Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 94

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Oor die vloek en die gevare van geld

94 Maar Judas Iskariot, wat naaste aan ons staan, sê: “Ek dink egter dat dit die mens nie skade kan doen om geld by hulleself te hê tydens die reis nie!”

[2] Maar Ek sê: “Wie My ken soos hierdie gasheer wat ook in Sigar by My was, die weet ook dat `n mens by My ook sonder geld baie goed oor die weg kom! Kyk eers, hoewel ek geen sakke in My mantel het en nog minder iets wat ook maar lyk soos geld nie, het Ek tog vir baie honderde gesorg, wat deur Judea en Samaria met My saamgegaan het! Vra hulle, hoeveel hierdie reis elkeen gekos het!

[3] Ek sê vir jou egter nog bowendien dat Ek binnekort baie duisende sal voed sonder om meer geld by My te hê as nou.

[4] Ek sê vir jou: `n Ware en algehele vertroue op God is meer werd as al die skatte van die aarde waarmee jy wel vir `n kort tyd jou vlees, maar nooit jou siel sal kan help nie. As jy egter jou siel ten gronde gerig en verloor het, wat het jy dan later nog te gee vir die verlossing van jou siel?”

[5] Judas sê: “Ja ja, U het wel gelyk, maar vir bepaalde dinge moet `n mens tog geld hê!”

[6] Ek sê: “Hoe baie geld het Moses dan gehad toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het?” - Judas sê: ”Hy het goud, silwer en baie edelstene gehad!”

[7] Ek sê: “Dit het hy weliswaar gehad, maar dit maak dan ook dat hy nie in die voorspelde Beloofde Land kon inkom nie! Kan jy dit wel begryp?!”

[8] Judas sê: “Ek is die mening toegedaan dat by Moses, die profeet der profete van JaHWeH, nie die goud en die silwer wat hy op God se bevel uit Egipte moes saamneem nie omdat daar skuld aan was nie, maar eerder dat hy in `n swak uur van sy geloof te weinig op die trou van JaHWeH gebou het!”

[9] Ek sê: “En wat was die rede dat hy op sy dag swak geword het? Hy wat Moses toe swak laat word het, omdat hy te veel gedink het aan die baie silwer en die goud, staan hier voor jou en sê dit! Die Skrif is weliswaar in een beeld weergegee, maar soos Ek dit nou vir jou sê, so is en was dit in werklikheid!”

[10] Judas sê: “Goed, Ek neem van U aan dat dit toe so gebeur het. Maar nou is geld deur die koning van Rome en die helfte van die aarde eenmaal as wettige ruilmiddel ingevoer ter vergemakliking van die noodsaaklike onderlinge menslike verkeer en ons is verplig om dit te gebruik. En ook meen ek dat as dit geen sonde is om geld in die tempelkis te offer nie, dit ook geen sonde sal wees dieselfde geld aan `n arme te gee sodat hy homself `n paar dae daarmee kan onderhou nie. Dus is dit slegs al vanweë die armes goed om geld, wat nou eenmaal tog deur die staat wettig ingevoer is, op reis saam te neem en dus is dit die beste dat gasheer Koban `n bietjie geld by homself hou!”

[11] Ek sê: ”Jy dra weliswaar `n ryklik voorsiene beurs by jou, maar jy het gister tog niks gegee vir die drie armes wat jou om `n aalmoes gesmeek het en daarom meen Ek dat jy self nie lofwaardige gebruik maak van die geld waarvoor jy jouself voor My staan en aanprys nie!

[12] Wat die geld in die tempelkis aanbetref, daaroor sê Ek jou heel openhartig: Dit is `n gruwel van verwoesting, nie soseer vir `n paar armes van gees wat dink dat hulle daardeur die hemele kan verdien nie, maar des te meer vir hulle wat die geld uit die kas haal en snags daarmee brassery bedryf met vuil kreature! Solank daar geen geld bestaan het nie, was daar ook geen publieke vroue soos nou nie. Deur die koms van geld en allerlei munte het daar in Jerusalem, soos byna in al die ander stede, `n groot aantal vuil kreature gekom en die manne sondig dag en nag met hulle! En as die uit hul eie land nie meer goed genoeg is vir diegene met baie geld nie, dan laat hulle uit die berglande maagde kom, koop hulle in Griekeland en bedryf daarna in Judea met hulle die skandelikste hoerery! En kyk, dit alles en nog duisend keer erger, is die seën van geld wat deur jou so hoog geprys word!

[13] Maar dit is nog maar die begin van die vloek wat deur geld veroorsaak word.

[14] Daar kom egter nog tye wat slegter sal wees as die waarin Noag die ark gebou het en die ellende sal dan te wyte wees aan die goud en die silwer, - en slegs `n vuur uit die hemele wat al die vuil van die hel sal verteer, sal die mense verlos van die allergrootste ellende!”

[15] Judas sê: ”Ja, ja, U is `n profeet sonder weerga en dit weet almal; maar as mens geld goed gebruik, dan kan daar tog nie fout wees nie?”

[16] Ek sê: ”Ek sê vir jou: ja, as mens dit goed sou gebruik, dan sou dit net so goed wees soos al die ander dinge op aarde wat die mens beide goed en sleg kan gebruik! Maar die groot verskil lê hierin: As jy na `n stad gegaan het, dan moes jy allerlei dinge op jou skouers saamdra, hetsy gereedskap of eetware, en daarvoor kry jy iets anders terug wat jy nodig het, en ook `n voorbereide maaltyd. Dit is inderdaad ongemaklik - maar dit is ook ongemaklik om daarmee tot sonde verlei te word! Want as jy met jou pakkasie en sakke aankom of jy trek `n kar vol gereedskap en jy kom daarmee by so `n vuil kreatuur en jy wil met haar vir `n paar potte of skale sondig, dan sal sy jou bespot en uitlag en jy is gevrywaar van die sonde! Kom jy egter by haar met goud- en silwerstukke, dan sal sy jou nie bespot en uitlag nie, maar jou saamneem na haar liederlike kamer en sy sal jou met allerlei dinge prikkel om te sondig, om daardeur des te meer goud en silwer van jou te onttrek! Daarom is geld wel gemaklik, maar ook buitengewoon verlokkend en gemaklik om mee te sondig!

[17] En daarom het die Satan dit in hierdie wêreld ingebring, sodat daar gemakliker en meer daardeur gesondig kan word in die wêreld! - Weet jy nog nie dat dit die geleentheid is wat die dief maak nie?!”

[18] Judas sê: ”Ja, ja, dit is so! Maar as mens allerlei diewe daarteen wil hou, deur die mense niks te laat besit wat die diewe geval nie, dan sal daar aan mense ontsettend baie verander moet word! Ten eerste sou elkeen ewe arm aan aardse goedere moes wees, ten tweede sou elkeen daar dieselfde moet uitsien net soos mannetjies- en vroutjies musse en ten derde sou niemand wyser mag wees as al die ander nie! Maar so lank dit by almal nie die geval is nie, het al die praat, onderrig en tekens geen nut nie! Vele sal hulleself wel iets daarvan aantrek, maar tien keer meer mense sal ondanks al die lesse en tekens bly soos hulle is, as hulle al nie ewe gemaklik of selfs nog gemakliker - tien keer erger word as wat hulle eers was nie. Want elke mens het `n mate van eieliefde en wil `n redelike versorging hê; daarom dink elke mens tog heel natuurlik eers aan homself en dan eers aan die ander! En dit kan jy hom tog onmoontlik kwalik neem nie. Huis en grond kan elkeen tog nie hê nie, want dan sou God by elke geboorte `n stuk grond met `n huis gebore moet laat word en dit ook saam laat opgroei. Omdat dit egter nie so is nie en die eersgeborenes hulleself reeds lankal elke plekkie op aarde toegeëien het, sodat daardeur die meeste laasgeborenes tog geen voetbreedte stukkie aarde kan besit nie, bly daar uiteindelik niks anders oor as dat hulle hulleself deur allerlei kennis onontbeerlik maak vir die luie besitters en dan so op die een of ander manier in diens gaan by die ryke besitters van die aarde, of hulleself op diefstal toe te lê, om nie die sware bedelstaf te moet opneem nie. - As dan die bestes van diegene wat geen grond en geen huis besit nie, vir hulle dienste slegs maar geld kry en die geld, indien moontlik, bymekaar spaar, sodat hulle vir hulle ou dag iets kan hê, dan sien ek daar absoluut niks slegs in nie en ek vind dat in geld `n nuwe moontlikheid lê om grond en lande te koop vir al diegene wat op hierdie armsalige aarde deur geboorte en afkoms sonder enige besit en sonder hoop was om ooit te kry wat hulle wil hê nie. En ek moet eerlik beken dat God Self, wat nie tegelyk vir elke pasgeborene ook `n nuwe stuk land kan of wil skep nie, die heersers die goeie idee ingegee het om geld te skep, waardeur ook kinders van besitloses die nodige versorging kan kry, wat beter is as dit wat deur grond en besit verkry word. En God kan tog nie wil hê dat die kinders van besitloses te gronde sal gaan nie? Want hulle kan daar tog duidelik niks aan doen dat hulle op hierdie wêreld gebore is met dieselfde lewensbehoeftes as die kinders van die besitters nie!

[19] Al neem ek van U, wat miskien wel die grootste profeet is wat ooit hierdie aarde betree het, alles aan wat U al onderrig het en nog sal leer, dan neem ek tog dit wat U uitgelê het oor die skade wat geld berokken, nie aan nie. Want net so goed as wat geld volgens U opvatting skadelik kan wees, net so goed kan die ander ook skadelik word! As ek die skape, osse, koeie, kalwers, esels, hoenders en duiwe en al die vrugte en al die brood het wat slegs in ons land al sedert Dawid gesteel is, dan was ek die rykste mens in die hele Israel! En die hoerery was vroeër toe die mense geen geld gehad het, soos byvoorbeeld in Sodom, Gomorra en in Babilon, ewe erg en nog erger bedryf as nou.

[20] Ek wil nie direk beweer dat U nie gelyk het met dit wat U van geld sê nie; maar waar op hierdie armsalige aarde is daar dan iets te vind waarmee geen duisendvoudige slegtighede begaan word nie? As God sulke dinge egter nie so uitermate vervloek het vanweë die slegte gebruik daarvan nie, waarom moet hy dan juis geld as so sleg en vervloek beskou?”

[21] Ek sê: ”Wat iemand liefhet, daarvoor het hy ook verstand genoeg om dit te prys; jy hou uitermate baie van geld en kan daarom geld heel goed bejubel. Ek sal jou daarom ook verder niks meer sê nie, want waarvan mens hou dit sal mens ook prys. Jy sal egter binnekort die vloek van geld nog leer ken! - Nou hou ons egter daarmee op. Die weg na Kapernaum is nog styf en ons moet nog voor sonsondergang daar wees en onderdak soek!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205