Die Huishouding van God - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 12

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277, 278, 279, 280, 281.

Die grense van die leierskap

12 Na hierdie woorde dank almal vir Abedam vir die groot barmhartigheid, dat Hy Kisehel terwille van sy deemoed tot leidsman oor hulle gestel het en hulle sê eenstemmig:

2. "O Abedam, op wie U vertroue rus, op hom mag ons almal tog ook seker ons vertroue stel! Daarom sy U ewige dank, lofprysinge vir hom, wat U so barmhartig oor ons aangestel het; hy sal sekerlik vir ons almal `n wyse leier wees in U mees heilige Naam en U goddelike wil en welgevalle! Amen."

3. En Abedam voeg daaraan toe: "Ja, Amen sê Ek ook; maar onthou julle almal bowendien nog:

4. Ek is die Eerste en staan elkeen nog nader as die leidsman wat Ek julle gegee het.

5. Daarom moet julle in julle hart ook altyd eerder na My gaan as na die leidsman wanneer julle behoefte het aan raad en Ek sal dan julle harte ontvanklik maak om die raad uit die mond van die leidsman op te neem. En Ek sal julle reeds vooraf met dit vervul wat vir julle eers daarna uit die mond van die leidsman bevestig sal word, sodat julle dan die woord van die leidsman nie as sy woord, maar as My Woord in julle almal sal herken.

6. En so sal die leidsman julle nie in die sin dien dat hy julle wette en reëls sal voorskryf nie, maar hy sal slegs My wil in julle bevestig!

7. Wanneer iemand egter nie eers self na My sal kom nie, sal hy dit van die leidsman dikwels hard te verduur kry, omdat hy hom woorde sal verkondig en pligte sal oplê wat hy nooit as moontlik kan beskou nie en die uitvoering daarvan sal dan vir hom ook swaarder weeg as wanneer die dra van `n hele berg aan hom opgedra was.

8. Dus, Ek is die Eerste; dan eers kom die een wat My Woord uiterlik aan julle bevestig! Amen."

9. Hierna laat Abedam hulle gaan en vra hulle om Hom te volg en by Hom te bly solank Hy sigbaar onder die kinders sou vertoef.

10. Daarna roep Hy Jura, Bhusin en Ohorion na Hom toe.

11. En toe hulle onmiddellik na Hom toe kom en voor Hom op hulle aangesig val, beduie Hy hulle om dadelik weer op te staan en sê vir hulle:

12. "Julle sal nou sekerlik verneem dat alles wat hier bespreek is, volkome en duidelik My wil is; vir sover dit vir elkeen van julle moontlik is om daarvolgens te handel.

13. Maar julle het Ek nie vir die diepte bestem nie, - daarom het julle daaroor ook geen plig nie, ewemin as al die ander. Maar nou bestem Ek julle almal in gelyke mate vir die deemoed, as julle waaragtig My kinders wil wees en `n volkome vry, ewige lewe wil hê vanuit My.

14. Ek hoef julle niks meer oor die deemoed te sê as wat Ek reeds daaroor vir die uitverkorenes gesê het nie, maar Ek wil julle net nog aanspoor om julle veral vlytig op die deemoed in julle harte toe te lê; want sonder die egte, innerlike deemoed in sy hart kan niemand My waaragtig liefhebbend in sy hart omvat en dan daardeur `n volkome, ewige liefdeslewe uit My lei nie.

15. Telkens wanneer julle My sal wil bemin, maar julle hart nie kragtig genoeg is om My met vlammende liefde te omvat nie, maar julle slegs genoegdoening moet neem met droë gedagtes oor My (welke toestand te vergelyk is met iemand wat met groot geesteswarmte iets wil omvat; maar `n paar nagte nie daaroor geslaap het nie, waardeur sy gees dan geensins helder is en hy byna deur slaap oorman word, net as hy hom voorgeneem het om in die vuur van sy gees te gaan werk), bedink dan dat dit julle aan die ware deemoed ontbreek; want dit is die eintlike fondament van die hele lewe.

16. As julle egter nie die deemoed het nie, wat is julle liefde dan? `n Nagtelike droom! Wat is My erbarming vir julle? Die beroering van `n klip met `n stok! – Wat is My Barmhartigheid? `n Lig vir `n verrottende boomstomp! My Woord? `n Nie-gehoorde klank vir `n dooie kluit aarde! Wat is My Liefde tot julle? Die waai van `n sagte wind oor ongevoelige rolklippe! Ja, wat is Ek ten slotte Self? Niks anders as `n verskraalde denkbeeld sonder bestaan, of `n sonstraal vir `n dier wat op die seebodem of in die binneste van die aarde slaap!

17. Daarom moet julle ook vóór alles julle bes doen om deemoedig te word! Wanneer julle die binneste wortel daarvan gevind sal hê, dan het julle My ook volledig gevind in alle mag, krag en gesag en My Liefde, barmhartigheid en erbarming en die ewige lewe en sy heerlikheid in dit alles!

18. Ontvang julle daarom ook My seën en wees wyse leiers en leraars van al julle kinders! Leer hulle almal ook om My allereerste te soek; en het hulle My in die ware liefdesdeemoed van hulle hart gevind, dan eers sal hulle ook na julle toe kom en julle die groot vonds toon wat hulle ten deel geval het.

19. Ek verleen julle egter ook alle benodigde mag en krag; dit moet julle steeds wys gebruik wanneer julle weerbarstigheid sal teëkom.

20. Soos wat Ek julle nou uitverkies het om julle kinders te lei, net so sal julle ook uit julle midde diegene uitkies wie se hart julle vol van die ware deemoed sal vind; maar veral nie iemand wat daarna streef om meer en groter te wees as al sy broeders nie, in plaas van die minste onder hulle te wees.

21. Ook nie diegene wat hulleself, om uitverkies te word, as die allerminste voordoen nie; want `n kruiperige mens moet julle solank uit julle land ban, totdat hy, voorsien van My getuienis in sy hart, na julle sal terugkeer en julle sal versoek om hom op te neem as die geringste kneg in julle land.

22. Neem goed kennis van alles en wees vervul met vriendelikheid teenoor alle vreemdes, wat Ek spoedig na julle toe sal lei; dan sal Ek ook altyd by julle wees! Amen. My Seën sy met julle almal! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205