|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 233
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Romeinse regspraak
233 Daar word nou vinnig voorondersoeke ingestel en nadat dit spoedig beëindig is, word die twaalf voorgelei. Toe die Hoofregter hulle ondervra, sê hulle: “Ons is ons eie baas en ons het ons regbank in die tempel in Jerusalem; buite God en Sy regbank, is ons oor al ons doen en late aan niemand `n antwoord verskuldig nie, en u kan ons dus vra wat u wil, u sal geen antwoord meer van ons kry nie; want ons staan op wetlike gronde, wat baie stewig is en u kan aan ons niks doen nie.”
[2] Daarop sê die regter: “Vir dergelike weerspannigheid het ek `n middel by my; dit bestaan uit roede en sweep! Dít sal u wel aan die praat kry! Want die reg ken geen klasseverskille nie; voor die reg is almal gelyk!”
[3] Die vernaamste van die twaalf fariseërs sê nou: “O, daardie middele ken ons en ook die krag en die uitwerking daarvan; maar ons ken nog `n ander middel! As ons ons daarvan bedien, en dit doen ons waarskynlik wel, dan is ons wellig die allerlaaste wat u durf bereg! Ken u die beroemde amptelike verklaring van Caesar Augustus, wat hy eiehandig geskrywe het en die priesters van Jerusalem laat toekom het, waarin hy sê:
[4] “Die priesterkaste is die keiserstroon in Rome beter gesind dan al die ander; daarom moet ook al hulle wette en voorregte as geheilig beskerm word. Wee diegene wat hulle aanval! So `n misdadiger moet weens hoogverraad die swaarste straf ondergaan! Hierdie wet geld nou nog net so goed as dertig jaar gelede. As u daar miskien niks van af geweet het nie, dan het ons u geheue nou verfris. Doen nou wat en hoe u wil; dan doen ons wel wat ons wil!
[5] Ons pande is heeltemal volgens wet verkry en niemand kan en mag dit van ons afneem nie. Nou, op hierdie oomblik kan dit wel met geweld gedoen word omdat ons nie sterk genoeg is nie; maar as ons ons pande hier agterlaat, moet ons vrygelaat word en dan weet ons wel hoe om die saak verder te laat behandel!”
[6] Die Hoofregter antwoord: “Die saak waarvoor u hier tereg staan, gaan gladnie oor die pande nie, hoewel u uself voor God en al die eerlike mense daarvan veeleer meester gemaak het deur skandelike roof dan dat u daar ook maar enigsins reg op het. Want ek weet maar al te goed watter voorregte u deur u huigelary by die keiser afgepers het.
[7] As Augustus u geken het soos wat ek u ken, dan sou u egter definitief `n ander getuienis gekry het! Maar helaas het hy homself deur valse skyn laat bedrieg en het hy julle flikkerende lamp aangesien vir die lig van die son en u daarom u voorregte gegee.
[8] Maar dit is nou aan my en aan owerste Cornelius oorgelaat om u in u ware gedaante aan die keiser te openbaar, en dan sal u u voorregte gou kwyt wees! Origens kan u my dreig soveel u wil; want ook ek bevind my op wetlike grond en ons Hoofregters van die land het vanaf kort gelede `n nuwe verordening ontvang met betrekking tot julle intriges, waarvan die keiser nou ook op die hoogte is, en daarin staan uitdruklik vermeld dat ons u baie skerp in die oog moet hou en ek verseker u dat ons Hoofregters die nuutste verordening uit Rome buitengewoon getrou en nougeset nakom, en ons het u al op `n, vir u beslis nie baie vriendelike wyse nie, beskryf! Verstaan?
[9] U suig net soos die Afrika basilisk die onderdane van die keiser die laaste druppel bloed uit, u maak bedelaars van hulle en wat u nog oorlaat, dit gryp die landpagter Herodes, sodat hy al sy duisende hoere vet en oorvloedig kan voer. Maar die arme volk moet in die grootste ellende versmag! Is dit regverdig?
[10] As daar `n god is wat slegs soveel regsgevoel het as ek en soveel liefde vir die volk het as my jas, dan sou dit onmoontlik wees om sulke duiwels soos u en u Herodes nog langer oor die arme mensdom te laat heers!”
[11] “Jy moet jou naaste so lief hê soos jouself!” lui `n morele wet in u boek wat u God u sou gegee het; hoe hou u uself daar egter aan?
[12] Waarlik, die wet wat u altyd met veel ywer navolg, is haat teen iedereen wat u in u weelderige, wellustige lewe nie ten volle wil ondersteun nie! Helaas het u vir daardie doel op slinkse wyse `n voorreg verkry waarop u uself nou beroep om allerlei ongehoorde afpersings te kan onderneem.
[13] Gelukkig het u egter in hierdie geval behalwe u wettig genoemde pand-opeising iets gedoen wat selfs ook opsigtelik nie deur `n aan my bekende wet goedgekeur word nie. Die daad, waarvoor u hier nou alleen tereg staan, heet vernieling van bos. Daaraan het u uself op groot skaal in die pragtige bosse van Kisjonah skuldig gemaak. Hy is `n Griek en `n betroubare onderdaan slegs van die keiser, en sy regte sal deur elke keiser van Rome met `n volle legioen beskerm word as dit ook maar in die minste aangetas sou word, want hy betaal daarvoor jaarliks duisend pond aan die keiser, wat regtig geen kleinigheid is nie.
[14] Oor `n veldlengte van ongeveer vyf uur het u by die aanleg van u geheime smokkelweg, byna duisend pragtige jong seders en `n paar duisend ander mindere soorte ou en jong bome verniel en volgens opgawes van beëdigde taksateurs het u Kisjonah `n skade van meer as tien duisend pond berokken. Nou, hoe gaan u die skade vergoed?”
[15] Die vernaamste fariseër antwoord: “Weet u dan nie dat die aarde van God is, en dat ons Sy kinders is waaraan Hy Sy aarde gegee het? As God Self die reg het om met die aarde te doen wat Hy wil, het ook ons as Sy kinders daardie reg en kan ons met die aarde doen wat ons wil. Ook al het een of ander heidense mag ons dié reg vir `n tydjie ontneem dat sal hy dit tog nie solank besit nie; God sal dit van hulle afneem en weer aan ons, Sy kinders, gee.
[16] Uit die oogpunt van die reg van God, hoef ons geen skade aan die bos te vergoed nie omdat die aarde ons s’n is, en ons daarmee kan doen wat ons wil. Maar tengevolge van die grotere, slegs skynbare, mag wat u Romeine nou wederregtelik oor ons uitoefen, sal ons ons wel verwerdig om tot vergoeding oor te gaan; maar daar kan gerus nege tiendes van die tienduisend pond afgetrek word. Want, dit weet ons wel - ons kan die beste bepaal hoeveel die bome werd was wat ons gevel het, en waarvan ons natuurlik maar `n baie klein gedeelte gebruik het vir die noodsaaklike bou van brûe; en oor hoeveel skade praat ons dan nog? Daar lê nou `n nuwe pad wat die tollenaar Kisjonah baie goed kan gebruik! As hy hom self aangelê het, dan sou dit hom sekerlik duisend pond gekos het; nou kan hy daar `n nuwe tol vestig en dan het hy in een jaar driemaal soveel geïn as wat die hele pad ons gekos het.”
[17] Die Hoofregter sê: “In naam van die keiser en sy wyse wet veroordeel ek u tot daardie skade wat deur beëdigde taksateurs vasgestel is; en omdat u uself as kinders van God al die mag oor die hele aarde aanmatig, waaruit logieserwyse voortvloei dat die keiser onder julle mag staan, waarvan hy tot op hede ook selfs nie sou gedroom het nie, maar waarmee u egter wel, deur so `n skandelike aanmatiging, suiwer majesteitskenners van die heilige persoon van die keiser geword het, tot `n geldstraf van twintigduisend pond, waarvan een derde ten goede kom van Kisjonah, en twee derdes vir die keiser is; tewens word daarby al u pande verbeurd verklaar!
[18] Omdat egter op majesteitskennis die onherroeplike straf van die dood of die ewige verbanning staan, kan u nou kies wat u liewer wil hê, onthoofding deur die byl of verbanning na Europa se ysland! Ek het gepraat in die naam van die keiser en in diens van sy wyse wet! Dit alles moet dadelik ten uitvoer gebring word! Al vergaan intussen die hele wêreld, hierdie reg sal uitgeoefen word!
[19] Kyk, so doen `n Hoofregter van Rome, en hy vrees niemand nie, behalwe die gode en die keiser!”
[20] Vervolgens laat hy homself volgens Romeinse gebruik water bring en was sy hande; `n geregsdienaar breek `n staf in twee en werp dit voor die voete van die twaalf.
|
|
|
|
|