|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 64
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Jaïrus kry twee Beskermengele.
64 Jaïrus sê: “Heer, as dit so is, en ek het by verskeie geleenthede myself al in alle erns daarvan oortuig, dan lyk dit vir my asof dit uiteindelik beter is om wynbou heeltemal te staak en die gebruik van wyn in my huis af te skaf. U mening, wat ek ook waar en goed vind, is dat ware Liefde ook deur die ware Woord opgewek kan word. Daarby met blywende gevolge, terwyl die bose noodwendig daardeur op die verre agtergrond geskuif word. As dit so is, staak ek onmiddellik alle wynbou en lê myself die verpligting op om, nadat ek pas hemelse Wyn gehad het, nooit weer enige aardse wyn te drink nie. Wat is U mening omtrent my voorneme?”
[2] Ek sê: “Ek kan dit nie goed- of afkeur nie. Handel na goeddunke. As iets ten behoewe van jou siel is, volg dan jou eie weldeurdagte mening. Origens mag jy alles wat goed is van My kry as jy daarom vra, omdat jy `n man is wat die goeie met strenge regverdigheid nastreef, ook omdat Ek jou dit beloof het.
[3] Jaïrus sê: “Heer, bly U en U vriende asseblief by my, of gee dat een of twee van U Jongmanne dan tog hier bly om my in die ware Liefde en Wysheid te onderrig.”
[4] Ek sê: “Ek en my vriende kan voorlopig nie aan jou vriendelike versoek voldoen nie omdat Ek in hierdie wêreld nog te veel te doen het, maar twee van hierdie Jongmanne, wie jy self kan uitkies, wil Ek wel by jou agterlaat. Pas egter op dat nie jy of enigeen van jou familie in enige sonde verval nie, want dan sal Hulle verskriklike tugmeesters vir julle word en weldra jou huis verlaat. Weet beslis dat hierdie Jongmanne Engele van God is en te alle tye Sy Aangesig kan sien.”
[5] Jaïrus sê: “O, Heer, dit is alweer `n bitter saak! Want wie kan daarvoor instaan dat hy nie minstens een keer per jaar in gedagte, woord of daad oortree nie? Met `n paar Tugmeesters byderhand sal dit `n onaangename verrassing oplewer. Daarom trek ek ook hierdie versoek terug, en moet alles maar bly soos dit is en nog altyd was.”
[6] Ek sê: ” Dit is goed so; jy kry wat jy ookal wil hê. Jy is vry en word in niks ingedwing nie, wees daarvan verseker.”
[7] Jaïrus sê: “Nee, tog! die Jongmanne, ek bedoel hierdie ware Engele van God sien daar so aantreklik en lieftallig uit! Ek glo dat dit onmoontlik is om in hulle teenwoordigheid `n enkele oortreding te begaan. Laat daarom maar gebeur wat moet gebeur, ek hou in elk geval twee van hulle.”
[8] Ek sê: “Nou goed dan, dan bly hulle twee sigbaar in jou huis aan vir solank hulle daar goed voel. My vriend JonaEl sal jou volledig in My Weg onderrig. Solank jy en jou hele huis in my Weg wandel, sal Hulle by julle bly en julle in alles dien en jou huis teen alle onheil bewaar; sou jy egter van die Weg afwyk, sal hulle jou en jou huis verlaat.”
[9] Jaïrus sê: “Goed, dan bly dit daarby. Niemand sal ooit weer in my huis wyn drink nie; die bestaande voorraad sal dien as betaling van die vermelde tienjarige belasting van die armes van die omgewing aan die Romeine. Die druiwe in my wingerd sal ek laat droog nadat dit ryp geword het, en dan as heerlike soet vrugte eet, en die surplus verkoop. Is dit goed so?”
[10] Ek sê: “Volkome! Alles wat jy uit liefde vir My en jou naaste, wat jou broer is, doen, sal goed en reg wees.”
[11] Hierna roep Ek dadelik twee van die Jongmanne nader, stel Hulle aan Jaïrus voor, en vra: “Is jy tevrede met hierdie twee?” By aanskoue van die twee is Jaïrus in die sewende hemele en sê: “Heer, as U meen dat ek hierdie Barmhartigheid waardig is, dan is ek tot in die diepste van my hart daarmee tevrede; ek is bewus van my gehele onwaardigheid om so `n barmhartigheidsgawe uit die hemele te besit. Ek gaan my uiterste bes doen om hierdie Barmhartigheid meer en meer waardig te word; en mag op hierdie wyse U Wil, wat vir my steeds meer gewyd word, geskied.”
[12] Die twee Jongmanne sê egter: “Die Wil van ons Heer is ons bestaan en ons lewe. As dit daadwerklik in alles nagevolg word, is ons die aktiefste medewerkers en daarvoor het ons oorvloedige krag en sterkte, want ons mag reik verder as die sigbare skepping. Vir ons is die aarde soos `n sandkorreltjie, en die son soos `n ertjie in die hand van `n reus; al die waters van die aarde is nie genoeg om een haar van ons hoof te benat nie; die Leër van Sterre beef voor die asem van ons mond. Maar ons het hierdie Krag nie verkry om ons te beroem op die grootheid daarvan in vergelyking met die groot swakheid van die mens nie, maar om die mens volledig in ooreenstemming met die Wil van die Heer te dien. Daarom kan en wil ons jou ook geheel-en-al volgens die Wil van die Heer dien, solank jy Sy Wil in al jou dade erken, aanvaar en respekteer. Sou jy egter die Wil van die Heer verlaat, verlaat jy ons, omdat ons niks anders is nie as die verpersoonliking van die Wil van die Heer. En as jy ons verlaat, dan verlaat ons jou ook. Ons sê dit vir jou hier in die teenwoordigheid van die Heer, wie se Aangesig ons altyd sien en aan Wie se sagste Wens ons altyd gehoor gee wanneer Dit ons met groot Krag tot `n nuwe daad oproep.”
[13] Daarop sê Jaïrus: “Wonderlike Jongmanne! Ek begryp en sien baie goed en duidelik dat julle oor `n Krag beskik wat vir ons sterflikes onpeilbaar is. Maar ook ek kan baie doen waartoe julleself miskien nie in staat is nie; ek kan my naamlik beroem op my swakheid waarin daar geen krag of mag is nie. In my groot swakheid lê daar verskuil die vermoë om die Wil van die Heer te herken, te aanvaar en uit te voer.
[14] Ek kan dit weliswaar nie in dieselfde mate as Julle vermag nie, maar die Heer sal my sekerlik nie meer gee om te dra as wat ek kan nie. So is my swakheid dan seer sekerlik eervol. Dit is gewis die moeite werd om tot die besef te kom dat die mens in sy swakheid net so die Wil van die Heer doen as Julle in Julle onmeetlike Krag en Mag.
[15] As ek die Heer tot dusver reg verstaan het, mag dit dalk so wees dat die Heer die klein dingetjies wat die kinders in hulle swakheid doen, die liefste het. Die krag en handelinge van die grote en magtige hemelgeeste gaan uiteindelik deur die swakste klein kindertjies op aarde gelei moet word om by die kindertafel te kan aansit. As die Heer dan Self na die swakke kom, veronderstel ek dat Hy die swakke sterk gaan maak.”
[16] Die Jongmanne sê: ”Ja, dit is beslis waar. Erken dus die Wil van die Heer en volg dit na, dan het jy ons Krag en Mag, wat niks anders is as die suiwer Wil van die Heer binne-in jou nie. Uit onsself beskik ons oor geen krag of mag nie; ons Krag en Mag is niks anders as die Wil van God wat in en deur ons vervul moet word.”
[17] Ek sê: “Aan beide kante is dit nou wel gedaan. Ons het onsself versterk, en nou, liewe mense, kan ons van die tafel af opstaan en op ons weg voortgaan.” Dit is vir almal die teken om op te staan, dankie te sê en saam met My na buite te gaan.
|
|
|
|
|