Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die dink in die hart

62 Cyrenius sê: "Heer, met die dink in die hart wil dit by my nie heeltemal regkom nie, omdat ek al sedert my jeug gewoond was om met my hoof te dink; dit lyk my haas onmoontlik om in die hart te kan dink! Hoe moet dit dan aangepak word om in die hart te kan dink?"

[2] Ek sê: "Dit is baie maklik en natuurlik! Alles wat jy jou maar kan indink en wil, volgens die gevoel in jou harsings kom eerstens vanuit die hart. Want elke nog geringe gedagte moet tog eers een of ander prikkel kry wat hom opwek. Nadat die gedagte in die hart deur een of ander noodsaaklikheid geprikkel en opgewek word, styg dit op na die harsings om deur die siel ondersoek te word. Sy sit dan die ledemate van die liggaam in die gewenste beweging, sodat die innerlike gedagte in woord of daad omgesit word. Dat `n mens ooit met sy hoof sou kon dink, is werklik `n onmoontlikheid! Want `n gedagte is `n suiwer geestelike skepping en kan daarom nêrens anders ontstaan as slegs in die gees van die mens nie, wat in die hart van die siel woon en wat die ganse mens daaruit besiel. Hoe kan enigiets geskape word uit materie, al is dit hoe fyn ookal? Alle materie, dus ook die harsings van die mens, is tog slegs skepping en kan tog nooit skepper wees nie?! - Verstaan jy dit nou goed en voel jy nou dat geen mens iets in sy hoof kan bedink nie?"

[3] Cyrenius sê: "Heer, ja dit voel ek nou baie lewendig! Maar hoe is dit dan? Nou voel dit werklik of ek altyd slegs maar in my hart gedink het! Merkwaardig! Hoe is dit dan nou? Ja, ek voel duidelike woorde in my hart, asof hulle uitgespreek word, en dit lyk vir my nou heeltemal onwaarskynlik dat dit moontlik is om in jou hoof `n gedagte te kry!"

[4] Ek sê: "Dit is `n heel natuurlike gevolg van jou steeds meer en meer lewend wordende gees in jou hart, dit is die liefde tot My en deur My wat vir alle mense is.

[5] Maar by die mense waarby die liefde nog nie ontwaak het nie, ontwikkel die gedagtes hulle weliswaar ook in die hart, maar hulle word nie daar, omdat die hart te materieel is, waargeneem nie. Slegs in die harsings, waar die gedagtes uit die hart stofliker word, word hulle deur die handelingsimpuls omgesit in beelde en dit vermeng daar met die beelde wat na hom toe kom vanuit die buitewêreld, via die uitwendige sintuie wat die harsingsvlakke daar ingegriffel het. In hierdie vorm is hulle vir die oë van die siel materieel en sleg en dit moet dan ook gesien word as die oorsaak van die slegte handelinge van die mense.

[6] Daarom moet elke mens eerste in die hart geestelik wederge­bore word, omdat hy nie anders kan ingaan in die Ryk van God nie!"

[7] Cyrenius sê vir Petrus wat langs hom staan: "Verstaan jy die wedergeboorte van die geestelike in die hart nou goed, en wat en waar die Ryk van God nou presies is, waaroor Hy en beide engele steeds maar praat, en wat Hy vir ons in die toekoms beloof het vir ons geloof?"

[8] Petrus sê: "Sekerlik verstaan ek dit, want as ek dit nie verstaan het nie, sou ek nie hier gebly het nie, maar dan sou ek tuis vir my huis gesorg het. Maar, verhewe meester, soek tog in u eie hart, daar sal u gou meer vind as wat ek u in `n honderd jaar sou kon uitlê!

[9] Kyk maar na ons, Sy eerste leerlinge en getuies, of ons sigbaar baie met Hom praat! Tog praat ons meer met Hom as u en baie ander, want ons praat suiwer en alleen in ons hart met Hom en vra Hom honderde dinge uit, en Hy antwoord ons in helder, goed verstaanbare gedagtes, en so het ons `n dubbele wins. Want `n antwoord van die Heer in die hart van die mens is in `n sekere sin al `n deel van sy lewe, terwyl die uiterlike woord eers `n deel van die lewe moet word deur die uitgevoerde daad, ter wille van die oefening van die siel.

[10] Dus kan u, verhewe meester, dit aangaande die ding van satan ook in u hart vra, en dan sal die Heer in u eie hart die korrekte antwoord so stil en heimlik inbring dat satan met sy skerpe gehoor onmoontlik in staat sal wees om dit te hoor! En op dieselfde manier kan u ook die Heer vra oor die wedergeboorte van die gees in die hart, en oor die Ryk van God, en u sal weldra so duidelik moontlik `n antwoord kry!"

[11] Cyrenius sê: "Ja, nou verstaan ek waarom julle - wat my al `n paar maal baie verbaas het - haas nooit met die Heer praat nie! Wel, ek sal dit probeer. As die Heer julle in die verborgene so barmhartig is, dan sal Hy dit vir my ook kan wees! Want dat ek Hom bo alles liefhet, blyk wel daaruit dat ek my uitgebreide en belangrike regeringsake intussen opgeskort het, en nou by Hom is en my siel voed met elke woord uit Sy heilige mond!

[12] Ek glo ook dat ek, uit suiwer liefde vir Hom, meer doen en meer gedoen het as elkeen van julle, want ek ken Hom al as `n klein kindjie en ek het in die vreemde heidense land vir Hom, Sy ouers en broers gesorg! En terwyl julle slegs julle visnette vir Hom opgeoffer het, is ek, as Hy dit sou aanvaar, dadelik bereid om my hele wêreldse waardigheid af te lê en Hom dan as die minste onder julle getrou te volg, en elke oomblik van my lewe vir Hom en vir julle almal in die bres te gaan staan, soos wat ek al `n paar maal gedoen het. Desnieteenstaande dit wat my as gevolg daarvan maklik vanuit Rome kon getref het!

[13] Omdat ek dit alles doen uit suiwer liefde vir Hom, sal Hy my tog ook barmhartigheid laat vind, dit wat Hy julle in so `n groot mate gegee het!?"

[14] Ek sê: "Jy het dit alreeds, liewe vriend en broer van My! En na wat jy het hoef jy nie meer te soek nie en jy hoef jou daaroor nie meer te bekommer nie asof jy dit nog nie sou gehad het nie! Hou jou daarom kalm en probeer eers om in jou hart iets vir My te vra, en Ek sal die antwoord helder, duidelik, sinvol en goed verstaanbaar in jou hart lê, wat My werklik bo alles liefhet!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205