|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 170
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246. |
|
|
Die wonderbron
170 Ek sê: "Het julle daar goed op gelet dat niemand sien dat ons hierdie berg opgaan en hier gaan sit nie?"
[2] Die leerlinge sê: "Heer, ons het gedurende die hele ruim twee uur lange tog geen mens gesien nie, maar daarom wil ons nie beweer dat niemand ons sou gesien het nie!"
[3] Ek sê: "Maar die vrou het ons gesien en ontdek dat ons hier uitrus en dit is voldoende vir duisende om môre na hierdie heuwel te kom!"
[4] Die leerlinge sê: "Heer, ons is nog nie so moeg nie, laat ons daarom na middernag hierdie berg verlaat en êrens anders heengaan, waar die steeds so hinderlike volk ons nie kan vind nie. Dan kan ons op die manier `n paar dae uitrus!"
[5] Ek sê: "Laat ons tog maar hier bly! Want dit is die wil van die Vader dat Ek hier allerlei gebrekkige mense genees van hul liggaamlike kwale. Daarom sal Ek drie volle dae op hierdie berg bly. Môreoggend kan julle daarop uitgaan en vir ons vir die drie voorbehoude dae voldoende brood haal!"
[6] Judas Iskariot sê: "Dan sal ons ver moet loop, want dit sien daar verlate uit, en binne drie tot vier uur gaan ons nêrens `n plek met `n bakkery vind nie!"
[7] Petrus sê: "Daar sal ek wel voor sorg, want aan die oewer van hierdie see is geen plek vir my onbekend nie, en ek weet waar jy kan brood kry. Hoogstens twee uur om soontoe te gaan, en net so lank terug!"
[8] Ek sê: "Goed, Simon Juda, sorg jy daarvoor! Wys maar self aan wie met jou moet saamgaan!"
[9] Petrus sê: "Heer, ons is met een man op twintig, as daar tien met my saamgaan, dan bring ons meer as voldoende brood en ook gebraaide visse vir drie dae."
[10] Ek sê: "Dit is goed so; maar laat ons nou gaan rus!"
[11] Daarop soek elkeen vir hom `n plekkie, wat vir hom die maklikste lyk om te rus en so word dit weldra stil op die berg. Al die leerlinge sluimer gou in, slegs Ek bly wakker en slaap `n bietjie voor die oggend. Toe Ek met sonsopgang ontwaak, was Petrus al terug met `n hoeveelheid brood. Hy het drie uur voor sonop al die berg afgegaan, en het benede aan die oewer van die see `n skip gevind wat met brood gelaai is, wat uit Magdala afkomstig was en na Jesaira koers wou vat. Petrus het byna `n kwart van die lading van die skip gekoop, en Matthéüs, die jong tollenaar, het alles betaal. Tewens het die skip ook goeie, vars gebakte visse vervoer, waarvan die brawe Petrus `n hele kis vol gekoop het, wat Matthéüs ook betaal het. Die bergtop was nou met dit alles voorsien, maar daar was één ding kort en dit was `n goeie bron. Op die hele berg, wat taamlik uitgestrek was, was geen druppel water te vinde nie, en die geringe wynvoorraad was nouliks voldoende vir `n halwe dag.
[12] Toe kom Petrus en My Johannes na My toe en sê beide: "Heer, U is méér as Moses! As U aan hierdie mooie wit rotsblok sou sê dat dit water moes gee, dan sou die suiwerste water beslis dadelik daaruit opwel!"
[13] Ek sê: "As julle beide voldoende geloof het, lê dan julle hande op die rots en beveel hom in My Naam om water te gee, en op die plek wat julle met julle hande aangeraak het, sal daar dadelik die beste, suiwerste en smaaklikste water te vinde wees!"
[14] Toe beide dit hoor, soek hulle dadelik `n geskikte plek op die rots, en lê hul hande daarop. Maar die rots gee geen water nie! Toe hulle ongeveer `n uur lank hul hande op die rots gehou het, begin dit te beweeg en verskuif weldra meer as tien treë van sy plek af. Die rotsblok het verskeie duisende jare gelede as meteoriet uit die hoogte daar neergeval, en het daardeur die enigste waterbron van hierdie berg sodanig versper dat daar geen druppel meer kon uitkom nie. Omdat nou, deur die verskuiwing, die rots van die ou plek weggeneem is, kom daar dadelik `n goeie en baie oorvloedige bron vorendag, in die vorm van `n ongeveer vyf voet diepe kom, wat - soos beskryf - etlike duisende jare gelede ontstaan het deur die impak van die rots.
[15] Op hierdie manier was hierdie berg nou ook vir altyd voorsien (en is dit nog tot op hierdie uur) van baie goeie water. Maar nóg Petrus nóg Johannes het verstaan hoe die rots deur net maar die oplê van hul hande, homself op die een of ander manier kon verplaas het. Later lê al die ander leerlinge ook hul hande op die rots om te sien of hy nog verder sou skuif. Maar hulle kon met die rots niks aanvang nie.
[16] Toe Petrus en Johannes hul hande egter weer op die rots lê, skuif dit dadelik weer verder. Daarop vra die ander leerlinge My: "Heer, waarom gebeur dit by ons nie?"
[17] Ek antwoord: "Omdat julle geloof so hier en daar nog ietwat hakerig is en die ware krag mis. Maar Ek sê vir julle: As julle regtig sou glo en nie sou twyfel aan wat julle wil kan laat gebeur nie, waarlik, dan sou julle julle hande op `n hele berg kon lê en hom beveel, en hy sou netsoos hierdie los swaar rots sy plek verlaat en hom êrens anders heen beweeg. Maar daarvoor is julle geloof nog veels te swak! Ja, Ek sê vir julle nog meer! Sou julle egter `n onwankelbare geloof gehad het, dan sou julle vir die hoë berg, wat ons by Genésaret beklim het, van hier af kon sê: 'Verhef jou en val in die see!', en die berg sou hom verhef en in see geval het soos wat julle gesê en gewil het! Maar, wat julle nou nog nie kan nie, dit sal julle eendag tog kan! - Laat ons nou egter ons oggendbrood eet, want dan sal dit regtig nie so lank meer duur nie of ons sal byna platgedruk word deur die mensemassa! Lê die voorraad brood en visse neer op die rots wat julle hier weggeskuif het!"
[18] Ons eet toe ons oggendbrood, en nadat ons nog bietjie visse daarby geëet het, lê die leerlinge die nog behoorlike groot voorraad op die groot wit rots, waarna ons na die mooi omgewing kyk wat hom voor ons wyd na alle kante toe uitstrek. `n Mens kon vanaf hierdie berg in helder weerstoestande die oewer van die groot Middellandse See baie goed hier en daar sien, die torings van Sidon en Tirus en nog `n hele boel ander plekke. Kortom, die uitsig vanaf hierdie berg was pragtig en wedywer met verskeie baie hoëre berge, waarvoor `n mens dikwels `n volle dag nodig gehad het om dit te klim. Die totale hoogte bo die oppervlak van die see bedra volgens die mate van hierdie tyd ongeveer vierduisend voet. Die plato was so groot en ruim, dat `n mens `n behoorlike groot stad daar kon laat bou het, net die toegange was aan alle kante taamlik steil, en `n mens moes op verskeie plekke baie moeite doen om omhoog te kom. Op `n aantal plekke was hierdie berg selfs onbeklimbaar, maar van die kant waar ons hom beklim het, was hy taamlik goed beklimbaar. En uit daardie rigting hoor ons dan ook, nadat ons ongeveer `n uur die mooi uitsig ingeneem het, baie mensestemme, met daar tussendeur baie krete van pyn van jonk en oud en van manne en vroue.
|
|
|
|
|