|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 175
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Huigelagtigheid van die fariseërs oor die sabbat
175 Ons gaan nou vinnig na benede en Kisjonah haas My al tegemoet om My en al die leerlinge uit te nooi vir die ontbyt en tegelyk verontskuldig hy homself dat die tafels vandag heelwat spaarsamer voorsien is as andersins, want die voorrade was op en hy het hulle nie laat aanvul nie, omdat hy wis dat Ek vandag - op die sabbat - weer bergaf sou gaan. As die ontbyt daardeur iets minder sou wees as andersins, dan is dit nie omdat hy dit so gewil het nie, maar omdat hy geheel en al buite sy skuld nie by magte was om iets daaraan te verander nie.
[2] Ek stel hom gerus en sê: “Wees maar gerus en maak geen bekommernis daaroor nie! So is dit heel goed en juis en alles gaan ooreenkomstig My wil; - origens moet Ek jou as My liewe broer en vriend daarop wys dat jy jou gedurende hierdie paar dae tog heeltemal te veel ingespan het.
[3] Ten opsigte van die ongenooide gaste, die groot groep fariseërs, sou jy beslis nie gesondig het as jy vir hulle geen tafel gedek het nie; want hulle het baie goud en silwer en as hulle hier wou wees, dan kon hulle hulleself ook versorg het! Maar dit was natuurlik ook geen sonde van jou dat jy hulle kosteloos versorg het nie. As jy hulle egter `n rekening wil gee, sal Ek dit nie afkeur nie. Die oue Tobias neem Ek egter op My rekening”
[4] Kisjonah sê: “Ek sal dit ook doen; daar is genoeg armes, - die gelag sal hulle ten goede wees! Maar wees nou so goed, o Heer, om die karige maal met U leerlinge te gebruik; die fariseërs slaap nog in die groot slaaphut en ek wil graag sonder hulle eet!”
[5] Ek sê: “Dit is nie goed nie! Wek hulle en nooi hulle uit vir die maaltyd! Ek sal vandag met al die Myne vas tot die middag; benede sal ons dan later `n regte maaltyd gebruik.”
[6] Kisjonah doen dadelik wat Ek vir hom sê, hoewel dit hom moeilik geval. Die fariseërs en diegene wat by hulle is, hoor en kom gou vanaf hulle slaapplekke en haas hulle na die ontbyt, wat hulle ondanks die sabbat heel haastig gebruik; want hulle is bang vir die son, wat weliswaar al lankal opgekom het, maar nog nie die hut bereik het nie, omdat dit op die westekant by `n hoë rotswand gebou is, wat heel gou die hut sou bereik en dan mag hulle eers weer eet na sonsondergang, of in die tempel te Jerusalem tydens die breek van die toonbrode.
[7] Kisjonah vestig My aandag daarop en sê: “Dit is eintlik `n lagwekkende gedoente, by hulle begin die sabbat op die oomblik as die sonnestraal die punt bereik waar hulle hulleself bevind! Soos U nou al `n paar maal gesien het, o Heer, skyn die son eers teen die middag oor hierdie hut, en hierdie lippedienaars sou dus eers halfpad die dag in die sabbat begin vier. Sulke kêrels sal jy kwalik êrens anders op die goeie aarde vind!”
[8] Ek sê: “Laat dit maar daar; binnekort sal daar verskeie geleenthede hulself voordoen, en wel voor ons heeltemal onder is, waarop ons hulle hulle sabbat onder die neuse kan vryf. Maar dit beteken nog niks as jy nie weet hoe slim hulle hulle sabbat ontduik as hulle dit wil en die sabbat in hulle sinagoge hulle geen ryk oes beloof nie: - dan maak hulle vensters en deure dig toe, sodat die son haar lig nie kan laat skyn in die vertrekke van sulke lippedienaars nie, en op die plek en op daardie oomblik is daar dan geen sabbat in die huis nie! So geld ook `n dag sonder son nie as `n volle sabbat nie, tensy hulle in hulle sinagoge hulle sewe-armige kandelaar aansteek nie, maar so iets doen hulle natuurlik slegs as daar `n ryk offer te skep is! Daarom het hulle dan ook altyd `n bewolkte sabbat liewer as `n dag soos vandag, waarop die son helder skyn.
[9] Maar soos wat Ek sê, vandag kom daar nog wel `n geleentheid waarby ons dit onder hul aandag kan bring. Maar nou gaan ons op ons weg, want dit sal vandag baie warm word en dit is nie aangenaam om in die groot hitte te reis nie.”
[10] Nou breek ons ook dadelik op en daal met `n vinnige pas die berg af na die dal en die fariseërs hyg agter ons aan en vererg hulle oor ons haastige tempo. Een roep ons selfs na en sê: “Waarom loop julle tog so onsinnig vinnig? Het julle iets daarbo gesteel?”
[11] Die jong Matthéüs, die apostel, laat nie op hom wag nie en antwoord: “Ons loop met ons eie voete, net soos julle met julle s`n, en ons gaan daarom so goed en so vinnig soos wat ons self wil, waaroor ons tog hopelik geen rekenskap aan julle hoef af te lê nie; ook het ons vooraf met julle geen bindende afspraak gemaak oor hoe gou ons voor julle sal uitgaan nie! Hou dus julle mond en gaan julle eie weg soos wat julle kan en wil! Ons maak ons nie besorg oor julle nie; waarom maak julle julle dan besorg oor ons?”
[12] Dan sê `n fariseër wat al baie kwaad daardeur geword het: “Wat loop jy tog en klets, onnosel tollenaar; weet jy dan nie dat dit vandag sabbat is nie en waarop niemand behoort te twis nie?
[13] Daarop antwoord Matthéüs: “Geld die sabbat dan slegs maar vir my en nie vir julle nie? Wie begin die rusie te maak? Daar staan tog nêrens geskryf dat jy nie op die sabbat vinnig mag loop nie; daarteenoor verlang julle selfs dat `n mens nie te veel moet drentel op die sabbat op weg na die sinagoge nie, en dus oortree ons selfs nie eers julle wet as ons vandag op die sabbat heelwat vinniger gaan as op `n ander dag nie. Onder in die dorp staan `n klein sinagoge waar ons, as ons gou genoeg stap, beslis nog betyds sal aankom; wat verlang jy dan nog meer van ons?”
[14] Die fariseërs sê: “Ja, jy hoor tog nie by hulle dat hulle na die sinagoge en die skool haas nie! Dit is lagwekkend as `n tollenaar maar net oor `n sinagoge praat! Ons wil jou nie ken nie. Jy is meer `n heiden as `n gebore Griek en wil jy dan beweer dat jy jou na die sinagoge haas, duistere boosdoener?”
[15] Matthéüs sê: “Dit word nou tyd dat jy jou tong beteuel, anders sal ons onsself die uitsonderlike vryheid veroorloof om met knuppels op julle rûe die sabbat te breek! Kyk, julle ewige leeglêers, watter reg wil julle julleself aanmatig oor ons! Nog één beledigende woord en ek vergeet die sabbat en my menslikheid en pak julle aan asof julle bere is!” Na die dreigement sê die fariseërs weliswaar niks meer nie, maar innerlik kook hulle.
|
|
|
|
|