Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 231

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Kisjonah se manne vang rowers en smokkelaars in diens van die tempel

231 Slegs Kisjonah, Baram, JonaEl en Jaïrus saam met die dienaar ArgiEl gaan na buite en Kisjonah kontroleer of alles in sy groot huishouding in orde is. Oral is alles in puik orde, en die tolgaarders en tolbewakers is opgewek en meld aan hulle meester dat daardie nag nog `n belangrike vangs gaan plaasvind wat alreeds aan hulle aangekondig is.

[2] Kisjonah doen naarstiglik navraag na waaruit die vangs sal bestaan en of dit nie dalk armes betref wat hul spaarsame voorrade na die mark bring om daaruit hulle belasting te betaal nie.

[3] Dan sê die hoof van die tolwagters: Heer en gebieder! U weet hoe seer ons al jou regverdige en, vir die arm mense werklik buitengewoon milde, voorskrifte eer en respekteer; maar by hierdie vangs is daar geen sprake van armoede nie, maar van baie skanddade van die kant van die Judese fariseërs en priesters en leviete.

[4] Hulle het vanaf Kapernaum uit na die wye omstreke `n aantal skandelike beslagleggings en afpersings uitgevoer, en vannag rondom die middernagtelikke uur gaan hulle allerlei vee, graan, wyn en al die moontlike gereedskap na Jerusalem bring om daar te verkoop. Maar dit gebeur nie via die amptelike paaie nie, maar langs `n sluipweg wat hulle self deur die gebergte gebaan het.

[5] U weet dat daarvandaan, vanweë die hoë rotse wat met hul hoë en steil wande oor die meer hang, oor land net een begaanbare pad na Sibarah is, waar jou hulptol is wat jy altyd verpag; mens moet dus, as mens regstreeks van Sibarah hierheen wil kom, op die daarvoor aangewese aanlegplek mense, vee en al die ander besittings oor die water laat kom, of mens kan, as die meer rustig is, wat selde die geval is, regstreeks na Pirah vaar, waar ook weer `n tol van u is wat nou vir tien jaar al verpag is.

[6] Om al jou tol egter te ontwyk, het die ryke fariseërs deur heerdiensplig op Samaritaanse grondgebied `n sluipweg deur die gebergte laat maak en via hierdie pad wend hulle vandag `n eerste poging aan.

[7] Ongeveer tweeduisend treë daarvandaan, die dal in na Kana toe, sal hulle die dal kan inkom op die plek waar `n deur ons geboude brug oor die rivier gaan en waar die pad, wat daar al oor jou grond begin loop, oor die rivier gaan en aan die linkerkant van die dal omhoog na Kana gaan; ons het egter al vroeg omtrent tweehonderd goed bewapende opsieners, wagters en geregsdienaars op die beste punte opgestel. Ek sê vir u, vader en meester dat daar geen muis daardeur sal kom nie! Ons sal die oerslegte booswigte wel goed kennis laat maak met God, sodat hulle hulle lewe lank aan Hom kan dink!”

[8] Kisjonah sê: “Dit het julle goed en deeglik georganiseer; julle loon sal nie uitbly nie! Die geld wat die verkopers by hulleself het, word as buit in beslag geneem, en al die vee, koring, meel en gereedskap bly solank hier tot die oortreders presies vertel het van wie hulle dit met geweld afgeneem het, en ons dit hulle dan nougeset weer terug kan gee.

[9] Maar vir die feit dat hulle sonder my toestemming deur my berge en bosse `n pad aangelê het, word hulle deur die Romeinse regter, wat hier in my huise sy kantoor gevestig het, tot duisend pond silwer veroordeel; twee derdes daarvan is vir die keiser en `n derde vir my volgens die plaaslike wet.”

[10] Juis toe kom die Romeinse regter aangeloop en vra wat daar te doen is by die tol, of daar miskien verdagte mense verwag word en of mens militêre hulp nodig het. Die hoof van die tolgaarders herinner die regter egter aan dít wat hy oordag al by hom aangemeld het.

[11] Toe sê die regter: Aha, is dit so! Nou, sorg daar maar voor dat julle die booswigte vang! Ons sal hulle dan hier enkele duidelike lesse gee oor die Romeinse sedes en wette! Die lus sal hulle vir altyd ontneem word om Romeinse onderdane tot die bedelstand te reduseer, sodat hulle nie in staat is om aan die keiser die verpligte belasting te betaal nie, terwyl van die booswigte nooit `n stater los te brand is nie! Die kêrels gee altyd voor dat hulle arm is en begrawe groot hoeveelhede goud, silwer, pêrels en edelstene. En dié van Kapernaum is dit net so goed as die van Gorasin! Nou, reken maar daarop julle spitsboewe, daar sal `n einde aan gemaak word op so `n manier dat julle julle hele lewe lank nog daaraan sal dink!”

[12] Die regter was nog nie klaar gepraat nie, of mens hoor al `n luide geskreeu in die verte uit die dal kom, en die tolgaarder begin van vreugde sy hande te vrywe en sê baie lakonies: “Aha, aha, hulle het mekaar reeds ontmoet; oor `n kwartier sal hulle al hier wees. En nou maar gou al die pikpotte aansteek, sodat dit in die dal ewe lig word as oordag en geeneen van die spitsboewe kan ontsnap nie!”

[13] Nou word daar gou ongeveer veertig groot pikpotte aangesteek sodat die hele omgewing oral helder verlig is, en die aanstekers is nog maar net klaar met hulle werk toe die eerste groep al aankom, bestaande uit twaalf fariseërs wat afgevaardig was om die geroofde goed na Jerusalem te bring en daar te verkoop.

[14] Die forse begeleiers sit die twaalf vasgebinde fariseërs voor die tolboom neer en sê aan Kisjonah: “Heer, hier is dan die hoofverdagtes, vyf uit Kapernaum, drie uit Násaret en vier uit Gorasin! Louter slegte kêrels wat hulle geld werd is! Agter hulle kom nog iets van alles, `n klomp osse, koeie, kalwers, bokke, skape, ongeveer vierhonderd met graan belaaide esels met hulle vullens, eweveel muildiere belaai met wynsakke en nog ongeveer vyfhonderd esels en perde met geboeide pragtige meisies en knape tussen twaalf en agtien jaar oud, wat almal vir die groot mark in Sidon bestem was. Tewens natuurlik `n hele boel dienaars van die twaalf hoofverdagtes! Hulle kom almal dadelik hiernatoe; maak daarom plek, sodat ons alles wat hier hoort, bymekaar kan bring!”

[15] Kisjonah sê: “Maak by die meer maar dadelik die groot skuur vir onderpande oop; daar kan alles onderdak gebring word en gebruik vir die kinders die groot herberg hier bo-op die berg, en sorg daar dadelik voor dat hulle iets te ete en te drinke kry; want die twaalf onmense sal hulle onderweg definitief amper niks te eet gegee het nie. O God, o God, waarom laat u tog op aarde sulke duiwels mag hê oor die arme, vreedsame mensdom?!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205