Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 120

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Aan die Meer van Galilea:

Die Heer by Matthéüs die tollenaar; gesprek met die sondaars

120 Toe ons `n punt bereik het waar die volk ons nie meer kon sien nie, laat Ek weer na die kus vaar; want dit was al ruimskoots middag en ons het in die skip niks te ete gehad nie. Ons kom ongeveer twee uur na ons vertrek van die vorige huis af weer aan land en moet toe nog `n behoorlike stuk terugloop na `n klein dorpie waar ons middagpouse wil hou.

[2] Maar voor die dorpie is daar `n streekstolhuis. En kyk, daar by die sperboom aan die toltafel sit die jong man (hy was pas vyf en dertig, wat by die Judeërs nog jonk was), wat in die vorige huis as een van die agt broers wat die jiglyer na ons gebring het, sulke wyse woorde gespreek het.

[3] Toe die fariseërs en skrifgeleerdes hom sien, sê hulle: “Dit is nie so goed nie! Hy is sowaar `n Romeinse tollenaar! Hy gaan nou sekerlik `n skrikwekkende tol van ons eis! Wat moet ons nou doen?”

[4] Ek sê: “Bekommer julle nie, want dit is hier nie nodig nie! Ek sal sorg dat dit goed gaan.”

[5] Met hierdie woorde loop Ek op die tollenaar af en sê aan hom: “Matthéüs (so heet hy), laat iemand anders aan hierdie tafel sit en volg jy My!” En dadelik staan hy op, gee die tafel aan `n ander en volg My sonder enige kommentaar. (Matthéüs. 9:9)

[6] Matthéüs sê: “Hierdie keer het die Heer vir julle almal die tol betaal, want Hy het my oom gesond gemaak. Hoe sou ek nou van Hom, die goddelike Heer, tol kan verlang?!”

[7] Die sperboom gaan omhoog en hulle gaan almal daardeur sonder om te betaal.

[8] In die dorp aangekom, bring Matthéüs ons na sy huis, waarin al die tollenaars wat by hierdie belangrike tolhek werk en `n aantal opsieners en ander 'sondaars' - volgens die maatstawwe en die oordeel van die Judeërs, fariseërs en skrifgeleerdes - middagmaal hou. Die huis van Matthéüs was groot, en dit was tewens `n herberg, waarin die Judeërs moes betaal om iets te ete en te drinke te kry, terwyl die tollenaars, opsieners en 'sondaars' nie hoef te betaal nie, omdat hulle in diens was van die huis, wat die tol van die Romeine in pag had.

[9] Ek word dadelik deur al die tollenaars aan tafel uitgenooi en buite kry My leerlinge en ook die fariseërs en skrifgeleerdes voldoende brood en wyn, wat die leerlinge geprys het. (Matthéüs. 9:10) Die fariseërs en skrifgeleerdes egter nie, want hulle was beledig omdat hulle nie, soos Ek, aan tafel genooi is nie.

[10] Terwyl Ek dus alreeds met `n groep tollenaars en sondaars aan tafel sit, kom daar nog `n aantal tollenaars en sondaars in die huis in wat uit ander plekke kom, want die huis van Matthéüs staan in die verre omtrek bekend as baie welgesteld en gasvry en veral op die sabbat kom die manne daar in groot getalle bymekaar. Hulle groet My almal baie vriendelik en sê dat hierdie huis geen groter eer te beurt kon val as dat Ek daar `n gas is nie. En hulle maak die tafel groter en almal kom aan My tafel sit.

[11] Die fariseërs en skrifgeleerdes verdring hulleself intussen voor die groot deur van die huis om te kan sien wat Ek doen en sê. Toe hulle sien dat Ek baie vriendelik met die tollenaars en sondaars omgaan, vererg hulle hulleself innerlik behoorlik en vra aan My leerlinge wat buite by hulle was: “Waarom eet julle Heer eintlik saam met tollenaars en al daardie onmiskenbare sondaars? Hoort hy heimlik miskien daarby?” (Matthéüs. 9:11)

[12] Omdat Ek die vraag hoor, rig Ek My vanaf die tafel tot hulle daarbuite en sê kort en vriendelik: “Die sterk en gesondes het die dokter nie nodig nie, maar wel die siekes! (Matthéüs. 9:12) Gaan egter heen en leer wat dit beteken:

[13] ‘Ek verheug My oor barmhartigheid en nie oor offers nie!’

[14] Want Ek het gekom om die sondaars tot boetedoening aan te spoor - en nie vir die vromes wat die boetedoening nie nodig het nie!” (Matthéüs. 9:13)

[15] Die fariseërs en skrifgeleerdes lê hierdie woorde ten gunste van hulleself uit en sê verder niks meer nie; want hulle voel hulleself daardeur gevlei.

[16] Ek praat daarna met die geselskap in allerlei gelykenisse waarin die menslike lewe in sy swakhede en die uit hierdie swakhede maar al te dikwels voortkomende verdorwenheid heel duidelik en tasbaar voorgestel word. So gee Ek hulle ook duidelike reëls vir die juiste opvoeding van hulle kinders en laat hulle sien hoe `n slegte opvoeding op die lange duur al die moontlike kwale, sowel geestelik as liggaamlik, tot gevolg sal hê.

[17] Ook lê Ek aan die geselskap uit waarom God die mens geskep het en hoe die mens as `n vry wese uit homself in volle vryheid dít tot stand moet bring waarvoor God hom geskape het, naamlik om daardeur `n volmaakte, onverganklike geestelike wese te word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205