Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 79

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Oor sielsiekes en vyande

79 Die owerste is baie onder die indruk van die treffende en waaragtige toespraak van JonaEl, en sê: “Ja, dis nou vir my heeltemal duidelik en ek gaan van my voorneme afsien. Wat jy my ookal vra, dit sal ek dadelik doen, en ek laat aan jou, as deur God so aangestel, die leierskap van hierdie gemeente oor; sonder jou raad sal ek in die vervolg niks meer doen nie.”

[2] JonaEl sê: ” Dis goed so, en dit sal die Heer se goedkeuring wegdra. As iemand liggaamlik siek is, dan moet hy liggaamlike hulp kry; maar as iemand siek is wat sy siel betref, moet hy mos hulp vir sy siel kry, na gelang van watter siekte dit ookal mag wees.

[3] Die sielsiektes van kinders word ten beste deur goeie, ordelike tug, waarby die roede nie mag ontbreek nie, genees. Die sielsiektes van volwassenes word egter deur wyse en liefdevolle raad, deur soortgelyke lesse en onderrig, deur vermanings voortspruitend uit suiwer Liefde en deur te wys op die onafwendbare, ernstige gevolge van `n vrywillige vasklou aan die swakheid van die siel, genees. Sou dit by baie verstokte, dit wil sê blinde en dowe siele, nie die gewenste uitwerking hê nie, dan word dit tyd om sulke wesens aan strenger en kragtiger optrede te onderwerp, maar, waarin naasteliefde tog ten volle teenwoordig moet wees, want sonder naasteliefde kan daar geen seën uit enige streng optrede voortkom nie!

[4] Sou die leier egter uit woede en helse wraaklus optree, dan is alle moeite vergeefs! In plaas daarvan om die sielsiekes tot ware mense te genees, word hulle tot duiwels met onkeerbare wraakgierigheid gemaak.

[5] Die satan kan deur mag en geweld van bo wel vir `n tydjie bedwing word, maar sodra die Heer Sy Mag terugtrek vanweë die hoogmoed van mense wat, ondanks alles, glo dat hulle deur eie mag en wysheid, bestaande uit `n onverbiddelike tirannieke hardheid, hulle voorkeurorde in stand kan hou en die satan se boeie van hom afwerp, dan, ja, dan kom die mag van diegene wat hulleself magtig waan, skielik tot `n einde! Want die mense wat deur so `n verkeerde optrede tot egte duiwels gemaak is, sal soos `n oorlopende rivier, oor die ander mense heen stort en hulle vernietig asof hulle nooit bestaan het nie!

[6] Die doodstraf het egter die slegste uitwerking. Watter sin kan daarin wees om iemand se liggaam dood te maak as mens sy siel en gees nie gevange kan hou nie? Dis tog waarin die eintlike krag waaruit `n mens handel en optree, hom bevind!

[7] Wie glo dat deur sy vyand se liggaam te dood, hy homself van sy vyand verlos het, is met tienvoudige blindheid geslaan! Daardeur maak hy juis van `n enkele, sigbare en swakke vyand duisende onsigbare vyande wat hom daarna dag en nag vervolg en hom aan liggaam, siel en gees skade berokken.

[8] Kyk na `n oorlog, waar dikwels duisende mense liggaamlik gedood word. Die oorwinnaar glo nou dat hy van sy vyand ontslae is omdat hy hulle volgens sy blinde idee liggaamlik vernietig het. Maar dit is `n baie groot vergissing! Die siele en geeste van die doodgemaakte mense het `n regstreekse invloed op die weersgesteldheid op aarde en langs hierdie weg vernietig hulle jarelank allerlei sade en vrugte. Hierdeur word voedingsmiddele skaarser en duurder, daardeur ontstaan hongersnood wat op sy beurt allerlei epidemies en peste tot gevolg het. Daardeur word in `n korte tydjie meer mense afgemaai as wat hy vyandelike soldate in die oorlog doodgemaak het. Omdat die krygsmag van sy eie land hierdeur te klein word, moet hy, om homself staande te hou, vir groot somme geld soldate uit ander lande werf. Dit bring sy land in die skuld en na `n aantal jare, as land en volk geheel verarm is en hy sy skulde en soldate nie meer kan betaal nie, sal die mense hom weldra onder baie verwensings van alle kante af begin vervolg. Die volk wat hy vir hom verower het sal weens die te groot nood teen hom opstaan en die vyande van buite sal die geleentheid ook nie onbenut laat verbygaan nie en teen hom te velde trek. Hy, die eens gevierde oorwinnaar, sal in so `n stryd nooit tot oorwinnaar bekroon word nie, nee, vertwyfeling sal hom asof met die kloue van `n tier vasgryp en geestelik tot in sy diepste lewensvesels verskeur!

[9] Kyk, dit is dan alles die gevolge van die liggaamlike doodmaak van vyande.

[10] Daarom is daar die oeroue reël en gewoonte dat alle naasbestaandes van `n liggaamlik sterwende hulle met hom versoen en hulle deur hom laat seën. Sou hy sterf as iemand se vyand, dan is diegene wat hom as vyand oorleef, te bekla. Eerstens sal die vrygeworde siel die gemoed van die oorlewende sonder ophou martel deur hom te kwel met voortdurende gewetenswroeginge, en tweedens sal sy (die siel) alle aardse omstandighede wat betrekking het op die oorlewende, sodanig lei dat die oorlewende bykans geen sukses meer sal behaal nie.

[11] Dit word alles so deur die Heer toegelaat sodat die beledigde siele die verlangde genoegdoening kan kry, en omdat die oorlewende oneindig veel beter vir sy hoogmoed in hierdie materiële wêreld gepynig kan word as wat, direk na sy liggaamlike dood, tereg sou kom aan die hand van honderdduisende vyandelike geeste wat sekerlik nie met hom, as volslae onervarene in hulle wêreld, vriendelik sou omgaan nie!

[12] Juis daarom is dit so dringend nodig om op hierdie wêreld liefde en ware vriendskap te beoefen, en watter vyand ookal liewer goed as kwaad te doen, en diegene wat my vervloek te seën, want ek is nie by magte om te weet wanneer die Heer hom van hierdie wêreld gaan wegroep nie. As hy in hierdie wêreld oor `n bepaalde klein dingetjie my vyand was, dan sal hy dit later as gees honderdvoudig en in groot dinge jeens my wees.

[13] Dawid was tog vanaf sy jeug `n mens en `n man na JaHWeH se hart. Hy het, teen die Wil van JaHWeH, slegs een enkele mens, naamlik UriJaH, vir homself tot vyand gemaak. En hoe erg het UriJaH se gees nie, met die toestemming van JaHWeH, wraak op Dawid geneem nie! Dit is en bly steeds die onontkombare gevolg van `n vyandige handeling teen die Wil van God in wat `n ander mens aangedoen is.

[14] Ja, dit is heel anders as die Heer Self die opdrag daartoe gee! So was dit toe Hy Dawid beveel het om die Filistyne, wat toe alreeds God- en mensevyande was wat aan die duiwel behoort het, met oorlogsgeweld te tref en op aarde te vernietig. Hulle bevind hulleself toe aan alle kante skielik in `n streng gerig, en kon hulleself nooit as te nimmer weer teen die Arm van God verhef nie, want hulle is deur Homself verneder.

[15] Geheel en al anders is die toedrag van sake met vyande wat jy vir jouself gemaak het sonder `n opdrag van God; miskien deur jou onvriendelikheid, deur jou uiteindelike hoogmoed, of deur die gebrekkige menslike regspleging, waarvan tewens reeds spreekwoordelik gesê word dat die hoogste reg die hoogste onreg is; hulle (jou selfgemaakte vyande) gaan dadelik na die aflegging van hulle liggame jou onversoenlikste vyande word!

[16] As ek dit gehad het, sou ek aan jou `n duisend lewens gegee het as jy my maar een gelukkige mens op die wêreld kon aanwys van wie `n vyand al vroeër na die ander wêreld oorgegaan het. Ek het nog nooit so een gesien nie! Daarenteen is ek bewus van gevalle waar die wraak van `n vyandige gees `n familie tot in die tiende geslag agtervolg het, en ook dat grof beledigde mense na hulle dood as geeste `n land of streek baie jare lank, of soms vir altyd, sodanig verwoes het dat geen mens meer daar kon leef nie. Vriend, hoe ongeloofwaardig hierdie goedbedoelde les ookal vir jou mag klink, dit is `n onomstootlike waarheid! En as dit nie waar sou wees nie, hoe sou ek dit ooit kon waag om dit hier in die teenwoordigheid van die Heer en Sy Engele aan jou oor te dra? As jy tog nog enige twyfel het, vra dan nou die Heer self, die ewige Skepper van alle dinge, en Hy sal volledig getuig of ook maar een van my woorde onwaar was!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205