|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 189
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Agting gepaard met liefde
189 Terwyl die seuns van Markus - gehelp deur Simon en nog enige van die leerlinge wat in ons skip aanwesig was - besig was met die uitwerp van die groot net, roei daar uit die rigting van Genésaret `n groot vaartuig reg op ons af. Dit kom steeds nader, en toe dit skaars `n bietjie meer as `n paar vadem van ons verwyder was, sien `n seun van Markus dat dit `n Romeinse laerskip was waarop `n aantal soldate hulle bevind het.
[2] Cyrenius sê: "Dit sou vir my maatskaplike status tog ietwat ondoenlik wees as my soldate my hier op hierdie onaansienlike skip moes aantref! Ek sal dit op prys stel as ons `n bietjie uit hul buurt kan bly!"
[3] Ek sê: "Vrees nou maar vir wat te vrese is; maar daaroor hoef jy jou egter nooit bang te maak nie! Want weet jy, as die son hoog aan die hemel staan, lyk sy baie kleiner as wanneer sy vlak bo die horison sweef - en ook kan, as sy so hoog staan, niemand na haar kyk nie, omdat sy dan elke oog krenk. Maar as sy so laag staan, dan kan elkeen sonder beswaar na die komende of skeidende moeder van die dag kyk.
[4] Ook al sou hierdie skip hoe skitterend versierd gewees het, dan sou dit daardeur niks kon bydra tot die vermeerdering van jou waardigheid nie - want wat jy is, dit is jy, of jy nou op die top van die Ararat staan of op `n molshoop. Die ware agting gepaardgaande met liefde sal jy slegs die meeste smaak daar waar die mense jou die maklikste kan nader! En bowendien sê Ek nog vir jou dat juis hierdie ontmoeting baie belangrik vir jou sal wees, waarvan jy jou weldra sal oortuig."
[5] Deur My woorde het Cyrenius nou baie benoud geword oor wat die Romeinse soldateskip kon bring. Omdat dit egter as gevolg van `n teenwind ons nie heeltemal kon bereik nie, bedink Cyrenius of dit nie raadsaam sou wees om nader aan die Romeinse skip te stuur nie.
[6] Maar Ek sê: "Glad nie, want ons sal gou genoeg daarmee te make kry, en dan sal jy nog geleentheid genoeg hê om alles wat jou aangaan in geure en kleure te wete te kom. Vir die oomblik kyk ons egter baie kalm na die visvangs!"
[7] Toe Cyrenius dit hoor, is hy tevrede gestel en kyk heel gemoedelik toe, terwyl die vissers die groot net uit die see begin trek. Dié vul hom so gou met groot visse dat ons genoodsaak was om na die oewer te vaar. Toe ons na ongeveer `n halfuur by die oewer kom, op die plek waar ‘n omheinde groot visvywer hom in die see bevind, word alle sye van die groot net teen die omheining van die vywer getrek. In die net was so `n groot aantal groot en pragtige eksemplare dat al My leerlinge, Markus met al sy kinders en selfs die bediendes van Cyrenius, ongeveer anderhalf uur besig was om al die gevange visse uit die net in die omheinde seevywer te plaas.
[8] Toe die visse hulle uiteindelik in die vywer bevind, krioel dit daarin vanweë die groot aantal visse, want daar was meer as seweduisend. Die vywer was dermate vol dat daar geen duisend meer kon bykom nie. Die ou Markus weet van louter blydskap skaars wat hy doen. Sy mond is geen oomblik stil van die dankbetuigings nie.
[9] Ek sê aan hom: "Vriend, jy is nou baie dankbaar vir hierdie weldaad wat deur My aan jou bewys is, maar vandag wanneer die Romeinse skip hier land, sal jy nog `n ander geskenk kry! Die geskenk sal egter nie uit visse of uit goud en silwer bestaan nie, maar suiwer uit My Woorde, wat jou die weg na die ewige lewe sal baan. Skenk met jou hele huis aandag daaraan, dan sal dit lig en helder in jou siel word vir nou en vir die ewigheid! - Het jy My goed verstaan?"
[10] Markus sê: "Ja Heer! My hart sê dit vir my: 'Markus, ou verroeste soldaat, vandag sal jou lewe ontdaan word van die ou roes! Jou oor sal `n stem hoor uit die hemel van JaHWeH, en jou siel sal die groot nabyheid van jou verlossing vir ewig voel!" - En ek hoop dan ook vandag nog om die wonderbaarlikste te beleef."
|
|
|
|
|