|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 4
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Die druipsteengrot
4 Kisjonah laat nou alles te voorskyn bring. Baram, wat nog steeds geen afskeid van ons kon neem nie, laat sy oorgeblewe wyn- en broodvoorrade deur sy mense haal. Jaïrus en JonaEl, wat My ook nie wil verlaat nie, vra My eweneens of hulle op hierdie tog saam kon gaan.
[2] En Ek sê: "Sekerlik, want julle is selfs nodig daarvoor, en ArkiEl sal ons op sy manier goeie dienste bewys! - Ek sê julle egter nog dit: Presies nou verlaat `n afvaardiging van julle aartsvyande Sigar en is op pad hierheen om julle te oorreed om so gou moontlik terug te keer, want die volk het teen hulle in opstand gekom en het die nuwe benoemde priester eergister al verjaag. Hy sal ook by die afvaardiging wees. Hulle sal vanaand hier aankom, en dan sal ons hulle onder hande neem. Maar nou is ons op pad!" - Maar ook die vroue en meisies wil op hierdie tog saam en vra My daaroor.
[3] Ek sê aan hulle: "Liewe dogters! Dit is geen tog vir julle nie, bly daarom maar gesellig tuis en sorg daarvoor dat ons vanaand `n goeie maaltyd aantref!" - Die vroue, ook Maria, het daar vrede mee en sy sorg vir die huishouding. Lydia sou egter baie graag wou saamgaan, maar omdat sy sien dat dit nie My wil is nie, bly sy ook tuis en doen wat die ander doen.
[4] Ons val in die pad, bereik binne `n paar uur die grot of holte en gaan dadelik met aangesteekte fakkels na binne. Kisjonah verbaas hom oor die groot ruimte en die besondere interessante druipsteen-afsetting, (stalagtiete) wat in hierdie grot wel die besienswaardigste is van die hele voor-Asië, waar mens baie van hierdie grotte vind. Reusagtige figure in allerlei vorms kom die skugtere kykers tegemoet.
[5] Selfs Festus, wat andersins nie aan Romeinse heldemoed ontbreek nie, is hier heeltemal uit die veld geslaan en sê: "Onwillekeurig sou mens hier veronderstel dat daar onderaards tog sekere soorte van gode moet woon, wat deur hul reusagtige krag sulke reusewerke tot stand gebring het. Dit is afbeeldings van mense, diere en bome, maar watter afmetings! Wat sou die reusetempels en standbeelde van Rome hierby vergeleke wees?! – Kyk daar - die pragtig gevormde Arabier! Helaas, as jy hom tot aan sy hoof wou klim en dit sou kon doen, dan sou dit jou `n uur kos om trapsgewys tot bo te kom. Daarby het hy nog `n sittende houding, en dit duisel my as ek na sy hoof kyk! Ag, dit is werklik buitengewoon besiens-en gedenkwaardig! Dit kan tog onmoontlik toevallig ontstaan het!? - Daar sien jy weer `n groep krygers met swaard en lans! En daar ver in die agtergrond gryns `n reusagtige olifant vir ons; die tekening laat niks te wense oor nie! - Heer, Heer! Hoe -hoe het dit alles so wonderbaarlik ontstaan?!"
[6] Ek sê: "Vriend, bekyk nou alles wat daar te sien is, en vra nie so baie vrae nie; die logiese verklaring kom nog. Daar sal nog baie hier te sien wees, waaroor jy nog baie meer verbaas sal wees, maar ook dan moet jy geen vrae stel nie! As ons weer uit hierdie grot buitekant kom, sal Ek aan julle al hierdie dinge uitlê."
[7] Toe gaan ons verder en bereik `n baie groot en hoë saal, wat egter nie donker, maar ook heeltemal behoorlik verlig is; want hierdie saal bevat `n aantal aardoliebronne wat al heelwat jare gelede deur mense, wat in hierdie grot gewoon het, aangesteek was en sedert daardie tyd in ligte laaie staan en met verskeie magtige vlamme brand en hierdie groot saal gedeeltelik verlig. Ook is daar in die hoë koepel van hierdie saal `n taamlik wye uitmonding na die ope lug waardeur redelike helder daglig in skyn, en sodoende is hierdie grot anders as wat reeds gesê is, heel behoorlik verlig.
[8] Op die bodem van hierdie grot of saal is allerlei vorme sigbaar. Daar lê slange, reusagtige paddas en allerlei ten dele goeie en ten dele slegte en slegs half gevormde diere-afbeeldings, en ook groot massas klein- en reusagtig groot kristalafsettings in allerlei kleure, wat `n buitengewone mooi gesig oplewer.
[9] Toe sê Festus: "Heer, daar lê keiserlike sierade in hoeveelhede waarvan geen keiser ooit werklik van gedroom het nie! Lyk dit nie na `n soort Tartarus soos wat die mites van die Grieke dit beskryf nie!? Wat ontbreek is slegs die Styx, (rivier wat deur Hades loop) die ou Charon, (veerbootmanne wat siele oor die Styx neem na Hades) die drie onverbiddelike regters oor die siele Minos, Aakus en Rhadamanthys, vervolgens die driekoppige hond Cerberus, dan nog `n paar pelsdiere en uiteindelik nog Pluto met die mooie Prosperina, en die Tartarus van die kwellinge sou kompleet wees! Die baie vuur uit die bodem en uit die wande, die duisendsoortige afskuwelike dierebeelde op die bodem - ook al is hulle dood en versteen - en nog `n hoeveelheid tartarusagtige dinge meer, lewer maar al te veel die bewys dat ons nou al in die Tartarus self is of tog minstens op die vinnigste pad daarheen; of, wat my nou die waarskynlikste lyk: hierdie of uiteindelik `n ander grot wat so lyk, is die oorsprong van die Griekse mites oor Tartarus!"
[10] Ek sê: "In die laaste is baie waarheid, alhoewel nie heeltemal nie; want die priesterdom wat altyd by alle volke die sluuste is, het daar deur alle tye en allerweë steeds die beste daarin geslaag om sulke natuurlike toestande tot hul eie voordeel uit te buit en so goed as moontlik te benut. Soortgelyke dinge benut hulle ook in Griekeland en in Rome en gee daarby hulle slegte fantasie vrye teuels, waardeur volk na volk tot nou toe saamgaan en blind gehou word en ook in die vervolg sal saamgaan en blind gehou sal word - die een keer meer, die ander keer minder.
[11] Solank die aarde in haar noodsaaklike, uiteenlopende struktuur êrens vorme sal vertoon wat tot nadenke stem, so lank sal haar mense ook, wat deur verskillende oorsake geestelik blind en ligsku is, in hul verstandelike fantasieë allerlei karikature optower en buitengewone goddelike kragte en uitwerkings daaraan toedig, omdat hulle deur hul blindheid die ware oorsaak nie kan ontdek nie.
[12] Kyk, daar is nou jou Styx en skipper Charon. Aan die ander kant van die ongeveer twaalf vadem breë en een el diepe stroom, wat eintlik slegs `n soort vywer is en op die vlak plek maklik oorgesteek kan word, sien jy in die skemerige lig ook jou drie regters, `n paar pelsdiere, Cerberus en Pluto met Prosperina. Hierdie figure sien egter slegs op `n bepaalde afstand so daar uit, naderby en by helderder lig lyk hulle alles behalwe na dit wat die menslike fantasie van hulle gemaak het. - Maar nou gaan ons, sonder om aan Charon veergeld te betaal, te voet oor die Styx, en aan die ander kant sal ons die Tartarus weereens van naderby bekyk."
[13] Ons stap op `n baie vlak plek deur die sogenaamde Styx en gaan deur `n taamlik nou spleet die Tartarus binne, wat in die lig van ons fakkels maar al te gou die skatte begin toon, wat nog deur geeneen van die fariseërs ontdek is nie. En so kom deur My toedoen alles wat nog verborge was, aan die lig.
|
|
|
|
|