|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 84
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Einde van die tweede dag in Sigar
Die reis na Kana in Galilea
Na Galilea. Die sonsverduistering
84 Ons gaan egter verder en kom teen sonsopkoms by die grens van die land van die Samaritane en betree toe die land van die Galileërs, waar ons op `n onbeboste helling, op `n mooi begroeide grasveld, `n noodsaaklike ruspouse hou.
[2] Almal is vol lof oor die pragtige uitsig en die skrywer Matthéüs sê: “Heer, as die mense in al hulle doen en late deurdrenk was van U leer, dan sou `n land soos hierdie werklik mooi genoeg wees om as hemele vir die mense te dien! Maar as ek daaraan dink dat die mense grotendeels nog erger is as die mees verskeurendste en bloeddorstigste diere, dan sou ek hier juis JaHWeH God kon verwyt, omdat Hy hierdie aarde so pragtig gevorm het vir so `n slegte volk!”
[3] Ek sê: “Die verwyt tref dus vir My, want die Vader en Ek is Één! Want die Wysheid van die ewige Seun, wat eintlik die Wysheid van die Vader is, maak die groot Skeppingsplan, en die Liefde van die Vader voeg daaraan die groot “laat dit wees” toe, en so ontstaan hierdie aarde, die son, maan en sterre!
[4] Maar ook die mense wat hierdie aarde bewoon, is deur My geskape, en hulle sal en moet nou verander word!
[5] As die saak nou so staan, hoe kan jy My dan verwyt? En daarby is hierdie aarde ook nie so mooi as wat jy dink nie; die hele landskap wat jy hier sien, lyk slegs maar op `n afstand lieflik. Gaan maar heen en jy sal weinig of selfs heeltemal niks moois of bekoorlik aan en in hierdie landskap vind nie, behalwe hier en daar `n boom of selfs `n tuin wat deur mensehande aangelê is, en daarin miskien `n paleis van `n ryk mens! Noem jy sulke dinge dan ook nog mooi en heerlik?
[6] Kyk op na die son; daar is `n ander landskap! `n Woestyn daar is heerliker as `n paradys hier! Want as die landskappe van die aarde slegs maar deur die lig van die son mooi, heerlik en vriendelik daar uitsien, omdat die aarde sonder die lig van die son `n tranedal en `n dal vol verskrikkinge sou wees, hoeveel glansryker moet die landskappe van die son self dan wees, as jy dink dat die aarde haar dowwe glans ontleen aan die glans en prag van die son!”
[7] Matthéüs sê: “Heer, wat sê U? Is die son ook `n groot wêreld, en is `n woestyn daar onuitspreeklik glansryker as `n paradys hier? Kyk tog na die groot aarde en na die onbeduidend klein glansende skyf van die son! Hoeveel keer sou dit op hierdie vlakte inpas waarna ons hier kyk en dit is sekerlik `n klein deeltjie van die hele aarde, en hoeveel maal sou dit dan op die hele aarde inpas?!”
[8] Ek sê: “Kyk, dit staan so: As Ek oor aardse sake met julle praat, dan begryp julle dit nie; hoe kan jy My dan begryp as Ek met julle oor hemelse dinge praat? - Kyk en probeer om dit te begryp!
[9] Daar in die rigting van die suide staan `n seder aan die buitenste rand van die bergketting; vergelyk sy skynhoogte met die hoogte van `n pol gras hier, wat maar net `n handbreedte hoog is en jy sal sien dat hierdie graspol, as jy haar voor jou gesig hou, skynbaar baie hoër in die lug oprys as die verre seder, wat in werklikheid verskeie honderde keer hoër is as hierdie graspol! Wel, dit word veroorsaak deur die afstand! As jy goed kan loop dan sal jy die seder binne tien uur bereik. Soveel invloed het die tien uur op die indruk wat jou oog daarvan kry!
[10] Dink nou aan die afstand na die son vanaf hierdie aarde! Sien, as `n voël teen die hoogste spoed na die son gevlieg het in die tyd van die skepping van Adam, dan was hy nou nog nie daar nie, en het hy nog etlike jare om te vlieg! As jy dit kan begryp, dan mag jy wel begryp hoe die son, wat duisend maal duisend keer groter as die aarde is, hier so klein voorkom!”
[11] Matthéüs, gans oorbluf oor so `n afstand en so `n grootte, sê: “O Heer, indien so, hoe kan U van hierdie aarde af so `n wêreld bestuur en onderhou?”
[12] Ek sê: ” Ja sien, wat jy dink onmoontlik is, dit is – hier tussen ons gesê – vir My heel maklik moontlik! Tans kan jy dit nog nie insien nie; maar daar sal `n tyd kom dat jy dit alles sal kan insien.
[13] Omdat jy egter sien dat Ek deur die Mag van die Vader in My ook op hierdie oomblik tot aan die son kan reik, moet jy nou oplet! Ek sal die son nou vir `n paar oomblikke bedek, sodat niemand op die hele aarde haar sal sien nie, en dan sal dit vir jou daardeur duidelik word dat Ek ook vanaf hierdie aarde tot die son kan reik!”
[14] Matthéüs sê: ”O Heer, moet dit tog nie doen nie, want dan sal die mense verstar van angs!” - Ek sê: ”Wees jy maar oor ander dinge besorg! Die mense sal dink dat dit `n gewone sonsverduistering is, wat op `n heel natuurlike wyse voorkom - en binne `n paar oomblikke het hulle die son weer terug. Let nou op!” Matthéüs sê `n bietjie angstig: ”Heer, moet almal hier aanwesig nie daarop gewys word nie?” Ek sê: “Laat hulle slaap en uitrus! Dit is voldoende dat net jy dit meemaak, want `n skrywer moet meer weet as diegene wat voorlopig nie bestem is om te skryf nie! - Let nou op, Ek sê nou: son, verberg jou aangesig vir sewe oomblikke vir die hele aarde!” Op dieselfde oomblik word dit stikdonker; slegs `n paar eerste sterre is swak sigbaar.
[15] Matthéüs bewe van angs en sê: ”Heer, Almagtige! Wie kan naas U bestaan, as U goddelike Arm in één oomblik so eindeloos ver reik?” -Kwalik het Matthéüs hierdie paar woorde uitgespreek, of die son skyn alweer in haar volle glans en My Matthéüs haal weer vryer asem, - maar kan egter van verbasing geen woord uitkry nie. Na `n geruime tyd kry hy `n bietjie moed en sê: “Nee Heer, dit begryp ek nie! U Mag moet oneindig wees! Maar spaar ons, o Heer, in die toekoms van sulke verskriklike bewyse van U Almag; want anders sal almal in `n kort tydjie versmag en ten gronde gaan!”
[16] Ek sê: ”Bekommer jou maar oor iets anders! Het daar nou iemand ten gronde gegaan?! `n Bietjie angs doen die sondige mens nie skade nie. Nou egter, maak die slapendes wakker! Want ons moet nou verder gaan! Maar vertel vir niemand nie, ook nie in die toekoms van hierdie gesigte en tekens nie!” – Daarop maak Matthéüs die slapendes wakker, en ons reis verder, van nou af gaan dit bergaf en daarom ook vinniger as wat dit voorheen bergop gegaan het.
|
|
|
|
|