Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 175

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Valse en ware profete

175 Terwyl die groep vooruitgestuurde leerlinge hulle besig gehou het met die verkenning van die omgewing en van die mense by Césarea Philippi, het Ek tot byna die aand nog in die baai by die berg gebly. Maar `n paar uur voor sononder verlaat Ek met die orige leerlinge die baai en kom teen die aand in die omgewing van Césarea Philippi aan (Matthéüs. 16:13) en vind die vooruitgestuurde leerlinge by `n armsalige hut, waarvan die baie eenvoudige bewoners juis besig was om `n aandete vir die reeds moeg en honger leerlinge klaar te maak.

[2] Die bewoners vra dadelik aan die aanwesige leerlinge wie ons was, en hulle vertel hulle regstreeks dat Ek dié Jesus was waaroor hulle eerstens soveel vertel het.

[3] Toe die meester van die huis dit hoor, laat hy alles staan, val voor My neer en sê: "Watter goed het ek arme, sondige mens dan ooit gedoen dat U my nou so `n groot barmhartigheid bewys? O heilige, groot Man uit die hemele, gestuur na ons arme sondaars op hierdie aarde! Hoe kan ek as arm en eenvoudige mens U daarvoor op waardige wyse eer en prys? Wat moet ek vir U doen om dit vir U na U sin te maak?"

[4] Ek sê: "Liewe vriend, staan op en maak dat ook ons `n aandete kry bestaande uit brood, visse en wyn. Sorg daarna vir `n redelike slaapplek en dan het jy alles gedoen wat Ek van jou verlang!"

[5] Toe staan die arm meester van die huis op en sê met `n ietwat treurige gesig: "Goeie Heer, wat ek het, gee ek omdat my hut so `n groot eer en barmhartigheid te beurt geval het. Want ek weet dat U `n seun van Dawid, en bowendien `n groot profeet is. Brood en vis het ek nog wel in voorraad vir vandag en môre, maar met die wyn sien dit daar slegter uit, nie net by my nie, maar ook in hierdie hele streek. Ook in die stad Césarea-Philippi wat nie ver van hier af geleë is nie, is dit beroerd wat die wyn aan betref. Frambose- en braamsap het ek wel, maar dit is al oud en daarom suur, ons drink dit slegs met water en heuning vir die dors.

[6] Ook het ek `n paar kanne vol dik bokmelk; as u daarvoor sou lus wees, dan bring ek dadelik `n paar daarvan hiernatoe. Saam met brood maak dit `n goeie ete!"

[7] Ek sê: "Nou, bring maar wat jy het! Maar Ek sien dat jy `n aantal wynsakke in jou huis het; as jy geen wyn oes nie, waarvoor is die sakke dan?"

[8] Die arm eienaar van die hut sê: "Ja, ja, sakke het ek wel omdat ek `n sakkemaker is, maar in geen enkele een was daar ooit `n druppel wyn gewees nie! Ek het nou ongeveer vyftig klaar vir die volgende mark in die stad; per stuk verkoop ek hulle vir omtrent `n silwerstuk."

[9] Ek sê: "Gaan dan en neem die sakke en vul hulle almal met water!"

[10] Die arm man van die hut vra: "Beste Heer, waarvoor sal dit dan goed wees?"

[11] Ek sê: "Vriend, vra nie, maar doen wat Ek sê, dan sal jy sowel in die tydelike as in die ewige gelukkig wees!"

[12] Na hierdie woorde roep die arm man van die hut dadelik sy vrou en sy agt kinders, wat al volwasse was, waarvan daar ses dogters en twee seuns was, en hulle gaan en vul gou die vyftig sakke by die bron. Toe die sakke almal vol was, vra hy My wat hy nou daarmee moes doen.

[13] Ek sê aan hom: "Bring hulle almal in die koele rotsholte waarvan die ingang teen die agterste sy van jou hut lê!"

[14] Die arm man van die hut, wat sy strooi in die holte bewaar het, sprei dit op die grond uit, en lê die sakke wat met water gevul was ordelik langs mekaar op die strooi neer, en toe die werk klaar was, kom hy weer te voorskyn en sê: "Majesteit en Heer, alles het gebeur soos wat U beveel het! Moet daar miskien nog meer gedoen word?"

[15] Ek sê: "Alles is nou heeltemal in orde. Gaan en neem nou `n aantal van jou beter klipkruike en vul haar uit een van die vyftig sakke, maak nie saak watter een nie. Proe ook uit die gevulde kruike hoe dit smaak, bring hulle dan hierheen en sê ons wat jy van die aldus toebereide water vind!"

[16] Die arme gaan dadelik, neem twaalf kruike en maak hulle vol tot aan die rand. Reeds by die giet daarvan kry hy `n uitstekende wyngeur in sy neus, en wanneer hy dan die vloeibare inhoud proe, het hy van pure verbasing haas geen raad nie en sê aan sy kinders wat hom bystaan: "Luister, dit verstaan geen mens nie! Die water waarmee ons die sak gevul het, en waarmee ek nou die kruike vol gegooi het, is verander in die edelste, beste wyn! Proe en oortuig julleself!"

[17] Die kinders proe, is verbaas en het ook geen raad oor die wonder nie, en die oudste seun sê: "Vader, u weet dat ek goed bekend is met die skrif. Ek ken al die profete en hul dade, maar so `n daad het nie een van hulle ooit gedoen nie! Hierdie buitengewone Mens moet kennelik méér wees as `n profeet!"

[18] Ook die dogters sê: "Ja, ja, vader, dit glo ons ook! Miskien is dit wel EliJaH, want hy moet tog nog eenmaal na die aarde toe kom om die mense voor te berei op die koms van die groot Messias! Of is dit al miskien die groot Messias Self?"

[19] Die vader sê: "Sowel die een as die ander is moontlik! Hm, hm, dit het wel ietwat skielik en onverwags gekom!"

[20] Terwyl die arm man van die hut nog so nadenkend praat, kom sy vrou aangestorm en sê haas heeltemal uitasem van verrukking: "Kom, kom en kyk na wat daar in ons hut gebeur het! Ons voorraadkamer is heeltemal gevul met allerlei goeie voedsel en die beste brood! Dit kon niemand anders gedoen het nie as dieselfde Heer wat `n uur gelede na ons hut gekom het en onderdak en `n aandete gevra het!"

[21] Die man sê: "Dit is wel bo alle twyfel verhewe! Maar hoe? Wie kan dit vir ons uitlê? Wat is Hy? Wie is Hy? As ons sê: 'Hy is `n profeet!', dan sê ons duidelik te min. Sê ons: 'Hy is `n engel!', dan het ons daarmee nie baie méér gesê nie. Sê ons egter: 'Hy is `n God!', dan kan ons miskien tog te veel sê, want `n God is immers slegs maar Gees. Hy het egter vlees, bloed en liggaam, en daarom is dit miskien nog `n vraag of Hy uiteindelik tog nie so iets soos `n Griekse Zeus of Apollo kan wees nie. Maar nou moet ons in alle nederigheid, liefde en dankbaarheid die wyn na buite bring, en brood en visse en wat ons maar as iets eetbaars het; want hierdie weldaad is met geen goud te betaal nie!"

[22] So het die man met die gevulde kruike, en sy vrou en sy kinders met brood, visse en nog ander eetbare dinge gekom. En terwyl hulle diep voor My buig sê die man met `n baie nederig klinkende stem: "O Majesteit en Heer! Wie is U om sulke dinge slegs deur U wil te doen? Ek beef van groot eerbied voor U! `n Mens soos wat ons is, kan U nie wees nie, maar wie en wat is U dan, sodat ons U waardig sou kon eer?"

[23] Ek sê: "Kyk, vriend, Ek sal jou iets sê en dan kan jy dit self beoordeel! As jy in die oggend sien dat dit in die ooste ligter word, en dat die hemel steeds rooier word, dan sê jy: 'Die son sal weldra opgaan!' Hoewel dit in die ooste ook ligter word as die maan in die ooste opgaan, volg daarop dat effense lig geen môrerooi is nie, en as die maan dan opkom, en die aarde effens beskyn met haar halwe lig, open geen blommetjie die tere kelk om die koue, effense en geen lewegewende strale op te suig nie!

[24] Die ligte wolkies, wat reeds deur `n stralende lig omspoel word as `n voorbode wat die sonsopgang aankondig, is al baie ligter as die lig van die volle maan. Maar as daar geen son sou volg op hierdie voorbode nie, dan sal dit weldra op die hele aarde so daaruit sien soos in die bykans verstarde gebied van die middernagson, waar nege volle maande lank geen sonnestraal deurdring nie. En kyk, ooreenkomstig so gaan dit ook in die ewige wêreld van die gees, wat die enigste oorsprong en rede van die voortbestaan van hierdie materiële wêreld is.

[25] Allerlei leraars en profete duik op en leer die mense hoe dit is. So hier en daar bevat dit ook wel iets waars, maar naas elke vonkie waarheid verdring duisende leuens dit steeds, en doen naas die waarheidsvonkie homself voor as sou hulle sélf waarheid wees. En kyk, al sulke leraars, profete en hul lesse lyk soos die skynsel van die maan, wat steeds met `n ander gestalte skyn, en dikwels as haar lig snags die meeste nodig is, gladnie skyn nie.

[26] Maar naas die valse leraars en profete is daar ook die egte en waaragtige, wat oë, harte en monde het waaruit God se Lig straal. Hulle lyk soos die wolkies wat deur lig omspoel word, wat die sonsopgang wat op hande is, aankondig. As dit slegs maar bly by die, hoe mooi ookal, stralende wolkies, dus die egte en waaragtige profete, dan sou dit in die harte van die mense na verloop van tyd tog net eenders uitsien as in die aardse streek van die middernagson, naamlik star, koud en dood. Maar na die egte ligwolkies, wat voor die son uitgaan, volg die son self, en by haar eerste ligstraal wat sy oor die nog groue berge en velde van die aarde laat val, word alles wakker, vol vreugde en vol lewe. Die voëls sing die moeder van lig en warmte hul suiwere psalms tegemoet, die muggies en kewertjies verhef hulle in die lig deurdronge lug en zoem die glansryke moeder van die dag geesdriftig toe, en die blomme van die veld hef hul koninklike versierde hoofde omhoog en open hul balsemryke monde om die groot wêreldverwarmster die heerlikste geur tegemoet te adem.

[27] Aan die hand van hierdie waaragtige skildering kan jy nou genoeg ontdek om in jouself tot helder insig te kom, sodat jy My in jou hart die plek gee wat My toekom! Nóg die lig van die sterre, nóg die van die maan, en net so min die op hulself staande goue glans van die môrewolkies is in staat om die kettings te verbreek van die wat in die materie van hierdie aarde in gevangeskap lewe, en hulle dan na selfstandige aktiewe vryheid te lok. Dít kan slegs deur die lig van die son gedoen word.

[28] Wie kan Hy dan wees, wie se Stem en Wil alle geeste wat in die materie gevange is, gehoorsaam, en vir wie hulle alles sal doen wat Hy wil - en wie kan Hy wees oor wie se koms alle profete geprofeteer het?"

[29] Die arme man verbaas hom geweldig hieroor en hy gaan nadenkend met sy mense in die hut in om ons tog maar nie by die aandete te steur nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205