, drie en ook nog meer vroue te hê nie, want die vrou is geskape vir die voortplanting van die mens. `n Onvrugbare vrou is aan God nie welgevallig nie, tensy sy van nature onvrugbaar is - wat iets is waaraan geen mens iets aan kan doen nie.

[19] Maar in die vervolg moet elke man hom nie meer as één maagd of weduwee wat nog vrugbaar is, tot vrou neem nie. Want as dit God se wil was dat `n man meer as één vrou moes hê, dan sou Hy vir Adam ook sekerlik meer as één vrou gegee het. Maar God wou dat elke man slegs één vrou hê en het daarom aan Adam ook maar één vrou gegee.

[20] Dat die mense naderhand van hierdie eerste wet afgewyk het - wat spesiaal by die heidene dikwels uitloop op verdorwe misverstande, omdat met name die vors hom direk al die mooiste maagde van die land as vrou toegeëien het, en daarby ook nog `n aantal gekoop het van vreemde vorste - was nie die wil van God nie, maar die wil van die sondige mens. Want baie van die vroue van `n vors of van `n ander rykaard was geen vroue vir voort­planting nie, maar pure meisies van plesier om die verlore manlik­heid en wellus op te wek. `n Man leef egter nie meer volkome volgens die goddelike orde as hy nie die eerste wet van God hou nie!

[21] Ag, dit is iets heel anders as die eerste vrou onvrugbaar sou wees, soos wat dit by Ragel die geval was, dan kan die man ook `n tweede vrou neem, en by haar sy nakomelinge verwek. Maar tog is by jou alles in orde, jy handhaaf steeds die korrekte instelling wat aan God welgevallig is, en daarom is jy vir God en die mense `n regverdige, anders sou Ek ook nie in jou huis ingekom het nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205