|
Die Huishouding van God - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 84
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277, 278, 279, 280, 281. |
|
|
Die visioen van Jorias, die tiende siener. Die hoogste leer van die ware Wysheid: die liefde is die enigste brood wat die gees versadig
84 En nou kom Jorias daarby, dit wil sê, by die hoë Abedam en vra aan Hom:
2. “Liewe, heilige Vader, sien, as ek in staat sou wees om my binneste na buite te keer en elkeen saam sou kan kyk as ek my droomgesig vertel, dan sou dit miskien nog by `n gelowige hart aankom, wat sulke ondeurgrondelike geheime wil opneem!
3. Maar sal al hierdie toehoorders dit wel aanneem en sal hulle dit wel glo, as hulle dit wat ek vertel nie tegelykertyd kan sien nie?
4. En as hulle dan nie in staat is om dit aan te neem en te begryp nie, sal my vertelling dan nie soos `n leuen lyk nie, wat ook deur niemand wie enige wysheid besit, geglo sal word nie, omdat dit `n leuen is en geen waarheid daarin lê nie?!
5. Omdat daar aan my visioen iets ongelooflik ten grondslag lê, en die vaders hulle miskien daaroor kan vererg wanneer ek dit vertel, - sien, liewe, heilige Vader, dan sou dit immers kan gebeur dat dit tenminste met my net so sal gaan as met my voorganger Horedon, wie deur U goedheid tog sekerlik alles wat daar te vertel was, ten beste gegee het!
6. Want ek praat nie so goed nie en as mens dan ook nog sulke ongelooflike dinge moet vertel, klink dit heeltemal verkeerd!
7. Hier val Abedam hom in die rede en sê baie ernstig: “Ja, juis, en daarom sal jy nou dadelik met jou vertelling begin, of sterf in jou gees vir ewig! - Begryp jy hierdie woorde?
8. Sien, die woorde van die Vader wil jy nie eerbiedig nie; daarom sal jy egter wel die van jou Heer eerbiedig, as die woorde van jou Vader miskien nie genoeg is vir jou nie! Mag die Heer egter vir jou ook nog te weinig wees, dan sal God Sy arm oor jou nek uitstrek!
9. Maar Ek sê vir jou, op die oomblik het jy nog die woord van die Vader; as die woord van die Heer egter kom oor die lui knegte, dan is dit `n verskriklike woord!
10. Maar God se woorde is die donder van die oordeel! Gehoorsaam daarom die woord van die Vader, sodat jy nie aan knegskap en die oordeel ten prooi val nie.
11. Vertel en deel aan almal alles mee wat jy in jou gesien het! Dit is My wil; begryp dit goed! Amen.”
12. Eers hier ontwaak Jorias weer soos uit `n droom, bid Abedam wenend om vergewing vir die dwaasheid dat hy homself ooit in so `n hoë mate kon vergeet en in sy eie hart, waar hy deur die Vader geroep word, nie dadelik oorweeg het wie die Een is wie so barmhartig was om hom daartoe te roep nie.
13. En omdat hy daarop van Abedam die hoogs troosryke versekering kry dat die Vader eintlik niks te vergewe het nie, omdat Hy Sy kind niks aanreken nie, maar dat Hy die gevallene altyd ophelp, en so lank na die verlorene soek, tot Hy hom vind en hom dan vol liefde op Sy heilige skouers lê en vervul van vreugde na die huis dra, begin hy dan ook dadelik as volg te spreek:
14. “Ek het op `n ligte wolk gestaan; ek het my in die toestand bevind toe die lig van my liggaamlike, vir die aarde bestemde oë, verdwyn en `n ander helderder oog hom in my ontsluit het.
15. Dit was dan ook al wat ek om my heen gesien het in die wye oneindigheid; bo my was niks, onder my en onder die wolk waarop ek gestaan het was ook niks nie en oral om my heen was ook niks.
16. Of die wolk my moeiteloos deur die eindelose vertes gedra het, of dat sy in rus was, dit kon ek ook nie sien nie, want daar was immers nêrens iets waaraan ek my beweging of rus kon afmeet nie.
17. Dit het my voorgekom asof ek al lank daar gestaan het, selfs so lank asof ek al byna `n ewigheid in hierdie toestand deurgebring het!
18. Deur die onverdraaglike eentonigheid kom ek uiteindelik op die gedagte om met myself te begin praat, en ek sê aan myself:
19. “Wat moet dit wees? Waarom staan ek hier op hierdie newelagtige onderlaag? Ek het intussen `n geweldige honger en dors ontwikkel!
20. Wat kan ek dan wel van hierdie skrale onderlaag afbyt?! - Om nou volledig dood te gaan van die honger, daarvoor is ek ook nie geskik nie; want dit word immers reeds bewys deur die eindelose lang duur van hierdie rare en beklaenswaardige toestand van my!
21. Wat moet ek hier maak? Wat moet ek nou doen?”
22. En ek spreek as volg verder met myself: “Hoe sou dit wees as ek net `n poging sou aanwend om van hierdie vervelende en honger en dors verwekkende wolk af te spring?
23. Ja, na benede in die oneindige diepte! - Dit sal tog om`t ewe wees of ek hier op die lange duur van die ewighede op hierdie wolk ten gronde gaan, of dat ek gedurende my val in die dieptes van die dieptes van die oneindigheid sal ophou om te bestaan!”
24. Na hierdie woorde versamel ek al my kragte, sleep myself na die rand van die wolk, sluit my oë en spring van die wolk af.
25. Na `n taamlik lang tyd van my vermeende val open ek weer langsaam, eers die een oog en toe die ander, - en waar was ek? - Honger en dors soos tevore, op my wolk!
26. Want die kon ek net so min verlaat as dat iemand hom vanaf die aarde in die oneindige wêreld en sonneruimte sou kan verplaas.
27. Toe ek dus ingesien het dat ek gevange was, kom daar `n grootse gedagte in my op en hierdie gedagte was God; en God was in die gedagte, - ja, God, U is dit Self!
28. En toe sê ek: “Wie kan U in gedagte hê, Oneindige, as U nie aanwesig was nie? Maar ek het U nou in gedagte, daarom is U daar ook vir my, hier waar ek U in gedagte het, en U is nêrens anders vir my nie as alleen daar waar ek U in gedagte het! Want hierdie gedagte is immers U woord in my; maar waar U woord is, daar is Uself tog ook!
29. Voorheen het ek nie aan U gedink nie. Waar was U toe? - Ja, U was ook hier; maar wou Uself maar net nie uitspreek nie! Maar omdat U Uself nou uitgespreek het deur die gedagte aan U in my, is U nou ook wesenlik hier by my en in my.”
30. Toe ek my in sulke verhewe gedagtes verloor het, val ek opeens aan die slaap; in my slaap droom ek dat ek die aarde, wat haar aan my voete vertoon, soos `n aarbei van honger verslind en ook die maan en die son en ten slotte die hele met sterre besaaide hemel met al sy vrye waters. Maar tog word ek nie versadig nie.
31. Hier vra ek my weer af: “Hoe kan ek nou nog honger hê? Het ek God nie in my en nou ook die hele skepping van God in my maag nie?!”
32. En toe hoor ek vanuit die ligte wolk wat my dra opeens die volgende woorde:
33. “Ook al verslind jy die oneindigheid en die ewigheid naas dit wat jy reeds verslind het, maar jy het nie die liefde nie, dan sal jy tog ewig honger en dors ly; want slegs die liefde is die ware, versadigende brood en die verkwikkende lewende water vir die hele ewigheid en die hele oneindigheid.
34. Wat is God vir jou van nut sonder die liefde en wat die hele uitspansel?
35. Sien, daarom is `n kind in die wieg groter as wat jy is, ofskoon jy die uitspansel verslind; want die kind het die liefde!
36. Wend daarom jou hart tot die liefde, en jy sal reeds in `n atoom liefde eindeloos meer vind, as wat jou ou wysheid jou kan gee!”
37. Na hierdie woorde ontwaak ek weer en bevind my weer hier te midde van die vaders, broers en kinders, en ook by U, heilige, mees liefdevolle Vader! Dit is dan ook al wat ek gesien, gevoel en gehoor het! Tot nou toe begryp ek nog heel weinig daarvan; maar ek dink by myself: Die Een wie my daardie droomgesig gegee het, sal vir ons almal ook die lig daaraan toevoeg!
38. Daarvoor my ewige dank en alle liefde; U wil geskied! Amen.”
|
|
|
|
|