Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 70

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Liefde as bron van die Waarheid

70 (Die Heer): “Ek sal dit met `n voorbeeld vir u nog duideliker maak.

[2] Gestel dat `n paar van u ondergeskiktes hulle teen u voorskrifte oortree het en daarvoor gestraf moet word. Op die voorgeskrewe manier stel u ondersoek in na wat hulle gedoen het, en by wyse van allerhande slim vrae probeer u hulle tot `n erkentenis te dwing, maar, hulle sien kans om hulle verstand te gebruik om alles wat u met u verstand tog so slim en verstandig aan hulle vra, te weerlê. Op die manier veroorsaak een leuen nog leuens en ten slotte kom u niks verder nie. U moet hulle nou veroordeel sonder dat hulle `n bekentenis gedoen het en u moet u verlaat op die verklarings van getuies, wat hulle dalk vyandiggesind was en daarom ook nie die waarheid praat nie! By sulke regspraak kan u maar aanvaar dat miskien in een uit tien gevalle `n regverdige oordeel uitgespreek sal word, en dat dieselfde lot die skuldige sowel as die onskuldige sal tref.

[3] As u uself egter nie as regter nie, maar as `n liefdevolle mens teenoor u arme broers wat hulle teen u wangedra het, sou voorstel, en as u ook sou weet hoe om liefde in hulle harte op te wek, dan sal hierdie boosdoeners berouvol en onder baie trane eerlik en opreg erken hoe, wanneer en watter misdryf hulle teenoor u gepleeg het. Maar dan moet die straf ook wegval! Straf as sodanig is nie Waarheid nie, maar die teendeel. Dit is omdat straf nie uit Liefde nie, maar uit die toorn van die wet en die wetgewer voortspruit. Die toorn is self egter `n gerig, en in die gerig is daar geen Liefde nie. Maar waar geen Liefde is nie, is ook geen Waarheid nie.

[4] Hou uself daarom aan die suiwer Liefde en handel in Haar Waarheid en Krag; dan sal u oraloor die Waarheid vind en baie duidelik gewaarword dat daar wel deeglik een algemene Waarheid is wat nie slegs hierdie aarde nie, maar die hele oneindigheid deurdring!

[5] As u so met mense sou wou omgaan, dan sou u My op die morele korrekte manier navolg en deur genoemde navolging die Ewige Lewe beërwe. As u egter bly soos wat u nou is, dan bly daar vir u, buiten u graf, niks anders oor as die dood van die Gees van Liefde en van Waarheid nie, oftewel duisternis, en `n leë bestaan vol leuens!

[6] Jy moet weet dat hierdie aardse lewe maar baie kort van duur is; daarna kom die eindelose ewigheid. As die egte Waarheid nie binne u tot die lewe gekom het nie, sal u bly lê soos wat u geval het!

[7] Vir eers weet u nou alles wat u behoort te weet. As u dalk meer wil weet, gaan dan af en toe na die owerpriester, JonaEl, wat in Sigar is. Hy sal u alles vertel wat hy van My geleer, gesien en gehoor het. Handel daarvolgens, dan sal u verlos word.”

[8] Die owerste sê, heeltemal deurdronge van die waarheid van My woorde: “Vriend, uit U toespraak het dit vir my duidelik geword dat U die allerwysste mens op die aarde is, en daarom sal ek ook alles doen wat U my aangeraai het. Nou wil ek egter graag van U self net nog hoor wie U nou eintlik is. U het my deur die Jongmanne wat U begelei het, `n baie skandelike volslae nederlaag toegedien, en deur die wonderbare wyse waarop hulle my op die vlug laat slaan het, kan ek maar net glo dat hierdie Jongmanne gode of beskermgeeste uit die hemele is. Afgesien daarvan het U groot Wysheid my ook daarvan oortuig dat U beslis meer as net `n eenvoudige mens is. Aan baie van U leerlinge het U waarskynlik al vertel en getoon wie U is. U kan sien dat dit in elk geval vir my `n saak van volkome erns is om in die gees `n leerling van U te word. Vertel daarom ook vir my vir wie ek U moet beskou. Wie en wat is U en waarvandaan is U in werklikheid?”

[9] Ek antwoord: “Eerstens - eintlik het Ek dit al vir u gesê, en wel op so `n wyse dat u dit maklik sou kon ontdek as u goed daaroor sou gaan nadink, en tweedens het Ek u pas na JonaEl verwys. Wanneer u na hom toe gaan, sal u alles te wete kom wat u nou nog nie verstaan nie. Moet ons egter nou nie langer ophou nie, want die dag loop ten einde en Ek het nog baie om te doen.”

[10] Die owerste sê: “Laat my dan toe om tot by die stad met U saam te gaan.”

[11] Ek sê: “Die pad is oop, en as u My met goeie bedoelings wil begelei, doen dit gerus! Maar as u heimlik een of ander duiwelse beweegrede het, bly dan liewer tuis, want dan sou u meegaan beslis vir u geen seën toebring nie. U het My Mag mos al leer ken!”

[12] Die owerste sê: “Dit is ver van my, alhoewel ek in hierdie mistieke tye daar `n goeie rede voor sou hê. Die geheime tyd waarin die Judeërs hulle magtige Redder, wat hulle van die heerskappy van Rome gaan verlos, en wat hulle van hulle God af verwag, is op hande. Telkens kom daar gerugte van die Judeërs se kant af dat hierdie Redder hom alreeds op aarde bevind. Ek sou my dit baie goed kon voorstel dat U hierdie Redder kan wees - ja, heimlik het ek dit ook al oordink. Hoe dit ookal mag wees - ek kan sien dat U allerwys is, en daarom het ek U lief as ware mensevriend! Hierdie gedagtes sal my derhalwe volstrek nooit hinder terwyl ek U ter wille van die Waarheid volg nie - liggaamlik nou na Sigar en geestelik my hele lewe lank. Ek is terdeë daarvan bewus dat ek as Romein daarmee geen triomfboog vir myself gaan oprig nie! Daarmee het ek nou alles aan U onthul, en ek vra U dan nog een keer of ek U mag begelei. Sê U ja, dan gaan ek U begelei; sê U egter nee, dan bly ek hier.”

[13] Ek sê: “Begelei My dan maar saam met al die mense wat hier by u staan sodat wettige getuies u kan bystaan.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205