Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 156

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246.

Die manlike en die vroulike van die engele

156 Na hierdie woorde gaan die hoofman huis toe, maar Ebahl vra hom om nie om so lank weg te bly nie, omdat die middagete binnekort klaar sou wees. En die hoofman sê dit terwyl hy weggaan: "As daar niks belangriks voorgeval het nie, is ek dadelik weer terug, en het daar iets belangriks voorgeval, dan sal ek `n bode hierheen stuur."

[2] Toe gaan die hoofman vinnig weg, en verwonder hom uitermate toe hy tuis kom, en hy deur sy onderaanvoerders alles meegedeel word wat inmiddels daar gebeur het, en dat hy sy opdrag vir die bogenoemde gemeenskap op perkament en in sy eie handskrif geskryf op sy werktafel vind. Hy lees dit gou deur en sien dat alles daar staan soos wat hy dit gedink het. Dadelik laat hy `n snelvoetige bode haal, en kyk, daar kom die engel Rafael sowaar in Romeinse soldatedrag en bied die hoofman sy dienste aan.

[3] Die hoofman herken die engel eers nie en dag toe dat hy `n jong soldaat is wat miskien deur Cornelius uit Kapérnaüm by hom ingedeel is. Daarom vra hy hom of hy die aandurf van hierdie verre opdrag aan die onderkommandant van Gadarenum op hom sal kan neem.

[4] Die engel sê: "Magtige meester, gee dit maar en ek sal dit met die snelheid van `n afgeskiete pyl tot op sy plek bring, en binne enkele oomblikke sal u die antwoord in u hande hê!"

[5] Toe eers kyk die hoofman sy man goed aan, sien dat dit die engel Rafael is, en sê daarop: "Ja, ja, vir jou is dit moontlik, nou sien ek eers wie jy is!"

[6] Die hoofman gee die opdrag aan Rafael en hy kom binne `n kwartier al met die antwoord terug, waarin die kommandant van Gadarenum bevestig dat hy die opdrag in goeie orde van `n aardige jong soldaat ontvang het, en dat hy alles ook dadelik in die gees van die opdrag sou laat uitvoer.

[7] Die hoofman verbaas hom nou nie meer oor die snelheid van Rafael nie, maar slegs daaroor dat Rafael nou tog `n kwartier vir hierdie boodskap nodig gehad het.

[8] Rafael sê: "Dis die tyd wat die onderkommandant in Gadarenum nodig gehad het om te skryf. Verbaas jou dus nie, want vir my sou dit geen tyd geneem het nie. - Maar laat ons nou tesame na Ebahl gaan, want die middagete is klaar en die gaste het honger van die flinke tog van die berg na benede."

[9] Die hoofman gaan dadelik saam met die engel, wat egter voor die huis van Ebahl weer sy oorspronklike Genesarese kleding aanhet, en die hoofman vra hom waar hy dan nou so gou die soldatekleding gelaat het.

[10] Die engel glimlag en sê: "Kyk, ons het dit makliker as julle, want ons dra ons ryklik voorsiene kledingkas in ons wil. Wat ons wil aantrek, het ons tot in die fynste puntjies aan. As jy my egter in my liggewende kleed sou wil sien, dan sou jy verblind word en jou vlees sou oplos, want vergeleke met die lig van my kleed is die lig van die son so donker soos die nag."

[11] Die hoofman sê: "Vriend van die mense van hierdie aarde! Die eerste eienskap, om jou sonder materiaal, slegs deur te wil na willekeur te kan klee, staan my baie aan, en die arme mense sou dit spesifiek in die winter baie goed kon gebruik. Maar die ander, eweneens moontlike, te sterk strale van jou liggewaad geval my nie, in elk geval nie nou op hierdie wêreld nie. Daarom sal ons daaroor ook geen verdere vrae stel nie. Maar één ding sou ek nog graag van jou wil weet; omdat ons nou tog net ons twee is, en ons vir niemand in ag hoef te neem nie, kan jy my dit wel vertel, en dit is: Is daar by julle ook geslagtelike verskille?"

[12] Die engel sê: "Hoewel dit `n ietwat ontaktiese vraag is, wil ek, omdat jy dit slegs maar uit weetgierigheid vra, antwoord met nee! In ons bestaan van oergeskape geeste vind jy by ons, wat ontelbaar is, sonder uitsondering slegs maar die manlik-positiewe wese, maar tog is ook die vroulik-negatiewe grondbeginsels in elkeen van ons volkome aanwesig, en daarom vind jy in elke engel die volmaakte huwelik van die hemele van God. Dit hang heeltemal van onsself af, na gelang of ons onsself in één en dieselfde geestelike omhulsel in die manlike of in die vroulike vorm wil laat sien.

[13] Weens die feit dat ons in onsself dubbele wesens is, lê ook die rede waarom ons nie ouer kan word nie, omdat die twee pole in ons mekaar ewiglik bly ondersteun. By julle mense is die pole geskei deur `n geslagtelik geskeie persoonlikheid en het daarom, omdat elkeen apart is, geen steun vir mekaar nie.

[14] As die geskeie persoonlike pole hulself egter uiterlik raak, neem hul krag af en lyk hulle soos `n wynsak wat steeds rimpelagtiger word namate `n mens hom meer van sy geesryke inhoud beroof het. As jy jou egter `n wynsak sou kon voorstel wat self steeds dit sou kon produseer wat mens daaruit haal, dan sou jy op sy oppervlak nooit die voue en rimpels ontdek wat sy uiterlike daar so oud laat uitsien nie. - Verstaan jy dit goed?"

[15] Die hoofman sê: "Dit is nog nie heeltemal duidelik vir my nie, maar dit voed my nou tog wel `n bietjie. By `n gunstige geleentheid sal ons wel nog verder daaroor praat. Maar nou gaan ons na binne, want die mense verwag ons al!"

[16] Die engel sê: "Ja, ja, dit is so, en ek het ook al die gevoel in my wat julle honger noem."

[17] Die hoofman sê: "O, jy is dan `n suiwer gees!? Hoe kan jy dan stoflike kos eet?"

[18] Rafael sê glimlaggend: "Beter as jy! By my word alles wat ek in my opneem, volledig verteer en in sigbare lewe omvorm, - by jou net maar dit wat pas by jou geïsoleerde lewenspolariteit. Wat nie daarby pas nie, word vervolgens op die natuurlike weg uit jou verwyder. Ek is dus met eet en drink baie beter daaraan toe as jy!"

[19] Die hoofman sê: "Word daar dan in die hemel ook geëet en gedrink nie?"

[20] Die engel sê: "O ja, maar nie soos op die aarde nie, maar geestelik! Ons het die eeue deur die Woord van God ook in ons, soos wat hemel en skepping deur die Woord bestaan en heeltemal daarmee vervul is. Die Woord is voorlopig ons wesenlike bestaan en vir dié bestaan is dit ook die enigste werklike lewensbrood en die egte lewenswyn. In ons are stroom dit net soos die bloed wat by julle stroom, en ons ingewande is gevul met die brood van God."

[21] Die hoofman sê: "O, dit is ontsettend wys gespreek, dit verstaan ek gladnie, dit moet die Heer Self vir my uitlê! - Maar nou is dit egter hoog tyd om in die huis in te gaan en daarom sal ons nie verder daarop ingaan nie."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205