|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 31
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Jaïrus se toespraak oor die invloed van wonders
31 Jaïrus voeg daaraan toe: "Ja, ja, magtige Cyrenius, u het volkome gelyk as u van uself sê dat u nou heeltemal weet waar u staan; want ook ek en seker elkeen van ons weet dit nou, en kan op grond van hierdie onweerlegbare waarheid die ewige noodsaak insien van die aard van alles, en hoe die aard van die mens moet wees. Maar wat kan `n mens daaromtrent doen? Die mensdom is te diep versonke; `n sagte, vrye leer verstaan hy nie, en platweg gestel sou die mens niks daaraan wil bestee nie. Dit sou vergeefse moeite wees, wat hoogstens distels en dorings as waardelose vrugte sou oplewer! Met sagte middele werk dit dus nie, ten minste nie by die Judeërs nie, wat maar al te bekend is aan my!
[2] Maar om wonders te gebruik om die volk te leer, is dubbel so sleg. Ten eerste omdat die mens wat die waarheid aanneem ter wille van die wonder, `n veroordeelde, onvrye mens is, wat nie deur die wonder bekragtigde woorde vanweë die besefde waarheid glo nie, maar vanweë die magtige wonder. Hy volg die woorde ook nie na uit innerlike oortuiging en die daaruit voortkomende eiewil nie, maar uit pure onderdanige vrees vir die een of ander plotselinge straf. Sodra iemand egter die wonder behendig uit sy kop uit wegpraat, sal hy ook die eerste een wees wat die woord en die geloof met vreugde vaarwel sal roep! Ten tweede is `n leer wat deur `n wonder bekragtig word, sleg, omdat die wonder, wanneer dit aan die volgende geslag vertel word, as sodanig nie blywend kan wees nie. En `n wonder wat vertel word en nie beleef word nie, kan ook nie meer waarde hê as `n oorgelewerde kindersprokie nie.
[3] As `n mens egter `n wonder blywend kon maak, of as `n mens al die verkondigers van die waarhede wat hier gehoor is, die mag kon gee om altyd wonders te doen, dan sou daar in die eerste plek die blywende wonder deur die menseverstand maar al te gou in die ry van die natuurlike daaglikse verskynsels gesit word en sy groot oortuigingskrag verloor. Terwyl in die tweede plek `n wonder wat deur al die verkondigers van die waarheid steeds verrig sou kon word, daardeur óók alledaags sou word. Soos wat dit ook gaan met die alledaagse toordery van die straatgoëlaars, wat ek weliswaar nie kan na-aap nie, en waarby ek nie kan verstaan hoe en met watter middele hulle dit laat gebeur nie, maar omdat `n mens iets dergeliks te dikwels sien, verloor dit die waarde van die eintlike wonderbaarlike, en sak af tot die alledaagse en heel gewone.
[4] Is alles wat ons daagliks omring, nie `n buitengewone wonder nie? Wat ons hoor, sien, voel, ruik, proe - is `n buitengewone wonder! Maar omdat alles blywend is en in `n steeds gelyke voortgaande orde plaasvind, verloor dit die karakter van die wonderbaarlike en is dit ook geen rede meer vir `n mensesiel om te glo nie; slegs `n paar natuurkundiges is wetenskaplik daarmee besig. Dié lê met hulle oor op die aarde en doen alle moeite om die gras te hoor groei; maar hoewel hulle ondanks al hul moeite weinig of niks daarvan leer nie, en nie kan vasstel hoe die gras groei nie, trek hulle uiteindelik tog sulke wyse gesigte asof hulle dit verstaan het. Andere leer, omdat hulle die gras nie kan laat groei nie, ou, al baie verslete toertjies, bedrieg daarmee die blindes, en laat die wat sien, lag oor die argelose wyse waarop die blindes hulleself laat uitvang.
[5] Daarom is dit so dat wonders eintlik weinig of meestal heeltemal geen waarde het vir die verbetering van die mens nie, terwyl dit wat ek nou oor wonders gesê het, maar al te waar is; dit wek wel dikwels by die toeskouers nuuskierigheid op, maar die duistere bande om die hart, verdwyn ondanks alle verontrusting van die siel tog nie. Die aangapers van die wonders bly soos wat hulle voorheen was, en vra hoogstens dikwels so dom as moontlik aan mekaar: 'Hoe sou die wonderdoener dit tog gedoen het!?' Die nog dommer deel sien egter by die wonderdoener slegs maar duiwels en hulle spokery.
[6] As die doen van wonders egter so weinig gewenste resultate oplewer, en volgens U heldere uiteensetting, o Majesteit en Heer, wette wat van buite afgedwing word, nog geringer en slegter resultate gee, terwyl daar vir die opneem van die vrye leer nouliks vyf uit `n duisend mense geskik is, dan meen ek om geen ongelyk te hê as ek nogmaals die belangrike vraag stel: ‘Wat moet `n mens as leraar dan doen?’ Die wonder rig iemand ten gronde, die strenge wet eweneens - en vir die vrye aanname van die leer van die goddelike Wysheid is `n mens slegs selde heeltemal ontvanklik daarvoor! Hoe kan `n mens homself met sukses uit hierdie dilemma bevry? Hoe kan `n mens met `n skip sodanig tussen die welbekende Scylla en Charibdis laveer dat mens nóg deur die één, nóg deur die ander verslind word?"
|
|
|
|
|