|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 66
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Genesing van die jiglyer by `n dorpie.
66 Ons stap verder ooswaarts en kom weldra by `n klein dorpie aan wat omtrent twintig veldlengtes van die kasteel af is. Al die inwoners kom ons vrolik tegemoet en vra vriendelik waarmee hulle ons van hulp kan wees. Ek vra hulle egter: “Is niemand hier by julle siek nie?” Hulle antwoord bevestigend, en sê dat daar een is wat erg aan jig ly.
[2] Ek sê: “Bring hom dan hier, sodat hy weer gesond kan word.” Een van hulle sê: “Heer, dit sal te moeilik wees. Hierdie jiglyer is dermate kromgetrek dat hy al byna drie volle jare bedlêend is, en die bed waarop hy lê, kan nie opgetel word nie omdat dit aan die vloer vas is. Kan U nie maar na die sieke toe gaan nie?” Ek sê: “As die bed nie verwyderbaar is nie, rol die sieke dan in `n mat en bring hom hierheen.” Na hierdie raad gaan sommiges vinnig na die huis waar die sieke lê, rol hom in `n mat en bring hom na buite, na My toe in die straat en sê: “Heer, hier is die arme sieke.”
[3] Ek vra die sieke of hy glo dat Ek hom kan gesond maak. Die sieke bekyk My en sê: “U lyk asof U dit kan doen; dit skyn asof U `n ware Verlosser kan wees. Ja, ja ek glo dit!”
[4] Daarop sê Ek: “Nou dan - staan op en loop! Jou geloof het jou te hulp gekom. Maar wees in die vervolg versigtig vir die bepaalde oortreding sodat die jig nie terugkom nie, want dit sal die tweede maal erger wees as die eerste!”
[5] Dadelik staan die sieke op, neem sy mat op en loop. Toe hy sien dat hy heeltemal gesond is, val hy voor My neer, bedank My en sê: “Heer, in U is meer as menslike krag. Geloofd sy die Krag van God in U. O, geseënd is die Liggaam wat U gedra het en nog meer geseënd die Bors wat U gevoed het!”
[6] Ek sê vir hom: “En geseënd is almal wat My woorde hoor, dit in hulle hart bewaar en daarvolgens lewe.” Die sieke vra: “Heer, waar kan mens na U kom luister as U praat?”
[7] Ek sê: “Jy ken mos die owerpriester van Sigar, JonaEl, wat op Gerasim offer? Wel, hy het My Woord in hom; gaan soontoe en leer van hom.” Die geneesde sê: “Heer, wanneer sal ek hom by die huis kry?” Ek sê: “Hier staan hy langs my - vra hom self, hy sal vir jou sê.”
[8] Nou wend die geneesde hom tot JonaEl en vra: “Geagte owerpriester van JaHWeH op Gerasim, wanneer sou ek u kon besoek?”
[9] JonaEl sê: “Tot dusver het jou lewe daaruit bestaan om op die bed te lê en geduldig jou siekte te verdra. Moet nou nie verder jou tyd by die huis mors nie. Gaan vandag nog saam met ons, luister en jy sal genoeg te hore kry en môre sal jy verder hoor wat jy behoort te weet.”
[10] Die geneesde sê: “As ek waardig geag word om met hierdie geselskap saam te gaan, dan volg ek julle met blydskap! Want sien, liewe vriend, as `n mens vir drie volle jare byna ondraaglike pyn op jou bed moes verduur, en nou deur `n ware wonder van JaHWeH, skielik van die kwaal genees is, dan waardeer `n mens gesondheid. Wat `n plesier is dit om regop te kan loop! Daarom sou ek nou graag nes Dawid, dansend en huppelend voor julle uit wou gaan en met `n luide gejuig die groot Goedheid van die Heer loof!”
[11] JonaEl sê: “Gaan heen en doen so, sodat dit wat die Heer geskryf het, voor ons oë in vervulling kan gaan: En die verlamde sal spring soos `n hert.”
[12] Die geneesde gooi sy mat weg, haas hom uit die geselskap na vore, begin te huppel en te juig en laat niemand hom in sy vreugde afskrik nie. So twee of drie veldlengtes verder kom hy die Romeinse huurlinge en geregsdienaars en hulle aanvoerders teë wat deur die Jongmanne van die kasteel van Jaïrus langs `n sypaadjie weggedryf is. Hulle probeer sy blydskap in bedwang bring en vra hom wat hy daar doen. Hy laat hom nie daardeur van stryk bring nie. Steeds huppelende en springende sê hy, asof hy die vraag van die aanvoerder nie gehoor het nie: “As die mens vrolik word, word die vee treurig, want die vee weet dat die mense se vrolikheid hulle dood teweeg gaan bring. Daarom net … Jurahel! Jurahel! - Vreugde vir die mense, droefheid vir die vee op die heide! - Jurahel! Jurahel!” En so gaan die geneesde aan. Vererg verbied die hoofaanvoerder hom om so `n lawaai te maak.
[13] Die geneesde sê egter: “Meen jy om my my vreugde te ontneem? Vir drie volle jare was ek as jiglyer bedlêend. As jy toe na my toe gekom het en gesê het: Staan op en loop; en ek sou op daardie woord so gesond geword het soos wat ek nou is, dan sou ek jou en elke woord uit jou mond goddelik hooggeag het, maar omdat jy nie so iemand is nie en jou mag, vergeleke met die Mag van my nuwe Heer, heeltemal niks is nie, daarom gehoorsaam ek die magtigste Heer - en daarom sê ek nou weer … Jurahel! Jurahel! Jurahel!
[14] Die hoofbevelvoerder gebied hom nou ten strengste om op te hou lawaai en dreig om hom te straf, maar op daardie oomblik kom twee van die Jongmanne na die vrolike man toe en sê vir hom: “Moenie jou vreugde laat demp nie.”
[15] Toe die aanvoerder die Jongmanne herken, gil hy dadelik aan sy nou geheel-en-al ongewapende troepemag: “Vlug! Pasop! Alweer die twee dienaars van Pluto!”
[16] Op hierdie bevel van die hoofaanvoerder draai die hele vanglegioen om en lê rieme neer soos nog nooit tevore gesien is nie. Die geneesde spring en juig nou nog meer en skreeu die vlugtendes agterna: “Jurahel! Jurahel! As die mense vrolik is, is die vee treurig.” Dan kalmeer hy en kom terug na JonaEl toe: “Vriend, as jy dit nie vervelig vind om te praat terwyl jy loop nie, kan jy my nou ietwat meer te wete gee omtrent die nuwe leer van hierdie Heer wat my gesondheid aan my terugbesorg het. As ek so `n leer vir my tot wet wil maak, moet ek dit darem eers ken!”
[17] JonaEl sê: “Wag nog `n bietjie, ons is nou naby `n dorpie wat volgens die Romeinse grondwet selfstandig is - en daar gaan die Heer sekerlik weer tot aksie oorgaan. Kom ons kom ooreen dat jy by ons sal bly tot in die stad, waar jy verblyf kan geniet in óf my, óf IrhaEl se huis vir solank as wat jy wil. Daar sal jy alles leer. Dis nou buitendien nie meer so ver van die stad af nie. Hierdie plekkie waar ons nou by gaan aankom, behoort volgens die nuwe Romeinse regulasies eintlik deel van die stad te wees, maar omdat dit vir hulle `n belangrike fort is, het hulle dit van Sigar geskei, `n wal rondom gegooi en daaraan sy eie naam gegee. Die plekkie is nie groot nie, `n duisend treë sal ons dwarsdeur neem. Daarna gaan ons links en skaars sewe veldlengtes verder sal ons aan die buitewyke van Sigar wees; beoefen nog `n bietjie geduld, want daar sal jou wens vinnig in vervulling gaan.”
[18] Die geneesde sê: “O, by Abraham, Isak en Jakob! As hierdie plek `n Romeinse garnisoen het, gaan dit met ons sleg daaraan toegaan! Die Romeinse veldheer gaan ons mos nie vriendelik ontvang nadat hy `n paar minute gelede so oneervol voor ons op die vlug moes slaan nie.”
[19] JonaEl sê: “Kom ons laat dit alles aan die Heer, wat hier by ons is, oor. Hy sal alles ten goede laat meewerk. Daar sien ek reeds `n afdeling soldate uit die dorpie uit op pad na ons toe. Hulle loop onder `n wit vlag en dit lyk vir my na `n goeie teken.”
[20] Die geneesde sê: “O ja, as dit tog maar nie die gebruiklike oorlogstruuk van die Romeine is nie, want in sulke sluheid munt die Romeinse en ook die Griekse leërs goed daar uit.
|
|
|
|
|