|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 74
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Moet nooit kwaad met kwaad vergeld nie
74 Direk daarna kom `n taamlike groot bende, met knuppels gewapen, op ons af. In hulle midde is die tien stommes wat die dokter op die eerste aand vanweë hulle lasterpraatjies stom gemaak het. Die bende eis dreigend dat die tonge van die stommes weer losgemaak moet word.
[2] Joram die dokter, stap dadelik na vore en sê met `n vaste, kragtige stem: ”O, julle kinders van die kwaad! Is dit nou die nuwe manier om na God te kom en Hom om barmhartigheid te smeek?”
[3] Die bende tree effe terug en skree: “Wie is God hier, en waar is Hy? Verbeel jy jou miskien dat jyself God is, of is dit dalk die towenaar uit Galilea, die breedgeskouerde godslasteraar!”
[4] Joram sê nou nog heftiger: ” Wie bedoel julle met “towenaar uit Galilea”, julle ellendige skepsels?” Toe roep die hele bende: “Die timmerman uit Násaret wat Jesus heet! - dis wie ons bedoel. Ons ken Hom baie goed, net so goed soos Sy moeder wat nou ook hier is, asook sy broers en susters wat ook hier is. Ons het Sy vader ook geken wat `n jaar gelede oorlede is en dit, na ons verneem, weens verdriet oor sy vrou en kinders wat hom nie wou volg nie, en hom van alle kante sou bedrieg het!”
[5] Joram word nou heeltemal wit van woede oor hierdie skandelike laster. Hy hardloop na My toe, en ook Jakobus en Johannes kom by en sê: “Heer, Heer, Heer! Laat nou tog gou vuur vanuit die hemele op hierdie kêrels val sodat dit hulle verteer! Hierdie ontsettende brutale leuens wat hulle teen ons durf uitspreek, skrei ten hemele!”
[6] Ek sê: “Kalmeer, julle heethoofde, laat hulle lieg! Kan jy jou `n vuur voorstel wat feller brand as die van `n leuen? Wees bowendien nog goed vir hulle - dan hardloop hulle straks met gloeiende kole op hulle hoofde weg. Onthou dit goed - moet nooit sleg met sleg, en kwaad met kwaad vergeld nie!” Al drie kalmeer hulleself nou en Joram vra wat hy met die boewe moet doen.
[7] Ek sê: “Doen in My Naam aan hulle wat hulle vra, en sê dat hulle moet weggaan.” Daarop sê Joram aan die bende: “In die Naam van Jesus - laat elkeen van julle wat stom is, weer praat, gaan huis toe en gee aan God die eer!”
[8] Die woord van Joram maak elkeen wat stom was, se tong weer los, maar hulle gee nie aan God die eer nie, behalwe een. Hy vermaan die ander darem ten minste. Hulle sê egter: “Jou dwaas, het JaHWeH ons dan stom gemaak? `n Towenaar het ons daarmee belas; moet ons nou nog ook die heidense towergod vereer? As ons dit doen - wat kan ons dan van die almagtige, ware God van Abraham, Isak en Jakob verwag?” Toe gaan ook hierdie, ietwat beter een saam met die ander nege weg en durf dit nie om My die verskuldigde eer te gee nie.
[9] Joram en al My ander mense vererg hulle daaroor en Simon Petrus kom ook heel ontstemd na My toe en sê: “Wat U welgevallig is, is natuurlik wel goed Heer, maar as ek ook maar net `n bietjie van U Krag en Mag gehad het, dan weet ek goed wat ek met hierdie dom en boosaardige lasteraars van U Naam, wat vir my so besonder gewyd is, sou gedoen het!”
[10] Ek sê: “Simon, het jy My leer, wat Ek julle op die berg gegee het, al vergeet? Watter goed kan jy bewerkstellig as jy kwaad met kwaad vergeld? As jy `n ete kook, wat op sigself geen smaak het nie, is dit dan verstandig van jou om gal en aalwynsap daaroor te gooi in plaas van om daar goeie sout, goeie melk en goeie heuning by te voeg om dit smaaklik te maak? As jy by `n alreeds goeie gereg iets beters byvoeg, sal niemand tog sê dat jy `n domheid begaan nie; maar as jy by `n alreeds slegte gereg iets slegs byvoeg en dit daardeur nog slegter maak as wat dit is, dan moet jy my dit tog toegee dat elkeen met `n greintjie verstand sou sê: Kyk nou `n bietjie wat die dwaas daar doen!
[11] Kyk, dit is in nog groter mate met mense die geval. As jy hulle kwaad met nog meer kwaad vergeld, vra jouself dan eers die vraag af of hulle kwaad daardeur ooit beter sal word. Vergeld jy die kwaad wat jou aangedoen is egter met iets goeds, dan sal jy daardeur die kwade in jou broer versag en uiteindelik `n goeie broer van hom maak.
[12] As `n meester `n kneg het aan wie hy baie toevertrou, en hierdie kneg daarenteen, omdat hy die goedheid van sy meester ken, sy meester bedrieg en daarom bestraffing verdien; - as die meester die kneg inroep en hom sy ontrou verwyt, en die kneg kwaad word en sy meester `n smadelike teenantwoord gee - sou die meester dan meer goedgesind en saggeaard teenoor die kneg word? Ek sê vir jou, Nee! Die meester sal eerder baie kwaad word vir die trouelose kneg en hom laat boei en in die gevangenis gooi.
[13] As die kneg egter, omdat hy sien dat sy meester hom vir sy ontrouheid wil straf, voor sy meester neerval en vol berou sy misstap erken en sy meester dan in alle liefde en sagmoedigheid om vergifnis van sy skuld vra, sou sy meester dan steeds die kneg in die gevangenis werp? Nee, sê Ek. Deur die berouvolle sagmoedigheid van die kneg, sal die meester self sag en toegeeflik word en sal hy die kneg nie net alles vergewe nie, maar daarby ook nog aan hom goed doen.
[14] Vergeld daarom nooit kwaad met kwaad as julle alles goed wil laat afloop nie. As julle egter diegene wat teen julle oortree, sou veroordeel en straf, dan word julle almal uiteindelik sleg en sal daar in niemand egte Liefde of iets goeds oorbly nie.
[15] Die magtiges sal die reg opeis om diegene wat hulle wette oortree, te straf; die oortreders sal daarenteen wraak besin en probeer om die magtiges tot `n val te bring. Dan vra Ek: Wat goeds kan uiteindelik hieruit voortkom?
[16] Moet daarom niemand veroordeel en verdoem nie, sodat jyself nie eweneens veroordeel en verdoem word nie! Het julle almal hierdie mees belangrike les begryp? Want sonder hierdie lewensreël kan My Ryk nooit in julle `n plek vind nie!”
|
|
|
|
|