|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 104
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
In Gadara:
Genesing van die besetenes
104 Die land, of liewer die streek, waarby ons nou aangekom het, word bewoon deur `n volkie, die Gergeseners, ook genoem Gadareners en dit lê langs die hele lengte van die meer reg teenoor Galilea.
[2] Nadat ons almal aan land gegaan het en na die stadjie Gadara wou loop, wat op `n heuwelagtige hoogte bokant seespieël lê, omtrent ses duisend treë van ons landingsplek af, hardloop twee naakte persone met gruwelik vertrekte gesigte ons tegemoet. Dit was reg teenoor die stad, en hulle kom van `n klein bergie langs die meer af - teen die hange van die berg is die begraafplaas van die bewoners van die omgewing en die stad. Hulle is deur `n hele legioen bose geeste besete en as gevolg van hulle grimmige woede, kon byna niemand hierdie deurgang na die stad gebruik nie. Hulle woon in die grafte van die kerkhof op die berg. Niemand kon hulle vang of met kettings bind nie, want al word hulle nou en dan deur `n groot klomp sterk mense oorweldig, met kettings gebind en in boeie geslaan, dan word die kettings in `n oogwink verbreek en die boeie tot poeier vermaal. Dag en nag was hulle tussen die grafte op die berg vreeswekkend aan die skreeu en kap hulle hulleself verskriklik met klippe.
[3] Toe beide van hulle My egter tussen My leerlinge aangeloop sien kom, hardloop hulle reëlreg op My af, val voor My voete neer en skreeu: “Wat het ons met U te doen, Seun van die Allerhoogste! Het U gekom om ons vóór ons tyd te martel? Ons besweer U by God die Allerhoogste dat U ons nie sal martel nie!”
[4] Ek praat egter dreigend met hulle: “Wat is jou naam, bose gees, wat beide van hulle martel asof hulle tesame één man is?”
[5] Daarop skreeu die bose: “My Naam is Legio, want daar is baie van ons!”
[6] Ek gebied die bose daarop om die twee te verlaat. Oombliklik verlaat `n groot klomp bose geeste, in die sigbare vorm van groot, swart vlieë, die twee, maar hulle vra My dringend om hulle nie uit die streek uit te verjaag nie.
[7] In `n westelike rigting, langs die lae bergie by die meer, was daar `n groot trop varke. Hulle het behoort aan die Gadareners, welke volkie merendeels uit Grieke bestaan het, wat die vleis van hierdie diere geëet het asook daarmee handel gedryf het, grotendeels met Griekeland.
[8] Toe die bose geeste hierdie trop varke sien, vra hulle My nogmaals of Ek hulle toestemming sal gee om in die trop in te vaar.
[9] Nadat Ek hulle dit toegestaan het om hoogs geheime, vir die wêreld verborge redes, vaar die duiwels dadelik in die ongeveer tweeduisend varke in.
[10] Nadat die duiwels in die varke ingevaar het, hardloop hierdie diere na `n berg wat `n sterk uitstaande rots in die meer gehad het, en vanaf die rots, wat ongeveer driehonderd voorarm bo die watervlak uitsteek, stort al tweeduisend varke soos `n tornado in die meer, juis op die plek waar dit baie diep was.
[11] Toe die herders wat die varke opgepas het, sien wat daar met die besetene gebeur het, skrik hulle geweldig, vlug weg, hardloop na die stad en vertel elkeen en spesifiek hulle opdraggewers, wat hier by die meer gebeur het.
[12] Die bewoners van die stadjie skrik, en een van hulle wat, net soos baie ander in die stad nog heidene was en groot agting vir Jupiter en al die ander gode van die heidendom het, sê: “Het ek dan nie vanoggend gesê nie: as daardie twee wat deur die furies gemartel word, stil word, en die meer daarenteen ten spyte van `n helder skoon dag deur `n storm opgeswiep word, dan kom daar `n god van bo af om ons in strafgerig te bring, want die gode kom nooit sonder roede en swaard van die sterre af na die aarde nie. En só het dit nou gebeur: die furies, wat altwee die sondaars teister, het eerstens die waters laat opbruis, omdat hulle sekerlik geweet het dat `n god gaan neerdaal wat hulle uit beide sondaars uit gaan verdryf. Dat hulle(die furies) hulle toe in die vorm van swart perdevlieë op ons varke stort en hierdie diere stormend in die meer in dryf, dit is vir my so duidelik soos die son op `n helder middag. Daar bly vir ons nou niks anders oor nie as om met alle nederigheid en boetvaardigheid in ons gemoedere as groot klomp mense tesame na die god, waarskynlik Neptunus of Mercurius, af te gaan en hom baie nadruklik te smeek om hierdie gebied so gou moontlik te verlaat. Want, solank `n god homself sigbaar in `n streek op aarde besig hou, kan jy maar net een ongeluk na die ander verwag. Soos reeds gesê, `n god kom nooit sonder roede, swaard en oordeelsgerig van die sterre af na die aarde hieronder nie.
[13] Laat niemand hom egter, selfs nie eens in sy diepste, mees geheime gedagtewêreld, oor die skade wat ons berokken is verwyt nie, want dan is dit heeltemal verby met ons. Ons het die oue gode nou al vir `n geruime tyd geen ware offers meer gebring nie, waartoe ons sekerlik die meeste gehinder is deur die domme Judeërs, wat altyd beter wil weet as ons, sodat `n beledigde god nou self sy offer kom haal het! Dit is hoe die saak staan! Daarom mag ons ook nie enige gedagtes van ontevredenheid daaroor in ons laat opkom nie. Al wat ons kan doen, is om af te gaan na hom toe, hom te groet en hom dan vurig te smeek om hierdie omgewing dadelik te verlaat.”
[14] `n Klompie Judeërs het ook na die toespraak geluister, en sê nou: “Jy dink weliswaar dat ons dom is, maar ons weet daar tog meer van af as julle. Kyk, hierdie kamstige god van julle is óf `n towenaar uit Persië, óf die beroemde Jesus uit Násaret, van wie ons al groot dinge gehoor het. Wat die res aangaan, is ons dit met julle eens dat ons hom baie ernstig moet smeek om hierdie gebied te verlaat, want sulke mense bring nooit geluk vir `n land nie - dit weet ons uit die tyd van ons profete. As ons God bepaalde mense in `n land tot profete opwek, dan staan die ongeluk van daardie land al vas!”
[15] Daarop kom almal van die stad bymekaar, begewe hulle na buite en kom met die berg af na My toe; net `n paar siekes bly tuis. Toe hulle wat uit die stad uit kom, My sien en bevind dat Ek daar heel normaal en menslik uitsien, skep hulle genoeg moed om dit nader te waag en, steeds baie bang, My te vra of Ek nie hulle land dadelik wil verlaat nie.
[16] `n Paar van hulle bekyk die twee wat hulle vroeër as besetenes goed geken het. Die twee is nou geklee en praat heel verstandig met hulle en vertel hoe Ek hulle van hulle pyniging bevry het, en My metgeselle hulle dadelik geklee het. Maar dit alles verminder nie die vreesbevangenheid van veral die heidene nie, en hulle enigste wens bly dat Ek hulle streek verlaat om nooit weer terug te kom nie.
[17] Ek gee aan hulle wens gehoor, en sê aan Petrus: “Vriend, bring die skuit maar spoedig in gereedheid sodat ons ons gou aan hierdie gebied kan onttrek.”
[18] Petrus en sy knegte kry die skip dadelik gereed. Toe Ek aan boord stap, kom die twee geneesdes My vinnig agterna en vra My of hulle My ook mag volg. In die stad het hulle nie meer werk nie en ook niks om van te lewe nie; hulle familielede sal hulle nie weer in hulle huise wil opneem nie, omdat hulle te bang is vir hulle. Ek wys hulle egter met vriendelike erns weg, en sê aan hulle: “Gaan maar gerus na julle huise en julle families terug; hulle gaan julle met vreugde terugneem. Gaan verkondig aan julle bure en ook aan die hele streek watter groot daad die Heer aan julle gedoen het, en watter barmhartigheid Hy aan julle bewys het; dit is beter as dat julle My nou volg. Julle moet nou juis in hierdie omgewing waar mense julle oral goed ken, goeie getuienis oor My lewer en daardeur nuttig wees vir die mense; en die mense sal julle nes voorheen, toe julle vir hulle `n verskrikking was, nie laat verhonger nie.”
[19] Soos een man draai altwee geneesdes om en begin baie ywerig te doen wat Ek hulle aanbeveel het.
[20] Binne `n korte tydjie het die twee My bekend gemaak, nie net in hulle geboorteland nie maar ook in al tien die stede wat daar bo langs die meer lê. Hulle het met groot ywer verkondig watter groot daad Ek aan hulle gedoen het, en watter groot barmhartigheid Ek aan hulle bewys het. Daardeur glo baie, sowel Judeërs as Grieke, in My Naam en kry `n groot verlange na My.
|
|
|
|
|