|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 191
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Die gelykenis van die saaier
191 Toe ons almal op die skip was en die trap opgestap het, sê Ek aan die volk dat hulle hulleself rustig moes gedra en vir hulleself op die oewer `n plek moes soek. En die volk word rustig en stil en soek vir hulleself `n plek aan die oewer; slegs die ou fariseërs gaan nie sit nie, maar staan naby die oewer in die omgewing van hulle skip; want hulle was van plan om My steeds in die oog te hou en het daarom ook voorbereidings getref om ons op die water te agtervolg.
[2] Ek gaan op die baie ruim dek van die skip sit en begin een en ander in beelde aan die volk te vertel. Waarom Ek in beelde gepraat het, was om te verhoed dat die domme fariseërs dit sou begryp. Maar die volk, wie se gees in die opsig wakkerder was, begryp wel wat Ek hulle vertel.
[3] Eerstens vergelyk Ek Myself met `n saaier en sê: “Hoor en luister goed!
[4] `n Saaier gaan om goeie en gesonde koring te saai. (Matthéüs. 13:3) En terwyl hy saai, val daar `n deel op die pad; toe kom die voëls en pik dit op. (Matthéüs. 13:4) `n Deel val op rotsagtige grond waar nie veel grond lê nie en dit ontkiem gou, omdat daar min drukkende grond op die saaisel lê; (Matthéüs. 13:5) maar toe die son opkom en fel begin skyn, verwelk die kiem wat in die koel en vogtige nag gou opgeskiet het, omdat dit geen wortels gehad het nie en verdor. (Matthéüs. 13:6) `n Deel val tussen die dorings en dit groei veel groter uit as die gewas en verstik dit. (Matthéüs. 13:7) En ten slotte val `n deel op goeie grond en dra vrug, `n deel honderdvoudig, `n deel sestigvoudig en `n deel dertigvoudig. (Matthéüs. 13:8) Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” (Matthéüs. 13:9)
[5] Ek wou die toespraak nie hier onderbreek het nie, maar omdat die leerlinge sommige van die beelde self nie begryp het nie, kom hulle na My toe en sê: “Waarom praat U nou skielik met hulle in gelykenisse? (Matthéüs. 13:10) Ons wat al so lank by U is, begryp dit kwalik; hoe sal die luisteraars aan die oewer dit dan kan begryp? Sien U dan nie hoe hulle hulle skouers ophaal en dat `n aantal selfs dink dat U hulle as mal beskou, of dat U dalk oor sulke oninteressante dinge praat vanweë die fariseërs, want elkeen weet tog goed dat jy `n gewas nie op `n pad, of op klippe en net so min tussen die dorings moet saai nie! Ons begryp wel wat U daarmee bedoel; maar hulle op die oewer dink helaas dat U hulle vir die gek hou! Of wil U hulle dan egter op `n manier les gee dat hulle dit nie begryp nie?”
[6] Ek sê aan die leerlinge: “Waaroor het julle dit en waarom steur julle My? Ek weet waarom Ek met die volk in gelykenisse praat en dat hulle dit nie sal begryp nie! Dit is aan julle gegee om die Ryk Van God te begryp; maar aan hulle is dit nie gegee nie (Matthéüs. 13:11); want weet goed dat dit so is: wie het, soos julle, aan hulle word gegee sodat hulle dan in oorvloed sal hê; maar wie nie het nie, van hulle word ook nog afgeneem dit wat hulle het! (Matthéüs. 13:12) Daarom praat Ek as Heer met hulle in gelykenisse; want met siende oë sien hulle nie en met horende ore hoor hulle nie; want hulle begryp dit nie! (Matthéüs. 13:13)
[7] Wat doen Ek hier, en wie dink hulle wie is Ek? Hulle is almal blind en doof. Hulle ewebeeld het julle gister gesien in die blinde en tewens stomme man wat Ek genees het. Soos hulle liggaamlik is, so is hulle ook geestelik en Ek praat met hulle in gelykenisse sodat die voorspelling van JeshaJaH deur hulle vervul moet word wat so lui: “Met die ore sal hulle dit hoor en tog nie verstaan nie, en met siende oë sal hulle dit sien en daarby tog niks waarneem nie! (Matthéüs. 13:14)
[8] Want die hart van hierdie volk is eiesinnig en hulle ore hoor sleg en hulle oë sluimer om te voorkom dat hulle miskien met hulle oë sou sien, met hulle ore sou hoor, met hulle hart sou begryp en hulleself sou bekeer en Ek hulle dan waaragtig sou kon help!” (Matthéüs. 13:15)
[9] Maar verlos is julle oë wat sien en julle ore wat hoor! (Matthéüs. 13:16) Want voorwaar, Ek sê vir julle: baie profete en regverdiges het gewens om die dinge te sien en te hoor, wat julle sien en hoor en het dit tog nie gesien en gehoor nie! (Matthéüs. 13:17)
[10] Ek het julle egter vroeër gesê dat dit aan julle gegee is om die geheim van die Ryk van God te verstaan; tog merk Ek dat julle begrip in die grondbeginsels van die saak nie veel beter is as die van hulle op die oewer nie. Hoor dan en luister dan na die gelykenis van die saaier, wat soos volg uitgelê moet word: (Matthéüs. 13:18)
[11] As iemand die woorde oor die Ryk van God wat Ek uitspreek, wel hoor, maar in sy hart nie begryp nie, omdat die hart van pure wêreldsheid net so platgetrap is soos `n pad, dan sien die bose maar al te gou dat die blootgelegde woord nie in die grond geval het nie, maar geval het op die vasgestampte, wêreldse gladde buitekant van die hart en gryp hy dan met gemak weg wat eintlik in die hart gesaai is, maar tog op die wêreldse gladde buitekant bly lê het en so `n mens word dan soos die pad waarop die saad, oftewel My woord, val. (Matthéüs. 13:19) En daar aan die oewer staan daar baie sulke mense!
[12] Die saad wat op die rotsgrond val, beteken die volgende: `n Mens hoor die woord en aanvaar dit met baie vreugde. (Matthéüs. 13:20) Maar omdat so iemand net soos `n klip te min lewensvog bevat, waarmee `n moedige hart bedeel word, en ook te min grond oftewel vaste wil in en bo homself het en daarom ook net soos `n klip afhanklik is van die weer of dit vogtig of droog is, en dus `n speelbal van die weer is, vererg hy homself baie en word kwaad as hy allerlei ellende en vervolging ter wille van My woord moet ondergaan (Matthéüs. 13:21) en vergelyk hy juis daarom met `n klip wat deur die son verhit is, waarop My woord natuurlik geen wortel kan skiet en ten slotte heeltemal moet verdor.
[13] En kyk, daar aan die oewer staan baie sulke klippe, wat nou ter wille van My baie kwaad is vir die slegte fariseërs. Hulle sien nou egter tydens My woorde wat aan hulle gerig is, dat daar bo hulle hoofde allerlei ellende en vervolging saampak. Deur te veel ergernis enersyds en te veel vrees andersyds maak hulle nou My woord in hulle hart dood, want ondanks al die tekens wat hulle gesien het en ondanks al My uitdruklike versekerings glo hulle tog nie dat Ek voldoende magtig is om hulle te beskerm teen al die kwaad nie. Sodoende lyk hulle soos die klip waarop die saad val.
[14] Die saad wat tussen die dorings val beteken dat `n mens die woord hoor en ook aanvaar; maar daarby is hy besig met allerlei wêreldse sake en die daarby behorende sorge vanweë bedrieglike winste of die nog meer bedrieglike rykdom. Sulke ydele sorge hoop hulleself van dag tot dag op, tier soos al die onkruid welig in die hart voort en verstik maar al te maklik en al te gou My gesaaide woord. (Matthéüs. 13:22)
[15] En kyk, weer staan daar aan die oewer baie van die wat lyk soos die dorings, waartussen die saad val!
[16] Die in die goeie aarde gesaaide saad beteken egter dat `n mens My woord hoor en dit opneem in die grond van sy hart, die enigste plek waar dit altyd heeltemal korrek en lewend begryp kan word; so `n mens lyk dan soos die goeie grond waarin die saad val en afhanklik van die wil en die krag van die mens honderdvoudige, sestigvoudige of dertigvoudige vrug dra aan goeie werke. (Matthéüs. 13:23) En daarby beteken honderdvoudig iemand wat alles vir My doen, en sestigvoudig iemand wat baie vir My doen, en dertigvoudig iemand wat `n gedeelte vir My doen.
[17] Daar is dan ook drie hemele in My ryk: die boonste vir die honderdvoudige vrug, daaronder die vir die sestigvoudige vrug en die onderste vir die dertigvoudige vrug. Minder as dertigvoudig tel nie meer nie en wie minder as dertigvoudig het, raak dit kwyt aan diegene wat dertig-, sestig- en honderdvoudige vrug het. So word dus geneem van diegene wat nie het nie en toegevoeg aan diegene wat reeds het, sodat hy dan oorvloedig het!
[18] En kyk, daar aan die oewer staan baie van wie daar nou al geneem is, en dit is aan julle gegee terwyl julle tog al baie het, terwyl hulle te min of niks het nie!
[19] As iemand `n akker het wat vir hom baie vrug oplewer omdat die grond goed is, maar ook `n akker het wat ondanks al die bemesting skraal bly en kwalik meer vrug oplewer as wat daarop gesaai word, - vra dan jouself af wat die eienaar sal doen? Wel, hy sal die geringe opbrengs van die skraal akker neem en by die goeie en oorvloedige vrug van die goeie akker sit en hy sal die jaar daarop nie meer saai op die skraal akker nie, maar alles saai op die goeie akker! Dit sal dan die volle oes gee, maar die skraal akker sal prysgegee word aan die onkruid, die dissels en die dorings.
[20] So pas `n verstandige meester van sy huis dit aan; moet die Vader in die hemele dan minder verstandig handel as `n verstandige mens op die verganklike aarde?
[21] Dink daarom nie met jou hart dat die Vader in die hemele onregverdig kan wees nie!
[22] As jy weet dat `n mens slegs by diegene raad vra wat wysheid het en homself vinnig afwend van iemand wat gou laat blyk dat hy slegs `n praatjiesmaker is, dan is die vraag: doen `n mens `n onreg as `n mens die geloof in die praatjiesmaker opgee en dit oordra op die egte wyse, wat tog van alle kante vertroue al in oorvloed geniet?
[23] Of doen julle as My leerlinge `n onreg as julle My volg en die tempel, die fariseërs en al die skrifgeleerdes verlaat en daardeur die laaste vonkie vertroue wat julle in hulle gehad het, by hulle wegneem en dit aan My gee, terwyl Ek deur My dade en woorde tog al soveel vertroue besit? Ek dink dat dit nou wel vir julle duidelik is dat daar absoluut geen onreg plaasvind as, soos Ek julle vertel het, eenmaal van diegene wat nie het nie, wat Ek julle met die getal aangedui het, ook dit wat hy het afgeneem word.
[24] Ek praat egter slegs met betrekking tot die gees en nie oor materiële sake nie, want dit sou wel onregverdig wees as `n mens by die weinig besittende hul kleine besit sou wegneem en dit aan `n ryke sou gee, wie se voorraadskure en kamers tog al te vol is. Daarom het alles waaroor Ek nou praat slegs betrekking op die gees en nooit op die materie nie, waarvoor geen ander wet kan en mag geld as die van die onwrikbaarste “moet” nie, totdat die tyd sal aanbreek dat die materie eendag ontbind sal word. Is dit nou duidelik?”
[25] Almal antwoord: “Ja, Majesteit en Heer; want U Wysheid gaan al ons nog so hoë en wyse gewaande gedagtes ver te bowe! Daarom vra ons U of U nie op die manier verder wil praat nie!”
|
|
|
|
|