Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 158

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Aan die see. Die 47ste Psalm van Dawid

158 Ons tref die agt bemanningslede juis aan terwyl hulle die psalms van Dawid lees. Toe hulle ons sien, staan hulle van die grond af op, begroet ons en hul leier kom na My toe en sê: "Heer, slegs U sou ons hiermee kan help! Gister teen die aand het `n groepie fariseërs en skrifgeleerdes na ons toe gekom en eis `n oorvaart na Sébulon en Gerasim, en ons weier hulle dit deur te sê dat ons geen eienaars, maar slegs knegte is en nou op die voorsabbat die Psalms moes lees. Toe vra `n jong skrifgeleerde die rol van die Psalms, soek die 47ste Psalm op en lees:

[2] Juig met u hande, alle volke, en juig voor God met blye geskal, want JaHWeH, die Allerhoogste, is oormagtig, `n groot koning op die hele aardbodem. Hy sal alle volke dwing om ons te gehoorsaam, en die mense in ons hand gee! Hy kies vir ons as erfdeel die trots van Jakob wat Hy liefhet. God styg op onder gejuig en helder basuingeskal vir JaHWeH. Sing die lof, sing die lof van God, sing die lof, sing die lof van ons Koning! Want God is Koning op die hele aardbodem. Wees dus so verstandig om Hom lof te sing! God is ook Koning oor al die heidene, God sit op Sy heilige Setel. Die vorste van die volke het saamgekom as `n volk vir die God van Abraham, want God word baie verhef geag deur elkeen op aarde!'

[3] Toe hy hierdie Psalm gelees het, vra hy baie ernstig: 'Verstaan julle hierdie psalm?' En ons moes sy vraag, jammer genoeg, met `n nee beantwoord. Vandag het ons oor hierdie vraag al sedert vanmôre ons hoof hieroor gebreek, maar ons weet nog niks meer as gister nie. Duisend keer het ons aan U gedink; as U, o Heer, dit sou wil, dan sou U ons daaroor wel heelwat lig kon verskaf!"

[4] Ek sê: "Kyk na die meisie wat ek by die hand hou! Vra dit vir haar en sy sal dit wel vir julle op die korrekte manier uitlê!"

[5] Die leier van die skippersknegte sê: "Die meisie kan nouliks veertien lentes tel! Hoe sou sy dan so wys kan wees soos Salomo?"

[6] Ek sê: "Ja, ja! Nie slegs die wysheid van Salomo nie, maar ook die wysheid van die aardse en nog baie meer, besit sy in haar suiwer hart! Tot op hede het dit nog geen mens geluk om agter die sterre te kyk nie; vra haar dit en sy sal dit aan julle vertel! Die beroemde 'steen van die wysheid' het sy in haar rompsak, dus sal sy die beste in staat wees om julle die kort maar tog inhoudryke Psalm goed uit te lê. Probeer dit maar, dan kan julle julself oortuig!"

[7] Die leier van die skeepsknegte sê aan sy metgeselle: "Sy sien werklik baie fraai daaruit! Maar haar figuur is ook beslis engelagtig mooi, en dit is nou juis geen teken van wysheid nie! Want tot op hede het ek altyd nog gesien dat die mooiste meisies ook altyd die domste was, wat heel natuurlik is. Die mooiste kinders word te veel verwen en te voorbeeldig gemaak en leer daarom weinig of niks. Van `n minder mooi kind maak `n mens egter gewoonlik nie so `n groot ophef nie. Elke keer wat hy ondeund is, word hy baie gou bestraf, die kind word daardeur nederig en beskeie, gehoorsaam, vol deugde en leer daarby heelwat. Maar laat ons maar sien wat die waarlik hemelse mooie meisie ons oor ons Psalm kan vertel."

[8] Toe wend die leier hom tot Jarah en stel haar die vraag, en sy sê met die liefste en vriendelikste gesig in die wêreld: "Beste vriende. Nie dat ek so iets êrens sou geleer het, en dit daardeur nou as `n skrifgeleerde sou weet nie, maar ek voel baie duidelik in my dat dít wat Dawid se profetiese gees verskeie honderde jare gelede voorspel het, nou volkome voor ons oë vervul is. Dit moes julle tog ook in die eerste instansie binne in julle gevoel het!

[9] Het julle nie gesien dat Hy, oor wie Dawid praat, en wat nou hier liggaamlik te midde van ons leef, oor die see geloop het asof dit droë land was, en sien julle nie hoe Hy nou in `n paar dae slegs maar deur Sy Woord, talle verskillende siekes genees het nie? Die blindes word siende, die dowes horende, die melaatses word rein, die lammes en kromgegroeide weer reg! En kyk eens na hierdie berg wat voor ons lê, hoe het hy verander in één nag! Wie kan berge versit en die see uit haar bedding optel? Wie is Hy aan wie alle engele en al die elemente gehoorsaam is?! Kyk, daar staan Hy liggaamlik voor ons; Dit bedoel Dawid!

[10] Vir Hóm moet ons met ons hande juig deur werke van egte naasteliefde, en Hóm moet ons toejuig met die suiwere stem van die waarheid, sonder bedrog, sonder valsheid of arglistigheid! Want wee diegene wat Hom met die onsuiwere geskal van die leuen sou wil toejuig! Want hoe mild en sag Hy ook is vir die regverdige, so verskriklik is Hy vir diegene wat leuens, valsheid en bedrog in hul harte dra, soos wat ook geskryf staan: 'Dit is verskriklik om in God se hande te val, want God is `n almagtige Koning oor die hele aardbodem, voor Hom kan niemand hom êrens verberg nie!'

[11] Nou is Hy hier om deur die mag van Sy leer alle volke dringend uit te nooi om hulle by ons te voeg om deel te kry aan ons verlossing, en die mense, dit is die wêreldse kinders, vir die oordeel onder ons voete te lê! Want slegs óns het Hy erfgename van die ewige lewe gemaak, ja ons is Sy Erfdeel! Hy is dit van wie Jakob sê: 'O Heer, Vir U alleen sal ek luister!' En omdat Jakob dit in sy hart bely, word hy die liefling van God, en liefling van dié Een, wat hier te midde van ons bly!

[12] Maar Hy sal nie altyd so by ons bly nie, maar hy sal binnekort weer opvaar na Sy ewige hemel, en wel met die blye stem van die Ewige Waarheid, waarmee Hy `n nuwe aarde en `n nuwe hemel geskape het vir alle ewigheid van die ewigheid. En Hy is en sal die Majesteit wees, en die heldere klank van Sy basuin, wat bestaan uit die Woord wat tot ons gespreek is, sal dit verkondig aan alle skepsels op en in die aarde en op en verby alle sterre, sowel geestelik as stoflik.

[13] Sy lof moet ons dus volgens die oproep van Dawid sing, want Hy is ons God en ons enigste Koning tot in ewigheid!

[14] Omdat ons egter weet wat Hy is, moet ons Hom met `n suiwer en wyse hart eer en prys en nie op die manier van die huigelagtige fariseërs nie, wat met hul lippe `n valse JaHWeH nader, maar daarby hul hart vir hierdie ware en lewende JaHWeH afsluit, en hulle van Hom verwyder.

[15] Hy is egter nie net ónse God en Koning nie, maar ook van die heidene op die hele aardbodem. Want Hy alleen sit bo alle mense en bo die hele eindelose skepping op die ewige setel van Sy onbegrensde Mag en Glansrykheid. Voor Hóm moet alle vorste van die aarde hulle versamel, soos hul volke voor hulle, want Hy is die enige God van Abraham, Isak en Jakob. Hy alleen het Homself verhoog bo alles, ook bo alle embleme van die magtiges van ons uitgestrekte aarde!

[16] Dat Hy ons opsoek, is selfs vir die engele `n onbegryplike barmhartigheid! Maar toe Hy gekom het, het Hy nie onaangekondig gekom nie, want alle profete het daaroor geprofeteer. Baie van die profesieë kon die mense egter deur die steeds groeiende hardheid van hul harte nie verstaan nie. Nou het Hy egter Self gekom, waaroor die profete geprofeteer het, en Hyself openbaar Hom aan alle mense wat van goeie wil is.

[17] Vir diegene wat `n slegte en hoogmoedig hart het, kan Hy maar net verskriklik wees! Want die slegte het altyd die almagtige ewige geregtigheid as onverbiddelike en onomkoopbare regter teenoor hom! Net soos wat `n goeie gevoelige weegskaal al `n sigbare uitslag gee as mens ook maar `n haar aan één kant toevoeg, so kan daar vir Hom, wat hier is, geen nog so geringe onwaarheid, verkeerdheid, boosheid, onregverdigheid of watter ander lompheid van die hart, bestaan nie! Daarom moet Hy verskriklik wees teenoor elke sondaar wat in sy bors `n harde, verstarde en bose hart dra. - Verstaan julle nou die 47ste Psalm van Dawid?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205