|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 196
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Engelewerk. Één engel sorg vir die hele plantewêreld op aarde
196 Toe gaan Kisjonah na die voorraadkamers en kry die hele voorraad melk, kaas en botter, alles ordelik op die presiese plekke gebêre, en hy gaan na die skure en tref hulle vol aan; want ook die ryp koring wat op die veld gestaan het, is ingebring. Vervolgens gaan hy die groot stalle van die bokke, skape en esels binne en vind daar alles goed in orde! Ook gaan hy na sy groot kantoor, kyk in die boeke en vind orals alles heeltemal in orde en hy kontroleer die geldlaaie en sien dat hulle alles vol is; dan haas hy hom na die groot kombuis en vind alles goed en in die korrekte hoeveelheid en verskeidenheid gekook en gereed en hy vra die manlike en vroulike kokke hoe dit alles met hulle werk gegaan het. Maar hulle weet niks anders as om te sê: “Daar kom `n mooi jongeling in die kombuis in en hy sê: “Sit die kos in die bakke; want dit is alles al gereed!” Daarop ondersoek ons die voedsel en dit was net soos die jongeling gesê het, wat ons dadelik weer verlaat het. Proe self die kos en u sal sien dat dit so is!”
[2] Kisjonah proe die kos en stel vas dat sy kokke die reine waarheid gepraat het. Dan gaan hy weer na die groot kamer waar Ek was en die jongeling vra hom: “Wel, Kisjonah, is jy tevrede met my?”
[3] Kisjonah antwoord: “Daar het al baie wonderbaarlike dinge in my huis gebeur; dit was vir my slegs maar te begryp deur in my hart hardop te sê: By God is alle dinge moontlik! Maar tog is dit die onbegryplikste! Om werk, wat andersins `n hele dag se hard werk sou gekos het, deur die magtige hand van mens vervul met God se Gees so te sê in `n oogwink te verrig, dit is nog te begrype; maar dit is baie anders wanneer honderde werksaamhede op ver van mekaar geleë plekke deur `n menslike wese in een en dieselfde oomblik verrig word; dit is vir `n sterflike mens ondanks al sy begrip en sy skerpe verstand beslis nie te begryp nie en ek kan daaroor niks anders sê nie as: Heer, wees my arme sondaar genadig en barmhartig; want ek is dit nooit werd dat U onder my dak kom woon nie!”
[4] Maar Ek sê aan Kisjonah: “Hou eindelik nou op om jou so te verbaas en laat jou mense nou die kos inbring; want ons is almal al behoorlik honger.
[5] As dit jou nou so besonder verbaas, wat sal jy dan sê as Ek jou in alle waarheid sê dat op die hele aarde slegs één engel aangewys is om te sorg vir die groei van al die gras, al die struike en bome, elkeen volgens sy aard, en die voortbrenging van die grootste verskeidenheid van vrugte, en vir al die diere in die water, in die lug en op die grond? Dit sal dan deur jou ook nie goed verstaan kan word nie, maar tog is dit so en gebeur dit so! Wees dus nie so verbaas nie, maar gaan en laat die dienaars ons voedsel bring!”
[6] Dan vra Kisjonah: “Heer, my enigste liefde en lewe, wat sou U daarvan dink om dit toe te staan dat die wonderbaarlike jongeling ons met die inbring van die groot hoeveelheid voedsel sal help; want vir my dienaars vat dit omtrent `n uur!”
[7] “Goed”, sê Ek, ”laat hy jou maar help, maar hou op met jou oormatige verbasing; want jy weet dat by God alles baie maklik moontlik is!”
[8] Met die antwoord is Kisjonah heeltemal tevrede en hy vra aan die steeds baie welwillende, vriendelike, aansienlike, jongeling, om die voedsel uit die kombuis op die tafels wat alreeds gereedgemaak was, te bring.
[9] Die jongeling sê: “Maar nou, beste vriend, moet nie verbaas wees nie! Kyk eers na die tafels! Toe u nog besig was om aan die Heer der Glansrykheid te vra of ek mag help, gebeur dit reeds. Maar waar is jou wyn?”
[10] Kisjonah kyk vlugtig oor die tafels heen en verbaas homself innerlik, maar sê dan: “Werklik, ons sou die wyn haas vergeet het! Wil jy so vriendelik wees om dit ook nog vir my uit die groot kelder te gaan haal?”
[11] “Kyk!”, sê die jongeling, ”Dit is alles al weer in orde, die wyn staan in die presiese hoeveelheid langs die voedsel op die tafels.”
[12] Kisjonah gaan die veertig groot tafels na wat in die groot eetsaal opgestel staan en wat baie goed voorsien was, en daar ontbreek niks: stoele en banke staan mooi opgestel en daar staan voldoende lampe op al die tafels vir die beligting tydens die aandskemering en hulle brand reeds met skoon vlamme en gee `n helder lig!
[13] Wanneer Kisjonah dit alles in homself opgeneem het, raak hy innerlik vol verwondering en sê na `n rukkie: “O God, o God, Jesus, my ewige liefde! As dit so aangaan, verander al my huise hulleself vandag nog en word al die hout en gesteentes daarin nog lewend!” - En hy wend homself tot die jongeling en sê: “Vriendelike jong mens of engel, wat jy ookal is of hoe mens jou ookal kan noem, lê dit tog vir my uit hoe so iets enigsins vir jou moontlik is!”
[14] Die jongeling antwoord: “U is wel baie nuuskierig; ek sê u: Vir my is sonder Hom, wat nou by u in die wêreld woon, niks moontlik nie; Hy is die Een wat al sulke dinge verrig! Hoe Hy dit alles doen, moet u aan Hom vra; want die krag om die dinge te doen is nie van my nie, maar van die Heer wat Sy onderdak by u gekies het. Gaan en vra dit dus aan Hom!”
[15] Kisjonah sê: “Beste vriend, dit weet ek wel; maar ek wil net graag iets weet oor die manier waarop so iets tot stand gebring word. Jy moet tog `n beweging maak? Dit moet dan tog wel baie gou en sekuur gebeur! Want daarmee vergeleke het die bliksem tog baie duidelik `n slakkegangetjie! Ag, ag, ek moet maar net daaraan dink! As jy vir dit alles ook maar `n honderd oomblikke gebruik het, dan was dit alles tog nog makliker te begryp; maar om so - sonder dat dit merkbaar tyd in beslag neem om dit alles te kan doen, en dan ook nog baie ordelik, dit gaan my normale denkvermoë volledig te bowe en daardeur durf ek van pure eerbied en bewondering kwalik meer asem te haal!”
[16] Ek sê aan Kisjonah: “Wel, vriend, is jou verbasing nog nie ten einde nie? Ek dink dat ons nou maar eers aan tafel moet gaan en daarna praat oor die verdere aspekte van die almag van God en Sy meer as duidelike Liefde en Wysheid!”
[17] Kisjonah sê: “Heer, vergeef my! Deur al die verwondering het ek byna vergeet waarvoor die voedsel en drank op die tafels staan; ek nooi U en al die van U uit om aan tafel te gaan! Maar waar is U moeder Maria, en diegene wat met haar saamgekom het en waarvan U sê dat hulle U susters is, dan kan ek hulle laat haal vir die aandete?”
[18] Ek sê: “Vra eers na jou vrou en jou dogters! Waar die is, daar is die goeie Maria ook met die dogters van Josef, wat My aardse pleegvader was. Hulle is nou druk met mekaar besig om vandag nog alles te bekyk waar hulle natuurlik môre, oormôre en daarna nog tyd genoeg voor sou hê! Ons jong en behendige dienaar sal hulle almal wel gaan haal en hierheen bring, wees dus nie besorg nie.”
|
|
|
|
|