Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 90

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die genesing van die vorsteseun

(En daar was `n vorstelike persoon te Kapernaum wie se seun siek was. Hy verneem dat Jesus uit Judea na Galilea kom en gaan na Hom toe en vra hom, of hy wil kom en sy seun genees; want hy lê op sterwe. Johannes. 4: 47)

90 Toe ons wil vertrek, kom `n man My hardlopend en heeltemal uitasem tegemoet, wat van koninklike afkoms was en `n naaste bloedverwant was van die owerste, wat `n paar dae tevore na Kapernaum gegaan het. Hierdie man het van die owerste gehoor dat Ek van Judea weer na Galilea sou terugkom. Hy het slegs één seun, wat skielik deur `n kwaadaardige koors oorval is en toe die dokter in Kapernaum die sieke sien, besef hy oombliklik dat die seun nie meer redbaar was nie. Die vader van die jongeling was wanhopig en van verdriet weet hy nie wat hy moes doen nie. Toe kom Cornelius, die owerste, na hom toe en sê: ”Broer, daar is nog één moontlikheid! Van hier na Kana neem vir `n goeie loper kwalik `n uur. Daar bevind die beroemde geneser Jesus uit Násaret homself! Ek het Hom Self op my reis hierheen daar aangetref en met Hom gespreek! Hy sal sekerlik nog daar wees; want Hy het my belowe om daarvandaan reguit na my in Kapernaum te kom en my te besoek. Wat Hy belowe, dit doen Hy ook sonder enige twyfel! Omdat Hy egter tot nou toe nog nie gekom het nie, is Hy beslis nog in Kana! Gaan daarom so vinnig moontlik persoonlik daarheen en vra Hom of Hy na jou seun sal kom en hom sal help! En ek staan daarvoor in dat Hy direk sal kom en jou seun sal help!”

[2] Sodra die vorstelike persoon dit van sy broer Cornelius hoor, snel hy in aller yl na Kana en kom dan ook, soos reeds hierbo vermeld, heeltemal uitasem in Kana aan op die oomblik wat Ek die eerste stap vir die verdere reis neem. Kwalik by My aangekom, val hy voor My neer en smeek My om tog so vinnig moontlik saam met hom na Kapernaum te gaan omdat sy enigste seun, wat alles vir hom beteken, al met die dood worstel en daar in Kapernaum geen dokter is wat hom kan help nie. As Ek nie so vinnig moontlik saam met hom sou gaan nie, sou sy seun sekerlik sterwe voordat Ek in Kapernaum kom, as sy seun nie al in die tussentyd reeds gesterwe het nie!

(En Jesus sê vir hom: ”As u geen tekens en wonders sien, glo u nie!”Johannes. 4: 48)

[3] Ek sê: “Kyk, My vriend, dit is by julle `n lastige geskiedenis! Want as julle nie vooraf tekens en wonders sien nie, dan glo julle nie! Ek help in die eerste plek slegs diegene wat glo, ook as hulle vooraf geen tekens en wonders gesien het nie! Want waar Ek onvoorwaardelike geloof teëkom, daar genees Ek ook vas en verseker!”

(Die vorstelike persoon sê aan hom: ”Kom af, voordat my seun sterf!”Johannes. 4: 49)

[4] Toe roep die vorstelike persoon: “O Heer, moenie hier so lank met my praat nie; U sien tog dat ek glo, anders het ek nie na U toe gekom nie! Ek smeek U, o Heer, kom tog onder die dak van my huis en my seun sal lewe! As U egter wag, dan sal hy sterf nog voor U daar is! Ek het baie knegte in diens en as ek aan die een of ander sê: doen dit, of doen dat, dan sal hy dit doen. As ek nie volledig in U glo nie, o Heer, dan het ek een van my knegte na U toe gestuur. Maar omdat ek onvoorwaardelik in U glo, het ek self gekom; want my hart sê vir my: As ek U maar vind en sien, dan word my seun gesond! Heer, ek gee toe dat ek glad nie werd is dat U onder my dak sou kom nie, - maar as U slegs één woord sou wil spreek, dan sal my seun gesond en lewend word!”

(Jesus sê tot hom: ”Gaan heen, u seun leef!” Die man glo die woord, wat Jesus tot hom spreek, en gaan heen. Johannes 4: 50)

[5] Ek sê: ”Vriend, so `n geloof het Ek in die hele Israel nie teëgekom nie! Gaan getroos huistoe; dit sal geskied soos jy glo! Jou seun leef!” - En die vorstelike persoon gaan huilend van vreugde en dankbaarheid huistoe; want hy glo rotsvas in My Woord. Ek bly nou hierdie aand en die volgende dag nog in Kana, dit gee die gasheer groot genoegdoening.

(En reeds terwyl hy afdaal, kom sy knegte hom tegemoet en sê dat sy kind leef. Johannes. 4: 51)

[6] Toe die vorstelike persoon, wat in Kapernaum hoog in aansien staan, omdat hy ten eerste, net soos Cornelius die owerste, verwant was aan die regerende huis in Rome, en ten tweede, dat hy deur Rome as `n hoë amptenaar aangestel was, die stad nader, kom sy baie knegte hom al tegemoet en roep hom al op `n afstand toe: “Heer, u seun leef en is volkome gesond!”

(Toe vra hy aan hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê aan hom: ”Gister op die sewende uur het die koors hom verlaat. Johannes. 4: 52)

[7] Die man val byna flou van blydskap en vra dadelik wanneer hy beter geword het. En die knegte antwoord eenstemmig: ”Gister op die sewende uur van die dag het die kwaadaardige koors hom verlaat!”

(Die vader merk nou dat dit op daardie uur was wat Jesus aan hom gesê het: “U seun leef!”En hy glo met sy hele huis. Johannes. 4: 53)

[8] Toe hy dit van sy knegte hoor, bereken hy dit en stel vas dat dit presies op dieselfde oomblik gebeur het waarop Ek aan hom gesê het: “Jou seun leef.” Rustig loop hy toe verder huistoe. En toe hy daar aankom, kom die owerste Cornelius, saam met die gesonde en opgewekte seun hom tegemoet en sê aan hom: ”Nou broer, het ek jou na die regte geneser gestuur of nie?”

[9] Die vorstelike persoon sê: ”Broer, ja, deur jou raad het jy aan my, my lewe tienvoudig teruggegee! Maar hierdie geneser Jesus uit Násaret is baie duidelik méér as `n gewone geneser, ook is Hy goed met die genees van siektes deur middel van heilsame kruie! - Dink jou dit eers in! Hy sê, sonder om my seun ooit te sien, slegs heel eenvoudig: “Jou seun leef!” en die jongeling word op dieselfde oomblik gesond. Luister goed, dit beteken tog wel iets heel besonders! Ek sê jou: “Dit kan geen mens doen nie, maar kan slegs vir God moontlik wees! En van nou af aan glo ek en ook sekerlik my hele huis dat hierdie Jesus sonder enige twyfel `n ware God is, en dat Hy, vir die verlossing van al die mense in die gedaante van `n mens onder die mense is, en hulle genees en onderrig. As Hy hierheen kom, moet Hy hier as `n God geëer word!”

[10] Cornelius sê: “So ken ek Hom en daar bly ek ook by, maar Hy duld dit nie dat `n mens Hom so ontvang nie!”

[11] Die vader van die geneesde seun sê: “Broer, met so `n baie duidelike bewys voorhande - dink ek - kan mens nooit te veel doen nie!”

[12] Cornelius sê: ”Ek is dit heeltemal met jou eens; maar dit is soos ek gesê het, want hy is `n geswore vyand van openbare en uiterlike eerbetoon. Sover ek uit Sy vroegste jeug weet, heg Hy slegs waarde aan stil en innerlike eerbetoon wat uit die liefde van die hart kom. Maar al die uiterlike verering vind Hy selfs besonder lastig, en as Hy, soos Hy beloof het, hierheen kom, dan sou jy Hom met `n openbare vergoddeliking slegs uit hierdie plek verjaag! Doen dus maar in jou hart alles wat jy wil; en vermy veral al die openbare seremonie. Want ek ken Hom al sedert Sy geboorte in Betlehem en het sedert daardie tyd baie van Hom gehoor en baie self gesien.”

[13] Die vorstelike persoon sê: ”Goed dan, gister het ek in die dag jou raad gevolg en daarom sal ek ook nou in die nag na jou raad luister en dit opvolg!”

[14] (Hier moet na aanleiding van die woord “gister” `n klein verklaring toegevoeg word om haarklowery te voorkom. Dit was naamlik so dat die dag, veral in Galilea, slegs duur tot sonsondergang. Na sonsondergang begin die volgende dag en enkele minute na sonsondergang praat mens van die afgelope dag as ”gister”. Met sonsondergang begin die eerste nagwaak vir die komende dag; `n nagwaak het net so lank soos drie ure by ons geduur, en `n uur in die dag was in die somer byna so lank soos twee ure by ons en in die winter skaars één, want die tyd tussen sonsopkoms en sonsondergang moes altyd twaalf uur duur of die son nou lank of kort aan die hemele staan. As daarom hier gesê word dat die vorstelike persoon in één uur van Kapernaum na Kana gaan, dan sou dit volgens ons tydsberekening neerkom op byna twee volle ure. Hierdie kort toeligting is belangrik, anders sal verskeie voorvalle in die evangelie moeilik begrypbaar wees, omdat die tydaanduiding slegs op die tydberekening van daardie tyd betrekking het en nie op die huidige tydberekening nie.)


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205