|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 180
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Die goeie plan van die jong fariseër
180 Hierdie plek was origens beroemd, omdat haar inwoners oor die algemeen so skerpsinnig was. Jy moet wel skerp wees om teen hulle, veral die Grieke, te kan staan; en daarom wis die fariseërs wat met die volk sleg geredetwis het en wat hier gewoon het, dit baie goed. Hulle gee dan ook daarop min antwoord en gaan huistoe. Maar tuis pynig hulle hulle breins des te meer oor die vraag hoe hulle My hier verdag kon maak of selfs heeltemal in die verderf kon stort.
[2] Een van hulle, ietwat beter as die ander, sê ten slotte toe die oorleg vir hom te lank geduur het: “Broers, julle hoef julle nie aan my te steur nie, maar ek vind dat ons nou moet gaan slaap, sodat ons hoof en ons hart môre weer fiks is. Wat het ons op die oomblik met al die gebroeiery en gedinkery? Môre is nog `n dag. Laat ons afwag wat dit sal bring, dan sal ons met die hulp van JaHWeH helderder sien hoe dit met hierdie vreemde persoon gesteld is. Dit ly nie die geringste twyfel dat daar iets buitengewoons aan Hom is nie; want die genesing van die besetene aan die oewer, selfs vanaf die skip sonder om hom ook maar in die minste aan te raak, is `n gebeurtenis wat na my wete nog nooit vroeër plaasgevind het nie!
[3] Laat ons dus maar afwag wat môre nog alles sal volg en daardeur sal ons makliker in staat wees om daaroor `n volkome oordeel te vorm. Want om Hom nou al heeltemal blindelings te veroordeel, dit sou `n bietjie te gewaagd wees, veral noudat ons volk so opgewonde is en hulle al lankal meer rig op die Grieke as op ons, wat al lank vir hulle `n doring in die vlees is. Laat julle daarom lei deur my goeie insig. Môre is `n dag wat vir ons miskien veel gunstiger kan word as wat vandag die geval was!”
[4] Dan sê `n ander: “Wat doen ons dan met die belediging wat die volk ons aangedoen het? Moet ons nou ook rustig daarmee gaan slaap en heeltemal geen grys hare daarvan kry en dit vergeet, asof dit nooit gebeur het nie? Moet ons geen regverdige straf daarvoor gee nie?”
[5] Maar die beter een sê: “Laat dit deur hulle afkoop, as jy kan! Of roep die boosdoeners vandag nog of môre vir verantwoording, as jy daar `n moontlikheid voor sien. Wat kan jy as één doen teen baie? Dit lyk my voorlopig nog die beste om daaroor te swyg. Maar as jy al vooraf iets daaroor wil doen, dan is daar niemand wat jou sal terughou nie; maar wat my betref wag ek eers alles maar eers af en daarna doen ons wat nodig is. Laat die appel aan die boom eers ryp word, as jy nie `n suur appel wil byt nie! Begryp jy my?”
[6] Na hierdie woorde van die enigsins beter fariseër, wat nog jonk en lewenslustig was en daarom nie soveel solidariteit met die ou geldwolwe getoon het nie, gaan alle fariseërs en skrifgeleerdes slaap, maar gee nog wel een van hulle dienaars opdrag om wag te hou, sodat hulle hulle die volgende oggend nie sou verslaap en daardeur die eerste handelinge van die towenaar sou mis nie.
[7] Maar die ietwat beter fariseër gaan, nadat alle andere, insluitend die man wat wag moet staan, almal vas slaap, na buite en dink by homself hoe hy die slegte planne van die oudstes kon verydel. Hy dink: “As ek hierdie Wonderdoener maar net kon bereik, dan sou ek Hom wel goed kon adviseer op welke manier Hy, ongehinderd deur my kollegas, Sy genesings kan uitvoer! Maar hoe kom ek by Hom? Die opgewonde volk omring die huis en soos ek dit sien, word siekes al daarheen gebring en gedra; dit sal môre `n groot gedrang wees waardeur nie te kom is nie. Maar ek weet wat ek gaan doen! Ek gaan nou na die volk en sê hulle sonder omweë wat ek daarvan dink en laat hulle sien dat ek self `n vyand is van die ou geldyweraars en dat ek die Wonderdoener iets duidelik moet maak, omdat Hy anders Sy genesings kwalik sal kan uitvoer. As die volk dit aan my wil toestaan, dan is dit goed, en as hulle dit nie aan my wil toestaan nie, nou, - dan het ek vir my gewete tog gedoen wat ek kon.”
[8] Met sulke gedagtes gaan hy terug na die volk, wat hom in die maanligte nag maar al te gou herken as die aan hulle bekende jong rabbi.
[9] Die Grieke wat vroeër ook Judeërs was, kom hom direk tegemoet en vra heel nors wat hy daar op die tydstip soek en of hy `n spioen is. Maar hy sê op vertroulike toon: “Beste manne en vriende! Ek dra wel die kleed van `n fariseër en soos julle weet is ek ook inderdaad `n egte fariseër; want as eersgeborene van `n ryk huis in Jerusalem was ek verplig om dit te word, wat my nie so gewetensvolle ouers wou. En so is ek wel uiterlik een, maar in my innerlike is ek nog minder fariseër as julle almal, hoewel julle nou Grieke is.
[10] Die rede en die bedoeling van my koms is heel eenvoudig die volgende: julle ken my kollegas net so goed soos ek en julle weet watter regte hulle hulleself almal aanmatig. Hulle is teoloë en niemand behalwe hulle mag iets van die Skrif verstaan nie, alhoewel hulle, onder ons gesê, waarskynlik van alles meer verstaan as dan nou juis van die Skrif; maar hulle is daarvoor deur die tempel uitverkore en hulle vermeende regte oefen hulle daarom uit en julle kan niks daarteen doen nie.
[11] Tewens is hulle dokters en duld om daardie rede nie dat `n vreemde deur sy kundigheid maak dat hulle inkomste verminder word nie; ook hiervoor het die tempel hulle voorregte gegee en hulle weet om vir hulle regte op te kom en daaraan kan julle niks doen of teen uitrig nie.
[12] Ook is hulle in spesiale, deur Moses bepaalde gevalle, regters en meester oor lewe en dood van hulle ondergeskiktes en daardie reg kan hulle uitoefen, waar, wanneer, en op watter manier hulle ookal wil en hulle hoef nie daarvoor verantwoording te doen nie; hulle hoef slegs elke jaar een lys na Jerusalem te stuur en meestal word hulle geprys as hulle naas die jaarlikse pandbedrag, wat hulle vir die sinagoge en skool aan die tempel moet afgee, `n behoorlike uitgebreide lys stuur van diegene wat hulle veroordeel het.
[13] Want al die ampte word sedert lankal deur die tempel vir die duur van die lewe verkoop of verpand; in hierdie plek is julle slegs paghouers (huurders) en ek is selfs `n onderpaghouer (subhuurder).
[14] Ek kan julle wel sê dat die tempel baie geld vra vir so `n sinagoge en skool! En om julle so duur as moontlik te laat betaal, gee die tempel daarby allerlei vasgelegde voorregte, waarop die pagters wat die wet agter hulle het, hulle nie so maklik laat uitoorlê nie.
[15] Natuurlik kan jy koper of pagter van `n sinagoge of skool word, as jy eers in die tempel onder allerlei sware eedsweringe ingewy is tot fariseër; maar as jy eenmaal `n fariseër is, dan is dit baie moeilik om geen fariseër meer te wees nie!
[16] Hoewel `n egte Judeër walg van die bedrieëry van die tempel, is dit nou eenmaal selfs deur die staat erken en goedgekeur en julle kan niks daarteen uitrig nie. Ek sou julle nog veel meer kon vertel, maar dit is voldoende om dit vir julle uit te lê, sodat julle kan sien watter regte die fariseërs het, waarteen voorlopig met geweld helaas niks gedoen kan word nie.
[17] As ek die ou, wraaksugtige kollegas ter wille van die goeie saak nie gesus het nie, dan sou julle nou al in baie moeilike omstandighede verkeer het; want hulle wil al `n legioen uit Kapernaum laat kom en het die hele huis aan die gereg oorgelewer! Ek is dus julle vriend en geen vyand nie en nog minder een sluwe, vyandelike spioen! Julle moet my net nie verraai nie. As julle goeie raad van my wil aanneem, luister dan geduldig na my!”
[18] Die drie sê: “Jy blyk te vertrou te wees; praat dus en sê wat ons moet doen. Maar waag dit veral nie om ons te bedrieg nie en om ons om die bos te probeer lei nie; want daarvoor sal jy met jou lewe boet!”
[19] Die jong fariseër antwoord: “Daarvoor is ek nie bang nie en al het ek `n honderd lewens gehad, dan staan ek met al die lewens in vir die waarheid, dat ek dit heeltemal eerlik bedoel! Luister nou: Julle weet dus dat dit vir die fariseërs eintlik oor niks anders gaan as oor hulle gepagte inkomste nie. Gaan dus môrevroeg na hulle toe en spreek met hulle `n bepaalde bedrag af waarvoor hierdie aanwesige Wonderdokter môrevroeg die siekes van hierdie plek sonder moeilikheid kan genees en die ou geldhandelare sal julle sonder enige besware toestemming gee; en wil of kan julle hulle die geld nie direk gee nie, beloof dit tog vir hulle en dan sal hulle ook gelukkig wees!
[20] Ek sou slegs hierdie Wonderman wou adviseer dat hy in die eerste plek na die genesing van die siekes hierdie plek liewer dadelik verlaat, omdat die na geld dorstende fariseërs andersins ook moontlik julle dadelik vir nog meer konsessies sou laat betaal; en in die tweede plek wil ek julle vooraf waarsku dat Hy nie, wat die wonderdokters gewoonlik doen, Homself as profeet moet voorstel en die volk ook geestelik bewerk nie; daarteen is ek nie, maar die oues is op daardie punt, veral hier, vanweë julle Grieke, baie onverdraagsaam.
[21] En ten slotte moet die volk nie in die teenwoordigheid van die ou jakkalse uitroepe maak tot die Seun van Dawid nie, want dit is vir my ou kollegas die allerverskriklikste! As julle daarop let, dan kan - wat ek van ganser harte hoop - alles in stilte en rus verloop, maar anders sou dit egter wel tot `n herrie en `n skelpartytjie kon kom!”
|
|
|
|
|