|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 162
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Julius werk die fariseërs weg
162 Op daardie oomblik kom daar berig uit die stad dat die groep aangekondigde nuutgebakte fariseërs en skrifgeleerdes uit Bethlehem daar aangekom het, en dat hulle `n geskrewe en deur die tempel ondertekende bevel by hulle het waarin staan dat die inwoners van Genésaret streng bestraf sal word as hulle hulle nie onverwyld kosteloos oor land of oor die water na Násaret sal vervoer nie!
[2] Ebahl sê, baie ongerus oor sulke eise van die kant van die tempel af: "Heer, so gaan dit nou jaar in en jaar uit. U is nou nog maar net vyf dae hier en U het reeds die vierde tog van hierdie leeglopers meegemaak. Hulle trek steeds maar heen en weer deur die land, en elke plek wat hulle by hul trektogte oorval, takel hulle dikwels erger toe as `n legioen sprinkane! As dit so tien keer per jaar gebeur, nou, dan sou ek nog vrede daarmee hê; maar om elke week twee, drie of vier sulke groepe onder jou dak te kry en hulle daarby ook nog alle moontlike hulp te moet verleen, daar sou selfs `n engel sy geduld by verloor en bowendien nog straatarm word ook! Wat moet ek nou doen? Regtig, ek doen, volgens vermoë, graag elke dag alle moontlike goed aan al die armes, maar hierdie skurke, hierdie ware foltermeesters van die arme mensdom sou ek alle dood en verderf wil toewens!"
[3] Ek sê: "Vriend, hou maar op daaroor; met geduld sal jy nog steeds die verste kom! Laat dit verder maar aan ons vriend Julius oor, hy sal hulle beslis vinnig deurstuur, en hulle sal dan wel rekening daarmee moet hou met die tipe voorkeurbehandeling, en sal hulle op die lange duur baie minder dikwels na die plek Genésaret begeef!"
[4] Die hoofman sê aan sy onderaanvoerder: "Haas jou, neem twintig man en gaan na die stad! Deel die onbeskaamde booswigte mee dat hierdie plek, vanweë die groot militêre besetting, haar in `n voortdurende staat van beleg bevind, en dat niemand haar sonder `n uitdruklike opdrag, afgegee deur `n Romeinse opperkommandant, mag betree nie! En as iemand haar wel betree het, dan word hy na die straf wat hy ontvang het, sy oë geblinddoek en sy ore met sagte modder dig gemaak, waarna sy hande en voete gebind word! In hierdie toestand word hy na `n seilskip gebring, op strooi gelê en vervolgens na die bestemde plek vervoer waar hy weer bevry sal word van alle hand-, voet-, oog-, en oorboeie, en sal met `n roeiboot aan land gesit word. Daarby moet aan hom egter onder bedreiging van die swaarste straf, die hernieude betreding van `n dergelike militêre staanplek, sonder regsgeldige toestemming van `n Romeinse militêre opperkommandant, verbied word. As die Bethlehemiete so `n bewys nie het nie, behandel hulle dan sonder uitsondering op hierdie wyse! As hulle geld het, dan kan hulle vir twee honderd pond silwer wel die tugtiging afkoop, maar nie die viervoudige boeie nie! As hulle egter geen geld het of as hulle nie wil betaal nie, moet elkeen van hulle, voordat hulle geboei word, vyftien slae met die roede op die tot aan die lendene ontblote rug kry! Dixi, fiat!" (Ek het gepraat, laat dit gebeur!)
[5] Na hierdie woorde van die hoofman haas die onderaanvoerder hom met twintig man na die stad en vind daar in die huis van Ebahl veertien fariseërs en skrifgeleerdes, wat die bediendes van die huis hardop verwens omdat die bediendes hulle nie volledig tegemoet wou kom oor hul brutale eis nie.
[6] Toe die onderaanvoerder hulle na hul vergunningsbewys vra, sê hulle (die fariseërs) brutaal: "Ons is priesters van God, hier is die teken van die tempel en meer het ons in die hele wêreld nie nodig nie!"
[7] Die onderaanvoerder sê: "Hierdie plek bevind hom in `n voortdurende staat van beleg. Daar is `n strenge keiserlike wet wat bepaal dat, sonder enige uitsondering, geen vreemde so `n plek sonder die vasgestelde wetlike getoonde toestemming mag betree nie! Niemand kan hom verontskuldig deur onbekendheid met die wet nie! Omdat u, soos wat ek sien, die bewuste bewys nie het nie, betaal u vir u straf twee honderd pond silwer of u kry as u dit liewer het, elkeen vyftien slae met die roede op die ontblote rug! Daarna word u gebind met die bekende viervoudige Romeinse boeie en na `n plek, soos deur u bepaal, gebring. Dit alles moet nou sonder enige teëspraak gebeur, want elke vertraging en elke weerspannige weerwoord het `n verdubbeling van die straf tot gevolg!"
[8] Toe die fariseërs en skrifgeleerdes dit hoor, roep hulle Ebahl se huismeester en beveel hom om hulle dadelik die twee honderd pond silwer te leen. Maar hy (die huismeester) sê: "My meester het u tog nie gevra om te kom nie, waarom moet hy dan nou vir u betaal? Want om iets aan u leen staan gelyk met geld in die see gooi! U het buite tog veertien gepakte esels! Ontlaai die diere maar van tweehonderd pond, en daardeur sal u sal u rûe veilig stel vir die harde slae met die roede! Ek gee geen oortjie aan u nie!"
[9] Toe die fariseërs en skrifgeleerdes hierdie antwoord van die goeie en troue huismeester van Ebahl hoor, trek hulle `n baie suur gesig, gaan onder die baie onaangename begeleiding van die onderaanvoerder na buite na hul lasdiere, en ontlaai hulle sonder moeite van die tweehonderd pond silwer wat hulle te veel dra.
[10] Nadat die onderaanvoerder die geld opgeberg het, boei hy hulle dadelik op die bekende manier en laat hulle met hul lasdiere op `n groot seilskip bring, waar hulle soos kalwers op die strooi neergelê word, en vervolgens onder swaar bewaking oor water daarheen vervoer word waarheen hulle aangedui het hulle wil gaan. Die jong fariseërs en skrifgeleerdes bejammer hulleself natuurlik ontsettend, maar dit help hulle egter niks. - Na `n uur kom die onderaanvoerder weer by ons en vertel dat hy alles presies uitgevoer het soos wat die hoofman hom beveel het.
[11] Die hoofman prys hom en vra hom dan waar hy die geld gelaat het.
[12] En die onderaanvoerder sê: "Heer, ek het dit solank aan die regskape huismeester van Ebahl in bewaring gegee, maar u kan verder met die twee honderd suiwer pond silwer doen wat u wil."
[13] Die hoofman sê: "Dit is prima, hierdie kêrels sal aan ons Genésaret dink! Kom hulle hier verby, of neem hulle die roete deur die boonste klein arm? Of gaan hulle dalk deur die kanaal wat bo langs die klein arm, respektiewelik daarvan slegs deur `n hele smal landtong geskei, in die see uitkom, maar tog wel diep en breed genoeg is om `n seilskip met `n lading van `n dertigtal mense te dra sonder om die modder van die bodem te raak?"
[14] Die onderaanvoerder sê: "Om elke hindernis opsetlik te voorkom, vanweë die huidige Judese sabbat, het ek hulle deur die kanaal laat gaan."
[15] Die hoofman sê: "Alweer goed en verstandig! Jy sal weldra bevorder word, dit sê hoofman Julius vir jou! - Hulle sal hulle aan Genésaret herinner, en nie so vinnig weer terugkom nie!"
|
|
|
|
|