|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 208
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Die gelykenis van die kluisenaar
208 "Luister! `n Meisie uit die gewone volk stap eendag met `n pad. Terwyl sy êrens gewerk het vir haar werkgewer, het sy so laat vertrek dat sy op die terugweg deur die nag oorval is. Maar halfpad kom sy by `n plek waar `n vrome kluisenaar gewoon het. Versprei oor die hele Judéa vind jy baie sulke mense wat, vanweë die Ryk van God, soos wat hulle dit wil voorgee en ook werklik in hul lewe wil toepas, `n sogenaamde streng lewe lei. Die huiswaarts kerende meisie in die al donkerwordende en stormagtige nag, klop aan by die huis van die kluisenaar en vra of sy binne mag kom om onderdak te kry vir die nag.
[2] Die kluisenaar kom na buite en bemerk dat die vraer `n meisie is, wat met haar binnekoms sy hut beslis sou kon verontreinig. Daarom sê hy, aangegryp deur heilige geesdrif: 'Onrein wese, kom nie in my aan-God-heilige rein huis in nie, want dit sou deur jou onrein word en daardeur sou ek onrein word! Gaan maar verder en gaan terug na waar jy vandaan gekom het!' Met hierdie woorde maak hy die deur toe en laat met `n verligte hart, en verheug dat hy die verontreinigende gevaar vir hom kwyt geraak het, die skreeuende meisie aan haar bittere lot oor. Opgewek trek hy homself terug in die binneste van sy huis en prys God dat Hy hom vir hierdie gevaar van sy siel so barmhartig beskerm het, en bekommer hom nie in die minste oor die arme meisie nie; of sy in die donker nag verongeluk of nie, dit interesseer hom gladnie.
[3] Na `n uur kom daardie meisie, besonder toegetakel deur die storm, by die huis van `n berugte tollenaar aan, wat in die oë van die suiwer Judeërs `n groot sondaar is. Hy hoor die arme meisie al van ver kla, want hy hou wag by sy tolboom. Hy was geen vriend van vroeg bed toe gaan nie, en daarom noem die rein Judeërs hom ook `n ordelose skobbejak.
[4] Hierdie sondige skobbejak steek egter gou `n fakkel aan en gaan die huilende meisie vinnig tegemoet. Toe hy haar voorthinkend en huilend vind, troos hy haar, tel haar met sy sterk arms op en dra haar sy huis binne. Daar gee hy haar te ete en te drinke en maak `n goeie en sagte bed vir haar gereed. Die oggend gee hy haar nog geskenke, saal twee lasdiere op en bring haar, algeheel verkwik en opgeruimd, na haar nog taamlik verre woonplek. -
[5] Kyk, die kluisenaar is `n streng boetvaardige, en leef steeds in `n strafdwang wat hy vir homself opgelê het, vermy daarby sorgvuldig alles wat sy as rein aangemerkte siel ook maar in die geringste sou kon verontreinig, en hy meen dat God hom baie hoogag. Tewens is dit hom ook baie werd dat die wêreld hom as `n smetteloos heilige van God beskou, en des te meer omdat dit in die algemeen van hom bekend was dat sy vertrek nog nooit deur `n vroulike voet betree is nie. Natuurlik bring hierdie sedelike reinheid hom menige gawe in sy hut, wat sekerlik sou verminder as daar ooit bekend sou word dat sy hut tog één keer verontreinig was deur die voet van `n meisie, waarvan mens tog nooit kon weet wanneer sy presies haar onreine periode gehad het nie.
[6] Vir die tollenaar pla dit niks of die wêreld goed of sleg van hom dink nie, sy huis staan altyd as die onreinste bekend en dit maak dat `n egte Judeër nie daarbinne sal kom nie, omdat hy hom dan vir minstens tien dae sou verontreinig. Daarom kan dit die tollenaar ook niks skeel wat die mense oor hom en sy huis sê nie, en hy doen dan ook vryelik wat sy hart hom ingee en dink daarby: 'Al is ek dan `n groot sondaar en so onsuiwer as wat maar moontlik is, wil ek tog barmhartigheid beoefen sodat ek eendag ook by God barmhartigheid kan ondervind!'
[7] My beste Josoë, sê jy My nou eers: Aan wie van die twee sou jy uiteindelik die voorkeur gee?"
[8] Josoë sê glimlaggend: "O, sonder meer die tollenaar, want as daar op die wêreld maar net sulke kluisenaars sou wees, sou die lewe van die mense weinig kans meer gehad het, en sou dus sleg daar uitsien! Die dom kluisenaar sou volgens my met sy sedelike reinheid elke uur tien keer gesteel kon word*! Waarlik, as ek ná die dood die hemel sou mag verhuur, dan sou die kluisenaar sekerlik die laaste wees wat ek in die laagste hemel die laaste plek sou aanwys, en hy sou nie daarvandaan kom tensy hy eers net soos die tollenaar geword het nie! - Het ek gelyk of nie?"
[*steel in die opsig dat satan hom kan bykom: vertaler]
|
|
|
|
|